Ons het klaar gemaak met die alfabet so twee weke gelede en ek het geweet ek sou volgende met die klinkerklanke begin. Ek gaan tot die einde van die jaar gebruik maak van die Klinkerklanke plakkaat om te besluit watse klanke ons aan werk elke week.
20140913-100336.jpg
Maar ons was bietjie verkoue en ek het besluit om eers ‘n bietjie maklike werk te hersien. Ons het deur al ons Slimkoppie boekies gegaan en ek het toegelaat dat my kind doen waarvoor sy lus was. Aan die een kant was die voorgeskrewe boekwerk en doelloosheid lekker maar aan die ander kant het ek begin mismoedig raak oor die vaal dae. Ek besef toe dat ‘n tema vir die week, of dit nou ‘n Bybel eienskap of karakter is (soos met Konos) of ‘n boek wat die ruggraad van die week se werk vorm (soos met LLTAL en Little Footprints) of dit ‘n letter van die week is, soos in ons geval, gee dit my visie en help my om kreatief te bly. Skoolwerk sonder kreatiwiteit is vir my baie vlou en vervelig.
So, die week was vir my weer baie lekker en opwindend. Ek maak notas die vorige week van al die woorde met die dubbelklinker aa en dan dink ek soos die week aangaan wat ons volgende aan aandag sal gee. 🙂
Aa vir aap het my laat Google waar ons apies kan gaan kyk en ons gaan toe Sondag na Bush Baby Monkey Sanctuary naby Hartbeespoortdam. Ek was vinnig gaande oor die plek! Die natuur, die mooi staproete, natuurlike die ape, was als bo baas! Sommige apies was baie mak en het dit sommer tot op ons skouers gewaag! My kinders was eers bang, maar ek moes hulle wys dat daar niks was om oor te bekommer nie en toe kon hulle ontspan. Ek is verbaas oor hoe goed Janéy die aap se naam onthou. Die gids het net een keer die soort ape vertel en toe ons later die week prente van ape uitdruk en uitknip, was dit Janéy wat vir my vertel watse een is die Blouaap, die Eekoring Aap en die Capuchin Aap. Toe ek seker maak op Google images, was sy elke keer reg!
Meskien, onthou mens beter as jy hulle in die natuur sien teenoor van lees in ‘n boek?
20140913-100216.jpg20140913-100225.jpg
Ons het later in die week, nadat al ons harde werk klaar was, ‘n vermaaklike oggend spandeer om die aap habitat, wat ons by Bush Baby’s gesien het, eers te teken en toe te verf. Janéy het dit ontwerp met die stroompie en hangbrue wat ons Sondag oor geloop het. Sy het dit so geniet om te staan en verf teen die muur! Toe die verf droog was, plak hulle die aap prentjies op.
20140912-160728.jpg
20140912-160743.jpg
Maar eks te haastig. Ons het eers later die week geverf. Ons het Maandag begin met wiskunde in die vorm van skaal werk. Ek het elke skaal wat ons is die huis het uitgegrawe en vir my kinders gewys hoe hulle werk. Janèy moes die skaal teken, goed weeg en die metings inskryf in haar boek.
20140912-161609.jpg
20140912-161623.jpg
Ek het besluit om vir haar die groter as en kleiner as tekentjies te leer. ( < > =) So, ek het die gewig van ‘n aap en ‘n skaap langs mekaar geskryf en sy moes besluit watse teken moet tussen in kom.
20140912-161907.jpg
Daarna het ons aa woorde uitgepak met ons letter kaarte. Toe skryf Janéy dit in haar boek. Dit het vir haar goed gewerk om dit eers te klank, spel en sien voordat sy dit moes neerskryf in haar boek. Sodoende, het sy nie net ‘n sin geskryf nie maar verstaan wat sy skryf. Sy het dit toe terug gelees vir my terwyl ek video opneem. Die trots is duidelik sigbaar! (Wens ek kon julle wys maar dit wil nie oplaai nie. Ek sal nog moet leer om You Tube Videos op te laai en deel.)
20140912-162413.jpg
Ons het ook ‘n oulike gedig geleer die week uit ons bekwaame gedigboek, “Klankies vir Kleuters”:
Jannetjie Fiskaal
Jannetjie Fiskaal
Sit op die paal;
Sy hoed is stukkend
En sy kop is kaal.
En ons sien toe ‘n Jannetjie Fiskaal in ons tuin asook ‘n haas by ons maatjie. En ‘n Bobbejaan se skedel by ‘n tuisonderrig aanbieding vir die kinders oor hoe God die aarde gemaak het.
Ons het lekker gesels oor die maan! Ek het ons opblaas aardbol vasgehou, Ilani het die son verteenwoordig en Janéy het ‘n lemoen vasgehou om die maan te na-aap. En so het ons gekyk hoe sal die son skyn op die maan sodat dit volmaan, halfmaan en sekelmaan is. Ek was verbaas oor hoe goed Janéy dit verstaan het.
Toe plak sy wit sirkel plakkers in haar boek en kleur dit in volgens die 8 Fases van die maan, soos aangedui in ons Wêreldspektrum Ensiklopedie.
20140913-093612.jpg En toevallig was dit Maandag volmaan en die kinders kon dophou deur die week hoe die maan afnemend ‘kleiner’ word.
Die lees boekie die week was ‘Die Yslike Raap’, deur Ladybird.
20140913-100313.jpg
Ek het ook ‘n storie gelees vir die kinders en hulle moes luister en saam kyk vir die aa woorde.
Vir die wie wonder oor ons sosialiseering (tuisonderwys gesinne word die meeste uitgevra hieroor), sal ek noem dat ons Maandag middag saam tuisonderrig groepie gekuier het, Dinsdag swemlesse gehad het, Woensdag by maatjie se huis geswem, Donderdag saam tuisonderrig maats ‘n aanbieding gekyk oor die Skepping en Vrydag weer saam dieselfde tuisonderrig maatjies ‘n kuns pretdag gehad. So, ons oggende is leersaam maar rustig by die huis en ons middae is vol aktiwiteite saam met maats.
Ek vind tuisonderrig baie vervullend en waardeer dit dat ek saam my kinders kan leer!
Maar nou gaap ek baie en gaan eers lekker slaap. Goeienaand!