Wat onthou jy van skool? Wat staan uit in jou geheue? 

Vir my is dit gesprekke met my onderwyseresse. Daar was heelwat spesiale mense wat in my lewe ingespreek het. 

My man onthou cumulus-, cirrus- en stratuswolke. Hy sê dis al wat hy van Aardryskunde kan onthou. Ek vra toe hoekom. O ja, dis omdat hy saam sy klas buite gegaan het en na die wolke gekyk het. Hy het die woord by die lewende wolk gesit en dit het in sy kop geplak!

Nou dink weer wat onthou jy van die ure en jare se skoollesse. Die dinge wat jy sal onthou is die dinge waaarin jy betrokke was met jou hele lyf. Jou sintuie was wakker gemaak. Jou emosies was dikwels betrek. Dit was meer as net ink op papier. 

Hartseer dat ons so min kan onthou maar die sleutel tot tuisonderwys is hierin te vinde: maak seker jou kinders BELEEF die les. Laat hulle ruik en proe aan die appeltert terwyl julle praat van soorte appels en waar hulle die beste groei en temperatuur van die oond en die meet van die bestandele. Pizza en koek is ideaal om te leer oor breuke!

Laat hulle aantrek soos die Voortrekkers en buite kamp en luister na stories van Die Groot Trek terwyl hulle self wors oor die vuur braai. 

Laat hulle met klei speel maak nie saak hoe oud hulle is nie. Met klei kan mens modelle maak van soveel dinge! 

Kyk hierdie prent van die brein gemaak deur ‘n tuisskool leerder. Sy gaan nooit die dele van die brein vergeet nie!

 

Bou met bokse en tou en huishoudelike voorwerpe. Eksperimenteer met ‘n vergrootglas, vuur en vloeistof. 

Dramatiseer stories, gedigte en gebeurtenisse. Versamel pruike en hoedens sodat julle gereeld met vermommings kan speel. So bevorder jy taal en maak seker dat hulle eendag oortuigend kan kommunikeer. 

  

Leer oor geld en rekeningkunde deur om besighede te stig en produkte te maak en verkoop. Entrepreneurskap kan van kleins af geleer word. 

Tegnologie is uiters belangrik in die Kennis Era. Jou kind gaan moet weet hoe om videos te maak, basies kodering, selfs webwerwe en toepies self te bou! ‘Speel’ op die iPad is dus nie ‘n mors van tyd nie. Hulle leer! 

Toe ek my kinders vra wat hulle die meeste geniet het van die laaste 3 jaar se tuisonderrig, was dit die uitstappies! My dogter onthou Z is vir Zoeloe en die uitstappie na die Zoeloe dorp. Tweedens was dit Aa is vir Aap en die uitstappie na die Monkey Sanctuary. Wat my punt bewys: dit wat hulle met hulle hele lyf kon beleef, (die zoeloe hutte en kosse en dansers en die ape in die bome orals om hulle) is wat hulle die beste kan onthou en die meeste geniet het! 

Dit gaan dalk beteken dat jy oor minder goed leer. Langer praat en bly op een onderwerp in vergelyking met die skool kurrikulum. Maar soos Eistein gesê het, dit is beter om te verstaan as om net te weet. 

Maak volle gebruik van die voorreg om jou kinders by die huis te kan leer en laat hulle so veel leer oombikke in die regte wêreld beleef as moontlik.

Tell me and I forget, teach me and I may remember, involve me and I learn.