Ek is so bly en verbaas om te sien my kinders vorder met tuisskool. En nie vorder soos ons dit ken nie: maak al die somme in die boek klaar en lees al die leesboekies vir die jaar. Nee, vorder soos wat tuisskolers graag wil hê hulle kinders moet vorder: besluit self waaraan hulle wil werk en voltooi ‘n taak onafhanglik! Dis wat vordering nou vir my beteken. 

Gister, sien my oudste(7) iets raak in haar Afrikaans boek, Afrikaans Sonder Trane. Dis ‘n kode wat sy vroer die jaar moes ontsyfer. Sy was mal daaroor! Sy blaai gou deur die boek om te kyk of daar nog sulke werkies is. Toe sy niks vind nie, sê sy baie opgewonde: “Mamma, ek hou hiervan. Kan ek my eie kode boek maak?” Ek sê natuurlik en help haar sussies verder. Janéy knip en sny self karton. Sy  teken ‘n tabel en skryf af die kode van die handboek. Elke letter van die alfabet het ‘n simbool. Ek verduidelik dat sy nou ‘n sin moet uitdink en dit eers in Afrikaans moet neerskryf. Dan gaan sy dit in die simbool kode oorskryf, dan vee sy die Afrikaans sin uit. Dan kan mens net haar sin ontsyfer deur om die kode te gebruik. Sy was baie opgewonde en spring dadelik aan die werk. 

  

Toe maak sy ‘n kode boodkskap vir haar maatjie wat later die dag sou kom. Toe plak sy kode ‘woorde’ orals in die huis. Ek vra toe of die kode die woord dan spel? Ek meen, die woord op die deur moet ‘deur’ spel, sekerlik? Maar toe het sy net van die simbole baie gehou en die regte woorde gelos! Sal weer soentoe werk, maar sy het pret gehad en dit was haar skoolwerk vir die dag! 

En dan vandag doen ek Singapore Maths met Ilani (5). Ek hou daarvan dat hulle buite die boks vir die kinders leer en meer as een metode leer om ‘n nuwe idee te verstaan. So Ilani se werk was die:

Wat maak alles 6?

Die volgende bladsy was, wat maak alles 8. Maar sy wou nie aanhou daarmee nie. Sy wou eerder haar eie sirkels maak. Sy vra vir skoon papier en ek help haar om sirkels te trek met die gom. Ek verstaan toe eers beter toe ek sien sy sit ‘n 5 in die sirkel. Sy is 5 en daarom wou sy die nommer 5 sommetjies doen! Sy onderbreek my leer met Janéy om my ‘n storiesom te vertel! “Mamma, ek het eers geen sweets gehad nie, en toe gee jy vir my 4 sweets en toe gaan ek ballet toe en my juffrou gee vir my nog een. En dan het ek 5!” Die irritasie dat sy kliphard praat en ons onderbreek val weg toe ek besef sy vertel sulke oulike storiesomme nog voordat ek dit met haar behandel het. 

Ek vertel haar dat ons dit storiesomme noem en dat sy nou baie oulik vertel het. Kort daarna, moes ons luister na nog en so gaan ‘n tuisonderrig klaskamer waar sussie van verskillende ouderdomme langs mekaar werk. 

  

Hierdie, liewe lesers is vordering! Vordering om self-leerders te word! Vordering om hulle opvoeding in hulle eie hande te neem en te hardloop daarmee. Vordering omdat hulle WIL leer en nie omdat hulle moet nie! 

En dit alles in die week waar ek voel ons te min werk doen, te kort oggende het, te veel buite speel (wat gaan die bure van ons dink?!) en dis hoekom ek hieroor skryf: om jou en MySelf te herhinner waaroor dit werklik gaan.