Ons het vandag maats oorgehad om wiskunde speletjies te speel. 

1. Trappe van Rangtelwoorde Speletjie

Ek het die idee vir hierdie speletjie gekry in Janéy se wiskunde boek. Sy het die aktiwiteit geniet omdat  sy prentjies moes teken. Lees en wiskunde word ingesmokkel. 

  

Ek het toe rangtelwoorde geskryf en gelamineer. Toe plak ek dit op ons trappe. Ek skryf die nommers met ‘n item wat die kinders self moet lees langs dit. Ek het die kinders gevra om die speelgoed items bymekaar te kry. 

   

Ilani lees wat sy op die trap moet plaas

  

‘n Bal en ‘n sker op die vierde trap

Die ander items was dinge soos: pop, gom, wol. Goed wat ‘n Graad Eentjie kan lees. Moeiliker woorde vir ouer sus soos perd, bokkie en skaap. 

2. Paar die woord nommer met die syfers.

Wat jy nodig het:

My vriendin Teresa, het klomp Herbalife houers gebring wat sy gehad het. Maar jy kan enige plastiese houer of bakkies gebruik.

Pakkie lekkers. (Ek het liquorice All Sorts gebruik omdat daar lekker verskeidenheid is.) 

Syfers op vierkant papiertjies van 1-40 (of soveel houers as wat jy het.)

Skryf dan ook die woorde uit vir elke nonmer. 

Plaas ‘n lekker in elke houer, of onder ‘n bakkie. Plak die syfer nommers op die bokant van elke houer. 

  

Die kinders het die houers op die boma uitgepak in die regte volgorde 1-40. 

  

Gooi al die woordnommers in ‘n bak en laat die kinders een papiertjie uittrek op ‘n slag. Hulle lees die nommer, bv: een en twintig en dan soek sy die houer met 21 daarop. As sy dit kry, mag sy die sweetie daarbinne eet! 

Ilani het die woord ‘vyf’ gepaar met 5

Groot was die vreugde toe elkeen hulle woordjie reg lees en die houer vind! Hulle maak dit oop en gil oor die lekkertjie binne. Gou word nog ‘n woordnommer uit die bak getrek en die soektog vir die korrekte ooreenkomstige nommer begin! 

3. Groot Dobbelstene 

Dis baie maklik om groot dobbelstene te maak. Gerbuik enige kubus bokse. Ek het toevallig die regte grootte wit papiertjies wat ek op elke kant van die boks geplak het. Skryf enige syfers op. Hang af van jou kind se vermoë. Een dobbelsteen gaan + en – op hê. Vir ouer kinders kan mens x en gedeel deur ook opskryf. Ek het nommers 15-20 op die ander dobbelsteen geskryf.

  

Dan gooi of rol die kinders die dobbelstene en kyk watse som verskyn. Ek het potlode en papier voorsien sodat hulle die som kan neerskryf en makliker uitwerk. 

Ek besef nou dat ons die quiche wat ons vir middagete geeet het, kon gebruik het om breuke op te skerp! Ek wil ook nog ‘n springtou gebruik om in 2’e te tel. 

Die Wiskunde Pretdag was ‘n reuse sukses! Ek hoop om nog klomp sulkes, saam maats, met nuwe speletjies, te geniet!