Ons werk die afgelope drie weke aan Antieke Egipte en ek kan nie langer wag om julle daarvan te vertel nie!
Ek het laas jaar afgekom op hierdie fanatstiese webblad http://www.homeschoolshare.com/ancient_egypt.php waar mens gratis lapbooks kan aflaai. My man het die een oor Ancient Egypt by sy kantoor vir my uitgedruk (ons printer werk nie lekker nie) en so toe ek besluit om met die onderwerp te begin, blaai ek deur hierdie reeds opgemaakte pakket en raak SO opgewonde! Die Internet is darem ‘n hawe vir ‘n homeschooler! ‘n Rykdom vol eindelose bronne.
Die pakket is wel in Engels wat ‘n lekker uitdaging aangebied het vir my om die woorde waarmee ek meer bekend is in Engels op te soek en vertaal. Daarvoor is die biblioteek nog waardevol. (Google Translate suig!)
Ons het met die Nyl rivier begin en wat ‘n lekker bespreking van die voordele om so groot rivier in die middel van die woestyn te hê! Egiptiese lewe het gestuig en val op die oewer van die rivier.
Ons bespreek toe Egiptiese lewe. Hulle loopbane en hulle speletjies. Ek sien toe ‘n prentjie van hul bordspeletjie ‘Snake’ en dink dat die nie moeilike lyk om te maak nie! Ek kry ‘n soutdeeg resep en ons maak toe die bordspel. Dit het mooi hard gebak op lae hitte in die oond vir ‘n uur of twee.
Ons weet toe nie hoe om die speletjie te speel nie, maar ek vra my kinders om self die reëls uit te dink en daar speel hulle Slang! (Met moderne dobbelstene en albasters, eerste een wat by die middel uitkom is die wenner!)
Ons bespreek die hiërargie van die Egiptiese mense met Farao heelbo aan die hiërargie piramide. ‘n Goeie voorbeeld van tweede in bevel is Josef! Die kinders luister na my CD oor Josef (ek het jare gelede Bybelstories opgeneem op CD) en begin ‘n prentjie kry van die lewe in daardie tyd.
Ek druk Egiptiese klere uit van Practical Pages en my dogters begin hulleself indink as Egiptiese prinsesse.
Die dag toe ek krieket wou kyk, kerf ons ‘n besie uit seep, sommer voor die TV. Ons het ‘n bottermes gebruik. Die ‘scarab’ is orals te sien op Egiptiese juwele, ringe en kuns. Dit verteenwoordig die songod. Ek gesels met my kinders oor die kruis wat baie mense dra op hangertjies om ons nekke. Die kruis verteenwoordig mos ons God, Jesus en die miskruier verteenwoordig hulle god.
En so ‘n gesprek oor die Egiptenare se gode is onvermydelik. Dit het ‘n groot deel van hulle kultuur opgemaak. Ek top daaroor en wonder of ek dit vir my kinders moet leer.
Ek vra toe vir hulle: “Dink julle God sal omgee as ons leer van ander gode?” Janéy (7) sê sy wil gou vir Hom vra. Ek sê goed so en ons maak ons oë toe en wag ‘n oomblik in stilte. Sy sê toe: “Hy sê dis reg solank ons weet dat Hy die enigste ware God is!” Ek glimlag en antwoord dat ek dieselfde gevoel het.
Die lapbook het ‘n afdeling met 8 gode se name en beskrywings. Dit sit nog nie lekker met my dat dit in ons studie gaan wees nie. Ek vra die Here hoe moet ek maak en na ‘n ruk kom die antwoord in my gedagtes in: die Tien Plae het soveel van die Egiptiese gode kom verkleineer en verkeerd bewys. Ek besef die songod Ra, was vir drie dae afwesig toe duisternis oor Egipte geheers het! Ek wys die kinders dit opgewonde uit en ons bespreek die gode en soek die plaag wat daardie god sou opwys! Bastet, die kat god van die oes, watse plaag sou geloof in haar gepla het? My dogter onthou die plae van laas jaar se Lapbook oor Moses en sy antwoord vinnig: ‘die Sprinkane!’ Die god van ‘good luck’ sou gewankel het met die padda plaag. Die god van genesing en medisyne? Die velswere en sere plaag. Daars selfs ‘n godin (Isis) wat glo haar man uit die dood opgewek het. Ek en my kinders dink hardop oor hoe die Farao en sy mense haar hulp gesmeek het toe hulle eersgbore seuns gesterf het met die tiende plaag. Ek sê: “Met elke plaag het nog van hul gode sleg en onbevoeg gelyk en ons God, die Almagtige, het sterker en lewendig voorgekom!”
Toe was papirus en hiërogliewe aan die beurt. Ons het na ons dam toe gegaan en gesoek vir riete. Besef dat riete nooit so sag en plat gekap kan word vir ons gebruik nie, en die droë blare van riete eerder opgetel. By die huis, gebruik ons baie gom (gemeng met water) om die blare aan mekaar te plak. Ek het op Pinterest gekyk hoe iemand bruin papier gedoop in gom op mekaar plak en die is op wakspapier. Daarom sit ons ook ons papirus op wakspapier en lê swaar boeke daarop sodat dit lekker plat gedruk word. Maar die wakspapier het vasgeplak op die papirus en was nogal moeilik om af te skil!
