Ons het twee weke vakansie gehad en die week weer met ‘skool’ begin maar ons was baie bedrywig tydens die vakansie. Ons het al die kuns en prettige dinosourus dinge gedoen in die vakansie en die afgelope week gefokus op akademiese doelwitte.
Ek was so trots om te hoor hoe gretig my kinders is om te werk! Hulle het ‘Yay!’ geskree toe ek sê ons begin weer met skool. Hulle voel vakansie was lekker maar raak lateraan ‘boring’ en besluit dat skoolwerk goed is om mens besig te hou.
Ons beplan nog om Day of the Dino te gaan kyk (www.dayofthedino.co.za). Dit lyk vir my dat die winkels weet ons het almal dinosourusse op die brein, want Crazy Store het ‘n hele rak dino tema speelgoed en kuns aktiwiteite vir goedkoop!
Hierdie stuk geel grond het my kinders , hul maats, (en ons mammas) vir ‘n lekker ruk besig gehou. Kap kap kap en stof af met die kwas om die ‘fossiele’ te ontaard. Dan bou mens so klein dinosourus met die bene. Uitstekende leersame pret!! Maar baie morserig!
Dinosourus prentjies verf, dinosourus 3D figure verf, tot dinosourus pasta eet!
Ons het ‘n dinosourus habitat gemaak in ‘n blik pan. Sand, blare en takke was die perfekte omgewing vir ons dinosourusse om in te delf. Ons het tot gebreekte hoender eiers gebruik om as dino eiers te dien.
Gepraat van dino eiers, Crazy Store verkoop hierdie oulikke dinosourus ‘eiers’ wat jy in water moet dunk. Dan so paar dae later, begin die eier te breek en kraak en daar is veronderstel om ‘n dinosourus uit te kom, of so het ons gedink, maar wat verskyn toe uit ons ‘dino’ eier?
En die tweede eier het nooit oopgebreek nie. Dit lê nou nog in die water. Dalk is die dino dood maar ons dink die eier is ‘n dud!
Ons is so dankbaar vir tuisskool maatjies! Ons het ‘n wonderlike groepie mammas met jong kinders met wie ons ten minste een keer ‘n week kuier. Toe ons een Woensdag middag by een van ons maats gaan kuier, het Saartjie soveel moeite gedoen sodat die kinders dinosourus prentjies kon verf en versier. ‘n Hele tafel vol kuns gereedskap het my dogters se verbeelding laat draai en hulle het baie mooi prentjies gemaak.
Dankie Saartjie!
Ek het ‘n fantastiese Dinosourus boek gevind by Exclusive Books!
Natuurlik as mens deur so boek blaai, gaan die onderwerp van Evolusie opduik. Dit is nou orals in ons samelewing en dis ontmoontlik (en onnodig) om dit te vermy. Hoe ek dit hanteer is om vir my dogters die prentjies te wys en verduidelik dat party mense glo dat alle diere het eers as baie klein organismes in die see begin. Maar toe oor baie jare groei hulle en word visse en nog miljoene jare later, kruip die visse uit die see tot op die land en verander gelydelik in akkedisse en oor nog baie jare word die akkedisse groter en word soogdiere. Die prentjies wys duidelik die proses. Toe sê ek: Maar Mamma en Pappa glo dat God al die diere gemaak het, die visse in die see en voëltjies in die lug. Soos die Bybel vir ons vertel. Ons glo nie dat al die diere eers visse was nie. Ons glo dat God elke dier gemaak het om te lyk soos hy doen. Die leeu, die apies en die donkies, die Here het self elkeen uitgedink en gemaak. Toe sê Janéy sy glo ook so! Inderdaad! 🙂
[…] Dinosourus D-week […]