Ek sal die oulike Manie Muis beskikbaar maak op my Drukbare Werkkaarte bladsy. 

Hoe ons ge-eindig het om oor muise te leer het net vanself gekom. Ons het Maandag laat terug gekom van vakansie en ek het geen idees of beplanning gedoen nie. 

So Dinsdag, begin ons met die Slimkoppe boekies wat ek by Bargain Books gekoop het. My kinders het gesukkel om in die werk gewoonte te kom en was net lus vir speel. So ek het elke dag so bietjie meer werk bygevoeg. Wat ek wel geleer het, is dat selfs tuisonderrig kinders, wat hulle passies mag volg en van jonks af heelwat leer net wat hul harte begeer, ook tye het van hard werk op werkstukke wat hulle nie geniet nie. Dis deel van die lewe. 

Maar sodra ons op die muis tema begin het, was die pret terug en die sloer om te werk verby. Ek het ‘n gediggie gevind en die kinders wou dit graag oor en oor sê. (Sien die video van elke kind se voordrag op ons Facebook blad ‘Kieswetter Klaskamer’.)

Ilani se muisprentjie

Toe kyk ons in ons Wereldspektrum en leer oor drie soorte muise, hulle mates en massas. Dwergiemuis, Huismuis en Klimmuis. 

 

Die werkkaarte in die foto is vanaf www.kinderwerf.co.za

Janéy het die muise lewensgrote geteken. Die naslaanboek sê dat die Dwergiemuis tussen 5-6cm groei waar die huismuis 12cm lank is. 

Die klimmuis het ‘n swart streep op sy rug en sy stert is langer as die huismuis s’n. Hy eet graag grassaadjies, vrugte, insekte en selfs voëleiers! Ons het gesels oor die afwesigeheid van kaas op daardie lysie en die mite dat muise slegs kaas eet. Waar gaan hulle kaas in die veld vind? 

Toe haal ek my vakansie breiprojek uit en verander die voëltjie in ‘n muis. Die kinders het my gehelp om die oogies en neusie aan te plak. Ek het die ore vasgewerk. Ons het toe net wit wol wat die stert moes wees. Toe wou hulle weet watse soort muis dit was. Toe is dit meet is die muis wolmuis presies 12cm lank! Ek vra toe, watse soort muis is dit? En hulle antwoord: Huismuis!

  

Ilani het so mooi haar m letter geskryf. Sy het geniet om te verbeter van glad nie dit regkry nie tot dit netjies skryf. 

Al ons muis storieboeke

Verder het ons die gesegte ‘as die kat weg is, is die muis baas’, bespreek. Ek het elke woord op ‘n aparte papier geskryf en nadat Janéy die hele sin gelees het, het sussie Ilani die woorde geskommel sodat Janéy dit weer reg moes pak. 

  

My man het reeds ‘n muis in die veld langs ons huis gewaar en toe sê hy: Waarvoor het jy gebid Janet? Ek soek nie muise in my huis net omdat julle nou daaroor leer nie! 😋