Liewe ouers van kinders wat Graad R gaan tuisskool, ek update die blog ‘Al die Letters van die alfabet’ om vir julle te help!
Ek het in 2014 my eerste en prettigste tuisskool jaar geniet! My oudste was 6 jaar oud en ons het haar uit ‘n goeie privaatskool geneem en besluit om ten minste Graad R die Tuisskool metode te probeer.
Sy het nie al die klankies van die Alfabet geken nie. Ek het gesien dat die skool se pas onsettend vinnig was. Hulle het 2, soms 3 nuwe letters (klankies verwys na hoe mens dit uitspreek: ‘k’ vir kat. Letter is soos dit in die Alfabet gesê word.)
Ek wou ons tyd neem met die aanleer van die klankies en het daarom besluit op die Letter van die Week benadering. Een letter/klankie per week. En soms neem ons twee weke met slegs een klankie. Sodat sy dit mooi sal onthou. Ons bou immers die fondasie vir lees en skoolgenot vir die toekoms. As mens te vinnig vorder, kan dinge vergete gaan en gapings in die leer wees.
(Maar as jou kind super blink is, gaan vir seker vinniger! Moenie hulle terughou nie!) Alle kinders verskil. Leer jou kind ken en vorder volgens hulle unieke vermoë!
Die Jaar se temas is die Letter!
So, ons gaan letter vir letter deur die Alfabet werk en alle ander werkies onder daardie tema plaas. So wiskunde gaan ‘tyd’ saam met die t letter gedoen word. Liniaal werk en lekkers eet (om minus te leer) pas by die l letter. Somme en syfers is s. Meet en mates is m. Baljaar met balonne en beertjies tel pas by B. Jy kan enige ding neem wat met die letter begin en meer daaroor leer. Of dit gebruik om wiskunde te leer.
Dan oefen sy skryf van slegs daardie een letter die hele week lank. Maar eers is lekker, sappige, eetbare souse! Sien my Yummy Alfabet vir skryf idees! En later die week op papier.
As ons bietjie oor die son wil leer of plaas of dinosourusse, kom dit by die toepaslike Letter van die Week.
Sensories
Ek het my bes gedoen om so Sensories as moontlik te wees. Dis tog klein kindertjies met wie jy werk! So betrek AL haar sintuie! Sy moet die klankie kan proe en sien en voel en ruik en vat! Baie kunsflyt wat prettig die fynmotor spiere oefen. Knip en plak en klei en verf vorm altyd deel van ons week.
Hoe benader ek Graad R?
Tuisskool Graad R hoef nie van 8uur tot 12 te wees nie. Ons hoef nie ons kinders so baie besig te hou nie. Onder is daar idees van wat ons elke week vir die letter gedoen het. Ons het taamlik baie gedoen omdat ek baie entoesiasties gevoel het en vol energie was!
My ander kinders was op daardie stadium 4 en 1 jaar oud en kon sommige goed saam doen. Maar meskien is julle gesin nou anderste en moet jy ook baie aandag gee aan ‘n ouer kind of baba. Dan neem asb my raad en doen EEN ding per dag met jou Graad Rtjie. Net een. Dit kan so kort wees soos s in suiker te skryf of so ingewikkeld soos sneeuman te maak met wetenskaplike sneeu. Maar geniet daardie paar oomblikke met jou Graad R kind.
Is dit genoeg? vra jy my. Ja! Want tussen in gaan jou kindjie speel. En self besluit om te teken of in te kleur. En self jou kom vra wat hulle oor wonder. “Hoe spel jy kat?” het my 4 jarige net vanoggend in die kar gevra. Toe ek skryf vir haar (Pappa bestuur) en sy na-aap my woord en skryf kat! Uit haar eie. Omdat sy wil.
Dis hoe Graad R lyk. Jy HOEF nie formele kurrikulum te volg nie. Jy kan net rustig dietjies en datjies doen met jou kind.
In watse volgorde moet ek die Letters van die Alfabet leer?
Die order waarin ons (die Kieswetters) die letters van die alfabet geleer het is nie die order aanbeveel deur onderwysers nie, omdat die letters nie maklik is om te skryf nie.
Die order aanbeveel deur skole is:
i r n m l k h b p c o s a g d q e t f j u y v w x z
Ek het letters gekies sodat my kind vinnig woorde sou kon lees. Eers k vir ons van Kieswetter. Dan a en t sodat sy na drie weke van Graad R ‘kat’ en ‘tak’ kan lees. Verder het ek maar gekies soos ek lus gevoel het. Baie ‘random’. Ek het geen nadeel gesien met ons ‘deurmekaar’ order van leer nie. ‘n Kind moet elk geval elke letter kan lees en skryf op ‘n stadium so maak dit regtig saak in watse order hulle dit leer?
Ek gee dan ons lysie letters met die link na elke blog daaroor.
K-aktiwiteite
Nog K Aktiwiteite
Ons A Aktiwiteite
Ons T Aktiwiteite
Ons Spontane S-week
Ons Goeie Gebaar G-week
Lekker Lag L-week
Here Help ons H-week
Besige Bytjies B-week
Pannekoek-weer P-week
Waterkaskenade W-week
Ellendige Eeyore E-week
Moses Lapbook M-week
Vrolike V-week
Interessante I-week
Nuttige N-week
Ons onderstebo o-week
Raai Raai R-week
Dinosourus D-week
Frenektomie F-week
Ice Ice Baby (y-week)
Uuuuuu, wat begin met U?
Z is vir Zoeloe
Ek het nie C en Q gedoen nie, want werklik, waarvan gaan ons week bestaan? Quiche en collage? (Wat albei eintlik Franse woorde is!) Ook nie x nie.
Ons het ‘n J-week gehad. ‘n Jas wat lekker pas! Kan nie nou presies onthou nie, maar dit was ‘n moeilike week en ons het te min gedoen om dit in ‘n blog post te sit. Dalk sal ek nog behoorlik J week doen. Daar is darem baie goeie J-woorde, soos Jesus en Janéy en Janet! 🙂