Mev Motshwane (uitgespreek soos die omgewing Tshwane) van die Gauteng Departement van Onderwys was nou net hier by ons vir huisbesoek. Dis deel van die proses om my tuisskool te registreer by die Departement. Soos Leendert van Oostrum, gewese hoof van die Pestalozzi Trust gesê het, die wat die meeste sigbaar is, word die meeste uitgelos.
Wel, Mev Motshwane, of Carol, het eintlik net halfuur tyd om by my te ‘monitor and support’ soos sy dit noem, maar toe kuier ons so lekker dat sy haar kantoor moes bel en die vergadering wat sy moes gehad het uitstel. Ons het in my kombuis gesit en gesels vir ‘n uur en ‘n half en ek het besef ons is van die dieselfde klip gekap. Hier sit ‘n uitstekende, betrokke mamma, wie se oudste nou Meganiese Ingeneurswese swot; ‘n onderwyseres soos ek.
Toe sy eers hier aankom en vra watse kurrikulum gebruik ek, was ek ‘n bietjie op die agtervoet omdat ek nie regtig ‘n kurrikulum volg nie. Ek wys haar ons Slimkoppies en Kumon boeke en dat dit die CAPS volg so eks okay!? Sy begin toe vir my sê hoe ek moet maak om lesse te intergreer; watse alfabet klankies moet ek mee begin en gee idees om die klankie pret te maak en te oefen- als wat ek klaar doen. Sy vra of ek Internet het, sy wil graag iets vir my wys. Ek bring toe my laptop en sy gaan dadelik na Departement se webtuiste (www.education.gov.za) en wys my CAPS se riglyne vir Graad 1 wat ek klaar ken en verstaan. Ek voel toe sy is baie ‘prescriptive’ maar verstaan later hoekom. Sy vul vorms in en laat my lees voor ek teken. Sy moes vrae beantwoord oor ons tuisskool. Een vraag is, verstaan ek die CAPS riglyne, so sy moes seker maak ek weet daarvan. Ek het haar gewys hoe dit in my aansoek vorm is. Ek het mooi tabel opgestel van CAPS riglyne vir lees en skryf en bygesit hoe ons dit doen.
Ek besef later, toe ons lekker gesels en die formele deel van die onderhoud verby is, dat sy net haar werk doen deur my die CAPS te wys, maar dat haar hart eintlik so uitgeknip is vir tuisonderwys dat sy, meer as verwag, saam stem met die tuisskool filosofie. Sy het gesê mens leer aanmekaar. Sy het vertel hoe sy haar seuns en haar leerlinge krities laat dink het (Critical thinking). Sy is ingestel op kwaliteit leering en het haar dokteraad oor hierdie onderwerp begin skryf.
Haar hart is bemagtiging, nie om gesinne te verbied om hul kinders te tuisonderrig nie.
Sy het vlugtig na ons Klaskamer gekyk, mooi gesê vir Janéy se werk maar eerder idees voorgetsel oor hoe ek dieselfde werkstukke volgende jaar kan gebruik om haar Engels te leer. Ek besef toe, watookal die reëls vir tuisonderrig was, ek het geslaag, nou wou sy van haar kennis en ‘expertise’ met my deel.
Ek is so beindruk met hierdie vrou. Ons het gesels oor ouerskap. Sy het ‘n paar keer gesê “Every mother wants the best for her child.” Ons het gesels oor onderwys. Toe sê sy dat sy ‘n plakkaat teen haar kinders se kamer geplak het wat sê “If you want to be the best, you must do your best.” Haar man het haar drie seuns skaak geleer en sy het ‘n liefde vir lees by hulle ontwikkel. Toe die juffrou van een van haar seuns haar inroep en sê sy moet ophou om hom vooruit te leer want hy begin die klas ontwrig. Sy kon nie dit glo nie want sy is ‘n streng ouer. Toe sy haar seun uitvra, was die stoutigheid dat hy die kind langs hom leer lees. Carol sê vir haar seun dat hy eerder nie die ander kinders moet leer lees nie, want dit ondermyn die onderwyseres se gesag. Sy paai die juffrou deur om ‘n bibloteek te begin by die skool en die eerste 30 boeke te skenk. Sy sê vir haar seun dat as hy klaar gewerk is en verveeld voel, moet hy ‘n boek daar kry en lees.
Sy het ook ‘n Boek Klub begin vir die vrouens in haar gemeenskap. Al die kinders kom saam en sien hoe hul ouers boeke bespreek. So raak hulle ook lus om te lees.
Ek eindig met ‘n staaltjie wat sy my vertel het. Sy het bekende stories gebruik om vir haar kinders dieper betekenisse te leer. Om hulle te laat dink oor hoe elke karakter voel en hoekom hulle optree soos hulle doen. Sy vertel dat toe haar seun 8jaar oud is, bespreek hulle Cinderella en hy vra skielik, Hoekom het Cinderella haar skoen vergeet? Sy ma antwoord dat dit afgeglip het van haar voet. Of, sê die seuntjie, sy was so moeg vir haar aaklige lewe, dat sy dit aspris daar agtergelos het, met die hoop dat iemand dit sou kry en haar kom soek en red. Gelukkig vir haar, was dit toe die Prins wat haar kom wegneem het uit haar hel.
Natuurlik gloei Mev Motshwane met trots oor haar seun se slim insig. En ek sien wie oorkant my sit en koffie drink. Nie ‘n hardekwas staat offisieel wat my lewe wil kom moeilik maak nie. Nee, ‘n vrou met ‘n passie vir onderwys en ‘n hart om te help.
Ek sê toe vir haar hoe bly ek was om haar te ontmoet en dat ek gerus voel om te weet sy is daar doenig in die Onderwys Departement.
20140415-140546.jpg