‘n Droom van my was vandag bewaarheid: om ‘n groentetuin te plant! Ek voel bly maar sal nóg blyer voel wanneer ek plantjies sien groei en natuurlik gaan my beker oorloop die dag wat ons die gesonde groente oes! Julle sal verseker daarvan hoor!
Als moet ‘n begin hê, so darem is daar nou saadjies in die grond! Ek het ‘n ‘Plant jou eie Groentetuin’ pakket gekoop by Plantland. Daarin is duidelike instruksies. Maar John by Plantland was amper meer hulpvol met die raad dat uie, beet en wortels goed groei selfs in die winter. Toe ek vra of ek hulle moet toegooi teen die ryp, sê hy dis nie eers nodig nie want die groente floreer onder die grond en skrik nie vir die koue nie. Groen blaar groente soos kool, spinasie en blaarslaai groei ook in ons winter.
Omdat die ons eerste keer is dat ons ‘n groentetuin aandurf, het on besluit om klein te begin. My man koop 2 plantbokse by Builders Warehouse en dis net groot genoeg vir so paar beetsaad in een en spinasie in die ander. Dankie aan ons buurvrou Estie wie vir ons pallette geskenk het. Ek het met die oorskiet ‘potting soil’ ‘n hoekie gemaak en bietjie blaarslaai saad gestrooi. Hou duim vas dat iets daar groei!
Ons het ook graangras gekoop by Plantland. Dit gaan ons vinniger sien groei! Die pakket het bio-afbreekbare potjies, skyfies grond en die graansaad. My oudste bied aan om instruksies te lees op die prentjies en dan in haar boek die instruksies uit te skryf. My 5-jarige aard na my en geniet dus om haar vingers vuil te maak en in die grond te grou. Saam is ons ‘n goeie span!
Toe ons nog baie graansaad oorhet, besluit ek om ‘n G te vorm uit leë bokse. Plak met ‘masking tape’ en daar is ‘n growwe G. Toe gooi ons bietjie grond in en stroei die graangras saad daaroor. Hopelik is daar ‘n groen Graangras G in ons agterplaas volgende naweek!
Dit lyk baie lekker…