Die droë eindproduk was nogal indrukwekkend! En al wat kort is hiërogliewe! Met ink en kwas geverf! Die Internet het die alfabet van hiërogliewe (weet nie hoe betroubaar dit is nie maar dis cool!) Ilani het die woord Egipte in hiërogliewe geverf op papirus en Janéy het ‘papirus’ in hiërogliewe geverf.
Hulle het ook hulle name en so paar sinne in hiërogliewe op ons lapbook geskryf.
En toe kom ek af op hierdie briljante blog waar die moeder ‘n pakket vol woes oulike werkkaarte oor Outyd Egipte opgemaak het en verniet beskikbaar maak! En daar was iets vir elke ouderdom! My oudste kon die groot woorde leer skryf en somme doen. Ek het baie van die blaaie gelamineer sodat my kinders met kokie penne bo oor die letters kon skryf. Daar was bordspeletjies, uitknip en ryg werkies! My 4-jarige het haar E geoefen asook die regte hoeveelheid piramide by die oorstemmende nommer gepas. Tot my 1-jarige kon iets doen! Ek was verstom toe sy die prentjie op sy regte skaduwee pas! Dankie aan Beth van www.livinglifeintentionally.blogspot.com Haar werkkaarte het ons ure lank besig gehou!
Ek gaan koop toe ‘air-drying’ klei by Jimnettes. Dis R80 vir twee kilogram. En ons begin bou aan ‘n piramide! Ek wou vir my kinders wys hoe hulle blokke bakstene moes maak en laat droog word in die son en toe opsleep om die piramide te bou. Ons het gepraat van die ingenieurs wat wiskunde moes gebruik het om uit te werk hoe die piramides moet lyk en gebou word. Ons het die klei gesny met garing. Dit was so maklik en soveel pret! Ilani hou die garing styf vas en ek sny die klei in repies deur om dit oor die garing te trek. Janéy wou eers nie deelneem aan die kleiwerk nie want sy hou nie van vuil word nie terwyl Ilani vir lank met haar hande in ‘n bakkie klei gespeel het. Maar toe lyk dit te lekker en Janéy kom help ons. Ek het nie baie fotos van die proses nie want my hande was vol klei. Ons het in ons biblioteek boeke gesien hoe baie mense moes trek aan die bakstene om hulle in plek te kry. Hoe het die swaar bakstene beweeg? Oor houtstompe! Ons gebruik toe vuurhoutjies en plaas ‘n klei baksteen op die ‘houtstompe’ en plaas dit teen die oprit. Ek vertel toe vir my kinders hoe hulle baie keer op so klein skaal als beplan het en dan kon hulle die berekeninge toepas op die groot piramide. Ons het eers ‘n Lego mannetjie op die oprit geplaas maar Janéy sien toe selfs hy was te groot. Toe moes klein vuurhoutjies dien as slawe.
Egiptiese brood resep is hier. Was baie lekker!
Egiptiese lekkernye was vye en dadels, speserye en neute. Ek blend toe al die saam met neute en klappermeel. (Die resep het nie klappermeel by nie maar ek het te veel water bygesit en was amper ‘n Egiptiese smoothie, so moes die meel bysit om dit dikker te maak.) (Die resep het deel gevorm van die oulike Ancient Egypt Lapbook wat ek heel eerste afgelaai het vanaf www.hoemschoolshare.com) Ons rol dit toe in bolletjies en doop dit in heuning. Mmmm, heerlik!
Ons het deurentyd gewerk aan ons Lapbook, heeltyd nuwe inligting bygesit en mini-boeke volgemaak en ingeplak. Mini-boeke is ‘n manier om inligting kompak, tog netjies te organiseer. My kinders geniet om deur die klein mini-boeke te blaai en kyk na hul mooi werkies. So, bespreek ons weer die feite en onthou wat ons geleer het. (Ek leer ook baie wat ek regtig geniet! Lewenslange leerling!)
Einde van Deel Een van E is vir Egipte
In Deel Twee
– Hoe om ‘n Sarkofaag (Sarcophagus) te maak
– Ons Egiptiese Pretdag
– Ons uitstappie na King Tut Uitstalling
Baie baie dankie Jy help my om rustig te word oor blootstelling aan afgode Dankie vi jou voorbeeld Wees geseend in God
Marinda Thompson marindathompson@me.com 072 1717632
>
Hi Marinda!
Dankie vir jou terugvoering! Ja, ek besef dat die Israeliete van oud het ook tussen baie ander godsdienste gewoon. Ons kan nie ons kinders blind hou vir die sameleweing waarin ons woon nie. Intendeel, hoe meer hulle verstaan dat daar ander sienswyse is, ook afgode, hoe sterker word hulle liefde en geloof in ons Almagtige Heer! Want hulle kleef sommer harde aan Hom!
Vriendelike groete
Janet
Janet!! Hierdie is absoluut briljant! Jy het n gawe met tuisskool… Weereens so dankbaar vir jou!
Dankie liewe Driekie vriendin!
[…] belowe in Deel Een van Antieke Egipte, hier is hoe om ‘n sarkofaag (sarcophagus) te […]
[…] E vir Egipte is dit F aan die beurt. Met my 5-jarig se verjaarsdag wat oppad was, het ek besluit dat ons skool […]
[…] Antieke Egipte (Deel 1) […]
[…] Ons het al klomp gedoen, so kyk gerus na ons ander suksesvolle ‘lapbooks’. (China, Antieke Egipte, Indeë om ‘n paar te […]
[…] Antieke Egipte […]