Ons het suksesvol my tweetjies geleer om self aan die slaap te raak. Van die derde aand al, slaap hulle binne minute nadat ons hulle in dieselfde kamer maar hul eie kotte, neergelê het.
Ek is bewus dat hierdie ‘n baie kontroversiele onderwerp is. Daarom skryf ek slegs ons ondervinding en skryf vir niemand voor nie. Elke gesin moet die manier van ouerskap kies wat hul voel is reg en goed vir hulle. Soos met tuisonderrig, is sleep training nie gepas vir almal nie. Ek moedig gesinne aan om by die Here te hoor hoe hulle moet maak en dan nie ander te oordeel vir hulle besluit nie.
Eerstens moet die leser verstaan hoe ons babas se slaap skedule gelyk het en wat ons elke aand deurgegaan het om hulle aan die slaap te kry en hou.
Vanaf hulle ‘n paar weke oud was, het hulle gesukkel met maag krampies en winde. Ek onthou toe my ma kom kuier het, was hulle 8 weke oud. Sy het ons gehelp om elke aand Michaela en Nivea te wieg en sis tot hulle slaap en toe het sy soms regop gesot vir ure met een van hulle sodat hulle sou aanhou slaap. As ons hulle sou neersit, sou hulle wakker word en huil en skree en kreun van duidelik ongemak. My ma kan getuig van die uitputtende aande van sis en wieg en sukkel om hulle aan die slaap te kry. Ek het toe besluit dat ek my dieet sou aanpas sodat ek niks eet wat winde in my borsmelk sou produseer nie. Van toe af, drink ek slegs rysmelk en sny suiker uit. Absoluut geen sjokolade nie! Ek het koring uitgeksakel en verplaas met rogbrood of spelt. Ek het groen groente en bone, neute en biltong vermy omdat dit als winde vor die babas gegee het.
My Tannie het ook een naweek ons gehuisves en gesien hoe moes ek en my man sis en wieg om hulle aan die slaap te kry. Sy het by my streng dieet aangepas en kos gemaak wat veilig vir my babas was.
Deur dit als, was Timothy aan my sy. Hy het altyd een baba gevat en haar rustig gekry. Dan lê hy haar saggies neer in haar bedjie maar nie vir lank nie. Kort daarna sou ons weer hoor hoe huil sy. Dan begin die wieg van vooraf! As hy moeg geraak het om soms drie keer oor, dieselfde kind aan die slaap te kry, sou hy ruil met my. Of as my baba slaap, dan sou ek oorneem by hom. Of ons sou die wakker baba neersit op die vloer dat sy maar speel. Dan as sy wys sy is moeg, sou ons weer probeer.
Ek het natuurlik hulle baie gevoed. Geborsvoed. Ek het gewonder of hulle nog honger is en daarom huil hulle. So hulle sou drink en drink en meskien ‘n kort rukkie slaap maar dan weer wakker ruk en skree. Die melk sou weer krampe gee, ons sou winde medisyne gee (het ‘n klomp natuurlike soorte probeer soos tissue salts, Colic Calm, Ibergast, Hyospasmol, telament en nog meer). Soms het dit gehelp, ander keer het dit geblyk dat die medisyne dit erger maak omdat hulle verstik daaraan en winde sluk soos ons dit in hulle mond inspuit.
Ook met die dag slaapies het ons gesukkel. Ek sou vir ‘n uur sis voordat Michaela weggeraak het want sy het geweier om ‘n fopspeen te neem. Nivea was bietjie makliker want sy het haar dummy aanvaar en so kon vinniger in ons arms aan die slaap raak. Maar ek het dikwels in die kar geklim en gery met al 5 my dogters net sodat die baie moeg babas sou slaap! Ek was absoluut sat aan die einde van elke dag, maar dan het die aand se sis voor my gelê.
My wonderlike man het partykeer albei babas aan die slaap gekry, een na die ander sodat ek kon gaan slaap. My ouer kinders het gesê dat hulle nie kan wag dat ek ophou borsvoed nie, sodat die babas nie meer winde sou hê nie.
