My energie vlammetjie het bietjie geflikker in die wind die week. Kleinsus het woes tande gesny (sny nogsteeds) en slaap was maar skaars.
Uur
Ons het al baie tyd behandel die jaar, uur in u week en h vir hoelaat. Gewonder of ek met halfuur en kwartuur kan begin maar na 2min van verduideliking, kon ek sien dat ek Janéy (6) verloor het. So, toe bly ons by die ure maar nou moet sy self die handjies van die klok teken en die tyd in woorde uitskryf.
Ilani (4) was gereed om te leer oor ure, veral hoelaat ons wat doen. Toe hoor hulle vir die eerste keer dat daar ‘n 8uur in die oggend is wanneer ons met skool begin en weer ‘n 8uur in die aand wanneer hulle gaan slaap.
Suur
Ek hou daarvan om soveel sintuie te gebruik deur die week as moontlik en ‘n proe speletjie is altyd gewild! Eers moes Janéy die tong teken en skryf waar proe mens wat. Die suur smaak is meestal aan die agterste kante van die tong. Ongelooflik, toe ons ‘n snytjie suurlemoen net op die tip van ons tong plaas, proe dit regtig soet! Maar sodra ons suurlemoen (en suurwurm lekkers) aan die kant van ons tonge plaas, duik ons wange in van die suur smaak!
Vuur
‘n Vinnige soektog op Google neem my na die uitstekende webwerf www.kleuters.co.za waar ek al voorheen baie gekuier het en vind toe ‘n hele tema vol vuur aktiwiteite. Vir nog temas, sien hier.
Die brandweer tema het sterk deur gekom en daar was baie inligting oor die brandweer diens. Tot ‘n klok met hande om uit te knip wat Janéy mee kon oefen.
Meeste aktiwiteite was meer gepas vir my 4-jarige, maar ek kon sommige aanpas vir my ouer kind.
Ironies, was die een werkskaart getitel Veliligheid en het gevra dat my kind vuurhoutjies uitpak in dieselfde patroon as op die papier. So my kinders mag nie met vuurhoutjies speel nie tensy ek vir hulle werk gee om daarmee te doen. 🙂
My kinders was voorgestel aan Suduko. En daar was baie inligting oor die brandweerdiens so my kinders kon die noodnommer vir vuur leer: 10177 En toe ons een dag verby ‘n veldbrand ry, vra Janéy of sy die brandweer mag bel. (Sy kon hulle nommer onthou!) Ons het bespreek of die vuur gevaarlik genoeg was om die brandweer uit te roep en besluit toe nee.
Al hierdie oulike vuur werkskaarte is beskikbaar hier.
Geheuevers
Ons vers vir die week was Deteronium 4:24. Ilani het dit pragtig opgesê. Kyk die video hier.
En Janéy het dit pragtig uitgeskryf. Ek het my voorbeeld so entjie voor haar op die muur geplak sodat sy moes opkyk om dit af te skryf (soos kinders doen by die skool). Want ek het besef dat dit goed is vir haar oë om eers ver te kyk om te lees en dan naby te kyk om te skryf.
Eksperiment
Ons het besluit om met vuur te eksperimenteer. So ons kry toe 8 verskillende materiale bymekaar om te brand. Ek dink toe eers ons gaan meet wat brand die vinnigste, maar Janéy sê ons moet toets wat brand die maklikste. Ek het vir haar my selfoon se ‘stopwatch’ laat gebruik om te meet hoe lank brand elke ding. Maar toe kom ons agter dat sommige goed nie lekker brand nie en vinnig dood brand of smelt. Terwyl ‘n stuk koerant papier baie goed vlam vat en vir 47 sekondes gebrand het. So, hoe vinnig iets brand was eintlik nie ‘n goeie aanduiding van sy vuur eienskappe nie en daarom was Janéy se voorstel vir “Hoe maklik iets brand” die beste.
