Ons tweede jaar van tuisonderrig was nie so maklik en prettig soos ons eerste jaar nie. Ek glo die Here het spesiale genade uitgestort op ons eerste jaar sodat dit soos ‘n wittebrood jaar was vir tuisonderrig. Laas jaar se blog posts is hier opgesom.
Die jaar moes ons bietjie meer insit, bietjie meer sloer, bietjie meer kop-af-en-werk dae. Ek was ook meer ‘all-over-the-place’ met my temas en idees. Ons het nogsteeds letter van die week gedoen maar hier ‘n paar Bybel karakters gedek, daar sommer hele lande en kulture geleer en dan was daar’n paar kunstenaars in die mengelmoes ingegooi.
Bybel karakters:
Abraham
Dawid
Josef
Petrus
Josef was my gunsteling omdat ons ‘n jas uit felt gemaak het en sy storie daarop vertel het.
Lande en antieke wêrelde wat ons van geleer het:
China
Antieke Egipte (Deel 1)
Antieke Egipte (Deel 2) 
Indië
Egipte was verseker die hoogtepunt van die jaar. Ons het soveel kuns en kreatiewe goed gemaak, dit was wonderlik! En saam met vriende ‘n hele Egiptiese Dag gehad wat baie pret was!
Die kunstenaars wat ons oor geleer het:
Gustav Klimt 
Leonardo da Vinci 
Die kunstenaars het goed gewerk vir my oudste kind wie baie lief is vir kuns. Ek wil volgende jaar heelwat kuns en kuns geskiedenis doen.
Dan het ek baie gebid en bepeins die jaar, wat seker gebeur wanneer tye bietjie taaier gaan.
Die Gebed van ‘n Tuisonderrrig Mamma 
Een Voordeel van Tuisonderrig
My Missie Stelling vir Kieswetter Klaskamer
Vordering se Nuwe Betekenis
Wat ek meer sal wil doen volgende jaar is verse en gediggies memoriseer. In ons eerste jaar het ons verse en rympies afgewissel elke week en dit het vir my soos baie vordering gevoel.  Ek dink ek voel ook dat ek minder voltooi het omdat ons nie deur die hele alfabet gekom het nie. Mens wil voel dat jy dinge klaar gemaak het. Maar is dit ‘n ware meting van vordering? Nee. Want ons kan al die letters behandel het maar my kind sal dalk nie almal kan onthou nie, dan wat help dit my en haar? Ons het wel wiskunde boeke klaar gemaak. En die lees het verbeter. Elk geval, ek moet vrede maak met minder merkwaardige vordering want volgende jaar arriveer ons tweeling en dan gaan dinge dalk stadiger en anderste werk.
Op ‘n positiewe noot, my kinders is baie gelukkig en meer selfstandig as laas jaar. Oor naweke ‘werk’ hulle vir pret. Doen somme en skryf sinne en maak kaartjies en geskenkies vir al wat ‘n maatjie. Ons gesprekke in die kar is intellektueel en logies. Hulle is nie uitgeput of moedeloos nie. Ons speel bordspeletjies en hulle hou vir ons konsert. So, as dit iets is wat mens wou meet, is ons gesinslewe so gesond en gelukkig en eks seker dit is ook belangrik. Maar ek voel ek probeer myself verdedig of opmeet teen skoolgaande kinders en ek hoef nie. Ons is nie in ‘n wedren teen hulle nie, is ons?