Wat ‘n lekker week het ons gehad in Frankryk! C’est tres bien!
Ons het Maandag eers gewerk met die F-letter. Kyk hierdie oulike boek wat ek by PNA gevind het:
Sodra ek besluit op ‘n tema, soek ek goeie bronne daaroor. Gratis reeds ontwerpte skootboeke oor Frankryk (soek vir ‘lapbooks’) is by hierdie webwerwe: http://files3.homeschoolshare.com/docs32466/france_lapbook.pdf
En
https://drive.google.com/file/d/0B5AxvQBqfZAkdVNidWhkWTE2UlU/view?pref=2&pli=1
Dis so maklik om uit te druk, knip en plak. Ons vertaal die Engelse goed sodat ons skootboek hoofsaaklik Afrikaans is. Ons vergelyk die tyd in Parys met die tyd in Pretoria. Ook die bevolking van Frankryk met die van Suid Afrika. Ek sit met my foon by my en enige iets wat ons nie weet nie, Google ek dadelik.
Die kinders werk soos ‘n span aan dieselfde skootboek. Een knip en die ander plak. Janéy skryf die woorde neer. Ilani kleur die vlag in. Ek sing al die Franse liedjies wat ek op skool geleer het. Tenike (2) verf haar eie Franse vlag in haar boekie.
You Tube het teleurstellend min goeie videos gehad oor Frankryk. Dalk het ek verkeerd gesoek maar daars min om aan te beveel. Die bekende Franse liedjie “Alloutte” beteken dat jy die voël se vere gaan uitpluk! Uitpluk uit die voëltjie se kop (la tête), sy snawel (la bec), sy vlerke en rug en so aan! Dit klink baie wreed op ‘n oulike deuntjie. Frere Jacques is veiliger!
Hier is fotos van ons skootboek:
Ek het weer vinnig in ‘n Flight Centre ingeloer en gevra vir ‘n reis boek wat Frankryk insluit. Hulle gee dit verniet vir my en ons sny die mooiste fotos oor Frankryk uit!
Feite oor die Eiffeltoring is baie interessant en pas in die koevertjie bo. Wanneer en waarom dit gebou is, wie was die hoof argitek, hoeveel trappe is daar binne en hoe baie verf neem dit om die ding te verf!!
Toe ek hoor dat ons maats ook oor Frankryk leer op die oomblik, reël ons ‘n Franse dag by hulle huis!
Saartjie het by Jimnettes ‘n Eiffeltoring gekry vir R30 wat maklik saam gesit word. Sy het ook die kinders gehelp om die Louvre gebou aan mekaar te plak.
My vriendin was gereed met self-gemaakte esels en houtkool vir die kinders om mee te skets. Hulle het soos ware Franse kunstenaars gelyk!
Ons het ‘n Franse fees gehad met ‘n baguette en kaas, macaroons en sjokolade-gevulde croissants! Die kinders het hulle glasies van druiwesap geklink terwyl Franse musiek in die agtergrond gespeel het.
Ek is so dankbaar aan die Here vir die voorreg om saam met my kinders sulke dae te kan hê! Ook om wonderlike vriendinne te hê soos Saartjie en haar kinders om die tuisonderrig reis mee saam te deel!
[…] Frankryk […]