Ek skryf so lekker, ek skryf sommer ‘n tweede blog post die week. Dit gaan oor die ervaring wat ons Woensdag oggend gehad het. Die onderhoud en aanstelling van ‘n nuwe bediende.
Ons wonderlike Paulina was in ‘n kar ongeluk 3 weke gelede. Sy het genadiglik oorleef maar lê in die hospitaal met ‘n gebreekte been en arm. Sy moet onder sterk verdowing wees want ons gesprekke is maar eensydig. Ek het haar terusgestel dat sy weer beter sou word en dat haar werk by ons nogsteeds hier sou wees wanneer sy terugkom. Ek is geseënd om al ‘n paar oulike huishulpe te gehad het, maar Paulina is die mees fluks, die mees bekwaam en die beste helper wat ek al gehad het. Ons mis haar baie.
Ons tuinier het vir ons ‘n dame gereëlp wat nie ‘n woord Engels kon verstaan nie. Ek het bedui en stadig gepraat en tot ‘n tolk gekry maar sy het net baie vriendelik vir my terug geglimlag. Ek was net dankbaar vir die ekstra hande en het besluit om reg te kom met haar tot Paulina sou beter word, maar toe daag sy Maandag nie op nie. Dalk was die werk te veel of die huis te vuil. Of dalk het sy nie verstaan sy moet weer kom nie. Watookal die rede, ek was weer hulploos.
Ek het myself vir so dag gekul en gedink ons sou sonder bediende regkom. Dis goed vir die kinders om te leer om takies rond die huis te doen, hul beddens op te maak en kamer netjies te hou. Wat ek nie ingereken het nie, is ‘n tand-snyende babatjie wat net in mamma se arms beter voel en dat ek nie krag of tyd het om die huis op te ruim nie.
So, danksy ‘n goeie vriendin, bevind ek myself en my twee oudste dogters by NG Lynnwoodrif Gemeente waar daar elke Woensdag klomp werk-soekende dames bymekaar kom in die hoop dat ‘n welaf blanke vrou hulle sou aanstel.
Oppad soentoe, bid ek hardop dat die Here my sal help en ‘n goeie bediende vir ons gee. Ek verduidelik aan my dogters wat ‘n onderhoud is: ek gaan vrae vra en die dame gaan antwoord en dan kan ek besluit of sy gepas sal wees as ons tydelike huishulp.
Ek het so opgesien daarna. Ek wou nie gaan nie. Maar my man praat logies met my en die feit bly dat ons help nodig het en gou! Die lot strykgoed raak net al hoe groter!
Toe ek en my prinsesse, met hul werkies en besig-bly sakkies onder die arm, in die kerksaal instap, val my moed tot in my tone, want daar moes oor die 100 vrouens gewees het wat almal opkyk toe ek instap en ek sien die hoop in hul oë. ‘Is sy dalk die een wie my werk gaan gee?’ Ek kon nie help om hardop te moan, “Ag nee! Daars so baie!” En ek tel net 4 wit vrouens wat by die onderhoud tafels sit met hul lysie van werkers se besonderhede en pen in die hand.
Ek moes trane wegknip en aangaan met die moeilike besigheid. Ek haal Janéy se skoolwerk uit en probeer haar aan die werk kry maar sy kyk met erns rond en hou my fyn dop. Ilani speel speletjies op die iPad. (My baba slaap rustig by die huis in haar bed terwyl my engel van ‘n buurvrou en vriendin haar oppas).
Gelukkig is die mense georganiseerd en gee my ‘n lysie dames wat ek kan deur blaai. So kan ek dadelik sien waar bly elkeen, hul ouderdom, hoeveel dae is hul beskikbaar, selfs hul vaardighede. Dadelik sien ek daars baie vrouens van Hammanskraal en Mbopane wat al hul gelde sal uitry om na ons toe te kom.
So ek kies ‘n vrou van Mamelodi en hulle roep haar vir my. Sy kom vinnig, praat goed Afrikaans en groet my kinders vriendelik. Maar ek voel dadelik ongemaklik met haar sterk persoonlikheid. Sy sal ore vir my aansit so ek moet pasop. Ek verduidelik oor die ver pad na ons toe en sê ek sal haar nommer vat maar soek verkieslik iemand wie nader aan my woon. Ek sug bietjie van verligting toe sy weg is. Dis moelik om iemand weg te draai, veral as hul sê ‘die werk is skaars’.
Ek sien ‘n jong vriendelik dame wat tans in ‘n onderhoud is met die vrou aan die tafel voor my. Ek hou dadelik van haar! In hierdie geval: ‘You can judge a book by its cover’. Die wit Madem draai om en sê sy dink hierdie vrou is meer gepas vir my want sy het ‘n Sertifikaat in Early Childhood Development en ek het jong kinders.
En toe is haar naam Mercy en sy kom sit by my tafel en ek voel ek hoef nie verder te soek nie. Sy bly ook in Mamelodi en is bereid om dadelik saam my huis toe te kom! Prys die Here! Ek voel verheug! Sy duidelik ook want sy skud my hand, die ander wit vrou se hand, die organiseerder se hand om aan almal haar waardering te wys. Ons stap daar uit en begin amper in sang uitbreek: ‘Lets go fly a kite, up to the highest height!’
My oudste fluister vir my soos ons stap, ‘Ek hou ook van haar’.
Ons almal klim in die kar en soos ek daar wegry, hoor ek my 4-jarige van agter in haar stoeltjie, “dankie Jesus dat jy vir ons ‘n bediende gegee het”!
En hoe gaan dit? Wel, sy het nie baie ondervinding met huis skoon maak nie, (toe ek dit vir my vriendin sê, tik sy terug “O Mercy!”) maar sy is gretig om te leer en my gelukkig te hou. So ek moes baie vrae beantwoord inkluis, ‘must I make the beds Ma’am?’ en ‘Are you satisfied with me Ma’am?’ Ek glimlag ‘ja’ op albei.
Wat my verras het was my dogter se woorde toe Mercy Vrydag hier weg is. Ek sê hoe oulik ek dink sy is, en Janéy sê toe, “Jy het goed gekies Mamma”.
Wat het sy alles geleer deur hierdie proses? Van onderhoud voer, nee sê, iemand aanstel? Wat het sy geleer van die nood in die wêreld, die soektog na werk, die rol van die werkgewer? Maar meer as al daai, is daar ‘n dieper les van mens verhoudings en ons kultuur van huisvrou en huishulp. Ek hoop dit was ‘n goeie les.
Ai Janet, ek geniet al jou blogs so baie! Ek weet net nie waar kry jy die tyd om dit te skryf want ek kry skaars kans om dit te lees. Dankie dat jy al die tuisskool ervaringe en ook ander met ons deel. Mens vergeet so gou dat ander ook stoei met dieselfde struikelblokke en probleme as jyself.
Ek hoop Mercy is goed vir julle totdat Paulina terug is.
Geniet dit naweek xxx
Dankie Andrea! Saterdae is lekker rustig by ons. Die kinders kyk baie TV. My een-jarige slaap lekker wanneer sy Nurofen on het en my man speel graag op die iPad onder my naam! So dit lyk asof ek verskriklike goeie punte bereik in Candy Crush terwyl ek blog posts opteken. 😜
Lekker naweek vir julle verder!
:-J
Yep, love your articles (all of them) and love you!
Thanks Dad! 😊