Die wind het gewaai maar ons moes buite iewers vuur maak, so ons bou toe klein muur met bakstene en ek steek een ding na die ander aan die brand terwyl my kinders (baba inkluis) om my drom! Janéy het beitjie water byderhand gehad vir ingeval die vuur hand uitgeruk het. Sy het so paar keer die klein vuurtjie so geblus.
Toe ons klaar als gebrand het, (ek het notas gemaak van wat gebeur het) het Janéy die data op ‘n tabel in haar boek vertoon. Sy het nie so baie geniet om al die woorde te skryf nie, maar wel baie daarvan gehou om die prentjies te teken van die resultate. Groot vuur wys dat dit goed gebrand het. ‘n Klein vuurtjie beteken dit het bietjie gebrand en ‘n prentjie van ‘n ysblokkie (haar idee) wys dat die materiaal gesmelt het, nie regtig gebrand nie.
Geskiedenis
Ek het in al ons naslaan boeke gesoek vir inligting or vuur en was bly om die stuk oor die oorsprong van vuur vir huishoudelike gebruik. Die kinders was verbaas om te hoor dat die mens eers bang was vir vuur (wat deur weerlig begin het) en sou weghardloop soos diere. Later het een brawe persoon ‘n brandende tak geneem om sy eie vuur te begin en beheer. Maar hulle het nie geweet hoe om hulle eie vuur te maak nie en moes ‘n brandende kool orals saam neem op hulle trekke deur die land. Toe later het pre-historiese mens flint ontdek en die uitvinding van vuur was heelwaarskynlik per ongeluk ontdek toe die regte klip teen die flint val en ‘n vonk afskiet. Ek het my beste storieverteller stem gebruik en die kinders vermaak met die storie van hoe die mens eers bang was vir hierdie ‘vuurklippe’ wat vonke afgee. Hulle het dit nie geken of verstaan nie en gedink dis towery. Ek kon die storie lekker vertel want ek het so paar jaar gelede ‘n fantastiese reeks oor die eerste mense gelees deur Jean M. Auel getitel Earth’s Children. Die boeke is baseer op ‘mammoth’ navorsing wat die skrywer onderneem het en ek het die vreeslik geniet en baie geleer.
En toe is daar ‘n prentjie van ‘n buig boog wat ‘n manier was om ‘n vuur te begin en natuurlik moes ons dadelik ons eie maak en so probeer vuur maak. Ek het vir ‘n kort oomblik opgewonde geraak dat ons moontlik so ‘n vuur sou kon maak, maar dit neem baie wrywing en baie geduld en ons het nie een van die twee gehad nie.
Maar darem kon my kinders waardeer hoe moeilik dit was om ‘n vuur te maak sonder vuurhoutjies!
Ek sou graag ook ‘n vuur wou maak met ‘n vergrootglas maar ons kon nie een van ons twee opsoor nie.
Ek het elke aand, voor slaaptyd, vir die kinders ‘n Bybelstorie vertel wat oor vuur gegaan het. Daars baie! So toe kon Janéy ‘n nuusbrief of koerantberig maak oor die vuur Bybelstories. Sy het baie geniet om die “Nuus oor Vuur” te teken.
Die week was moeilik en ek was moeg, tog het ons baie geleer. Soms wanneer mens die grootste teëstand het, kan mens eintlik die meeste groei! Ons het gesien hoe wind ‘n vlam kan doodblaas. Maar dieselfde wind kan ook ‘n groot vuur nóg groter laat brand!
[…] het as riglyn. Ons het al aa vir aap, oo vir Oompie Doompie, ee vir Eet Beet Week (my gunsteling), uu vir Vuur, oe vir Soek ‘n Boek, ou vir Bou en ui vir Muis gedoen. Nou was dit Vlieg Papier week om die […]
[…] Vuur Sonder Vlam uu Week https://kieswetterklaskamer.wordpress.com/2014/10/04/vuur-sonder-vlam-uu-week/ […]