D is vir Dawid
Ons het ‘n besige week gehad (week voor laas) met ander altiwiteite. Laas jaar was ons meestal elke dag op ons pos in die klaskamer. Maar ek kom agter dat daar tye is van besig wees waar dae verbygaan sonder dat die kinders sit en werk en dis ook okay. Partykeer is daar goed wat meer belangrik is as skoolwerk! Soos om vir oulaas saam Oupa en Ouma parkie toe te gaan voor hulle vertrek oorsee! My ouers het ‘n wonderlike 19 dae saam met ons spandeer. (Hulle bly tans op die Isle of Wight, Engeland.) In daardie tyd het ons op baie lekker uitstappies gegaan, saam gekuier en net mekaar geniet. My ouers het ook graag gehelp met die tuisonderwys. Ek is geseënd met familie wat ons besluit om te ‘homeschool’ 110% ondersteun en my ouers was gretig om ook die Kieswetter Klaskamer te beleef. Hulle het ‘n hele paar lessies gedoen in die tyd wat hulle hier was. Maar terug tot Dawid. Ek het my Ma gevra om die storie van Dawid te vertel – sy is so goeie storie verteller, en ook om so paar verse van Psalm 23 vir hulle te leer. Ek kon bietjie iets anders doen en toe ek terugkom, sê hulle reeds drie verse op! Ek maak toe ‘n harp van papier saam met hulle wat op die ou end presies lyk soos ‘n hoofletter D! Ek vind ‘n You Tube video van ‘n dogtertjie (sy lyk 5!) wat harp speel. So mooi! Hiers die link! http://youtu.be/S1-LCnGojnw
Ons het Dinsdag die dag af geneem en saam parkie toe gegaan. Dit was totsiens dag en glad nie maklik nie. Woensdag het ons biblioteek toe gegaan en maats oorgenooi. Ons het eers Vrydag weer gewerk. Toe oefen Ilani om ‘d’ te skryf en Janéy teken ‘n pragtige herders prent. Ek het die Psalm verse neergeskryf en spasie gelos vir woorde wat sy moes invul. Sy kyk toe na die vers, lees soveel soos sy kan en sien watse woord moet sy invul. Dit was ‘n goeie oefening wat ek weer sal herhaal.
Ek het ook laat Janéy ‘n speltoets skryf. Ek mik dat sy elke Maandag tien woorde kies wat in haar Klanke Sonder Trane boek is, deur die loop van die week weer daarna kyk, uitpak met letters, en/of sinne daarmee bou sodat teen Vrydag sy speltoets sal kan doen.
Ek kan nou nie mooi onthou wanneer nie, maar ons het Dawid en Goliat behandel en ek het vir hulle ketties gemaak van felt. Hulle het toe bietjie buite geoefen om klippies te gooi.
Wat vir my uitgestaan het van die gedeeltes van Dawid se storie wat ons behandel het is dat Dawid toegerus was vir sy toekoms op die weivelde. Daar waar hy elke dag pligsgetrou sy pa se skape opgepas het, het die Here hom voorberei. En die twee talente wat hy mee moes woeker? Harp speel en kettie skiet. Ek vertel my kinders dat hy sy tyd benut het en nie gemoan het oor sy eensame pos nie. Hy sou later vir Koning Saul harp speel en hy moes goed gewees het! En sy kettie gebruik om Goliat te verslaan. Die weivelde het sy hart getoets en daar waar dit net hy en God was, het sy gees na God s’n gebuig.
[…] Dawid […]
[…] Dawid […]