Laas jaar die tyd, het ek met groot opgewondenheid ons eerste Homeschooling jaar afgeskop! Ons het baie maatjies oorgehad en ‘n lint gesny om Kieswetter Klaskamer te open (sien hier). My kop was VOL idees en my hart het gevlieg!
Dié jaar was heelwat anderste. Ek kon al op vakansie voel dat my lus vir die jaar nog nie ingeskop het nie. Ek het bekommerd begin voel. Waar is die idees? Hoekom is my kop nog nie daar nie? Ek het selfs begin opsien om nog heeldag saam my kinders te wees. Ek was elke dag saam hulle op vakansie en sou dan net aangaan om elke dag van die jaar weer saam hul te wees. Dit raak tappend! Toe ek my stres met my skoonma deel, toe vra sy: “Was God getrou laas jaar?” Ek antwoord, ‘Ja! Hy was baie getrou! Tot my gehelp om diere te stuur wat met dieselfde letter begin as ons Letter van die Week! Hy het ons SO geseën!’ Toe vra my skoonma: “En het Hy verander?” Natuurlik nie! En daarom kan ek die jaar rustig ingaan want dieselfde God wat vir my laas jaar voorsien het, sal weer die jaar met my wees!
Teruggekom van vakansie en ek besluit om sommer die 5de Januarie af te skop met ons Kieswetter Klaskamer. Ons het niks anders om te doen nie, kom ons werk maar so bietjie. So ek ruim die kamer op en vra my meisies om deur laas jaar se boeke te gaan en sien watse bladsye nog nie klaar is nie. Dan kan hulle kies watse wiskunde bladsy hulle wil doen. Hulle is ywerig en dinge lyk goed. Maar toe is daar nogal baie leë bladsye en ek wonder hoe het ek so baie gemis? Moet ons dan eers laas jaar se werk klaar maak voor ons die jaar s’n kan begin? Maar dan is my kind nog nie in Graad 2 nie?! Gits! Ek het haar gevaal! Ons gaan die eerste kwartaal net ou werkboekies klaar maak! Agggeneeeee! En daar sak my al klaar treurige moed, nog verder in my tone in.
Ek voel toe hoe ek in ‘n semi-depressie inval. Ek kan aan niks kreatief dink om te doen nie. Eks lus vir niks. Die kinders baklei meer as gewoonlik. Ek kry geen blink idees vir ‘n nuwe tema nie. Wat gaan ek die jaar doen???? My oudste is veronderstel om Graad 2 te doen en my middelste dogter is 4 maar doen Graad R werk van laas jaar af. So ek kan alfabet met haar begin. Maar doen ek dan net weer die alfabet soos laas jaar? Kom ek begin met J want my naam begin met J! En Jesus en Januarie! En dis waar my J-woorde gestop het. My kop was ‘blank’! Dit was bietjie scary. Gewoonlik was ek vol idees! Nou was daar net niks!
Elk geval, wil julle nie verveel met my hartseer verhaal nie. Die punt is, ek het daar uitgekom! Hoe? Paar dinge:
1. Wag op die Here. Ek het geweet dat sonder sy weerligstraal wat my tref, bly ek in die donker. Ek het besef dat ek totaal afhanglik is van Hom. En dis goed.
2. Praat met geliefdes oor hoe ek voel. Nie sodat hulle sal sê “Wil jy eerder die kinders terug skool toe stuur?” NOOIT! Enige iemand wie my liefhet weet dat dit nie iets is wat ek wil hê nie. Nee, ek soek net bemoediging dat die idees en kreatiwiteit weer sal kom. Ek moet net doen wat ek nou het om te doen. En dis wat my geliefdes wel gesê het. (Dankie julle!)
3. Lees inspirerende boeke!
Lees is so powerful! (Kragtig was net nie sterk genoeg woord nie. So toe gaan ek met die Engels.)
Ek het Hellen Keller gelees en sjoe, haar siening oor onderwys is SO verfrissend! Ek het Susan Wise gelees “The Well-Trained Mind”. Daarin praat sy dat mens moet ophou dink aan Grade en begin daarna verwys as Levels. My kind moet eers klaar maak met ‘n level voor sy kan aangaan. Sy is klaar met die nodige Level in wiskunde, nou kan ek haar neem na die volgende ‘level’ toe. Maar sy moet nog klaar maak met die lees level so ons sal nog daaraan werk. Klink amper soos grade vir jou? Is seker dieselfde maar die nuwe woord laat my beter voel okei?!
Dan het my man vir my ‘n stuk gelees uit die boek wat hy tans lees: John Cleese se outobiografie ‘So anyway…’ Hy is ‘n komediaan. (My man lees oor komediante vandat hy een geword het.) Cleese vertel van sy beste vertoning ooit. Dit was só briljant van begin tot einde. Hy het nie ‘n enkele fout gemaak nie. Die gehoor het uit sy hande geeet. Dit was net finominaal. Toe hy klaar was, het hy eers verskriklik bly gevoel en toe skielik baie ongelukkig. Omdat hy besef het dat hy nooit weer so ongelooflike perfekte ‘show’ sou hê nie. Al die vertonings wat sou volg sou minder perfek wees. En dis nogal hartseer.
Ek snap toe dat dit moontlik is hoekom ek so ‘down’ gevoel het. Laas jaar was uitermatig uitstekend gewees! Dit was prettig en kreatief en super pret gewees. Sou ek dit weer kon reg kry? Wat as ek aan niks ouliks kon dink nie? Wat as ons net boekie werk doen soos baie ander kinders in baie ander skole doen?
Wel… Dan sou dit ook okei wees. Want ek was saam met my kinders besig om die ding toe doen wat ek graag wou doen! Homeschooling! Dis my plesier! Dis die padjie wat die Here vir ons gekies het en ek vind my vreugde in daardie wonderlike doel!
Dit het gehelp. Maandag was ons weer op ons pos. Al drie my kinders om my op die rubber aardelegkaartmat. Tenike (1) sny tande en is bietjie knorriger as gewoonlik. Ilani (4) is baie gretig om te sny en knip alles wat sy sien. Ek probeer oor die lawaai vir Janéy ‘n nuwe wiskunde konsep te leer en my man vra waar is sy kosblik. Dit was chaos! Maar dit was MY chaos.
En die idees het begin kom. Ons gaan Suid-Afrika behandel en die 9 provinsies. Ons gaan lees oor kinders wat in elke provinsie bly en teken op ‘n kaart wat groei daar en hoe lyk dit daar. Ek gaan die alfabet met Ilani doen maar die keer gaan ons Bybel karakters behandel. Ons gaan deur die alfabet werk met ‘n Bybel karakter vir elke letter. En ons begin met A vir Abraham. Ons gaan ‘n lapbook maak vir elke karakter. Wat is ‘n lapbook? Sal jou wys in my volgende post.
Eks terug! En eks opgewonde!