As ek reg geeet het, in ander woorde, streng volgens die geen-winde dieet (hoender en rys en patat), kon ons korter sis en hulle het beter geslaap. Op ‘n stadium het ons hulle teen 9uur in die bed gehad en gedink dis fantasties!
Maar baie keer sou hulle oor en oor wakker word nadat ons hulle neergelê het en ons geduld het min geraak. Ek het gewonder wat het ek nou weer verkeerd geeet en myself verwyt. Ons aande was beset en uitputtend. Ons rue was so seer, ons het albei ‘n paar keer fisioterapie gekry.
So nodeloos om te sê, ons kon nie so aangaan nie. Ons moes hulp kry! Ek het genavors en gesien dat Raylene de Villiers, van Good Night Baby (en wie self drieling dogtertjies het), was hoogs aanbeveel en het uitstekende resensies gehad op haar blad.
Ek het eers nog so paar weke gesukkel voor ek besluit het om haar te kontak. Tydens die vakansie, toe ons elke aand tot laat wakker was met huilende, oormoeg babas, besluit ek om haar ‘n boodskap te stuur. Sy was bereid om my dadelik te help! Selfs in die week voor Kersfees! Maar ek het besluit om te wag tot ons terug was by die huis en hulle in hulle eie bedjies kon neerlê.
Dag Een
Babas het aan die slaap geraak toe ek hulle een vir een borsvoed. Soos vir my aangedui het ek hulle bietjie wakker gemaak deur om hulle op te tel en saggies in hul bed neergelê. Genadiglik was daar geen huil nie en ons kon gaan slaap!
23:00 en een is wakker, ek voed haar en toe ek haar terug in die kot sit, begin sy huil en maak haar sussie wakker. Daar moes ons nou die eerste keer hulle los om te huil. Die metode sê mens hou die tyd dop en gaan na 5min terug in die kamer om hulle te verseker van jou liefde. Ek het een baba getik op haar rug en Timothy het dieselfde troosende woorde vir die ander een gesê en toe stap ons uit! Dit was baie moeilik! Ek het dadelik die volgende 6 min op my foon laat begin aftel. Ons het nie een daar uit gekom nie, toe dit begin stil raak in die kamer. Die erge skree het verander na af en toe moan. En toe slaap hulle!
3:30 wou hulle weer drink maar gelukkig een vir een en dadelik weer gaan slaap.
Dag Twee
Dag twee was moeilik! Die dag slaapies het hulle geveg en die aand was hulle ook hard aan die skree! Eks so dankbaar dat my man op verlof was, want hy kon my help. Hy was bereid om die tawwe deel te doen, dws, uitstap terwyl hulle huil.
Dit was die aand wat hulle baie erg die slaap en sleep training geveg het. Ek het geloer deur die skrefie by die oop deur en gesien hoe Nivea gehuil en rond skuif op haar matras. Ek wou ook huil! Dit was vreeslik! Dis nie in my geaardheid om ‘n huilende baba te ignoreer nie! My man moes keer dat ek ingaan en haar optel. En terwyl hy my kalm praat in ons kamer, gaan my oudste dogter Janéy en tel die huilende baba op. Die ander een het intussen aan die slaap geraak! Ons hoor hoe huil die twee en gaan kyk toe wat aangaan. Arme Janéy ruk soos sy snik. Tim neem Michaela by haar en gaan sit haar terug in haar bed (Nivea leer toe om te slaap deur haar Sussa se skree). En ek besluit toe om my drie oudste dogters uit die huis te vat. Ons gaan stap in die skemer en ek verduidelik weer aan Janéy hoekom ons die babas laat huil.
– hulle is moeg.
– hulle wil slaap.
– hulle neem ure om te slaap as ons hulle sis. Met sleep training gaan hulle binne minute slaap en aan die slaap kan bly! Dis goed vir hulle om meer slaap te kry!
Sy het toe verstaan en die kere daarna wat hulle huil sal sy saam my luister tot hulle stil bly en dan glimlag en sê: “Mamma sy slaap! Die sleep training werk!”
Dag 3
Nivea is die een wat vinniger gaan slaap. Sy huil toe vir 20 sekondes! Nou (‘n week later) is dit nie eers 10 sekondes nie. Michaela kom by 5 minute se protesteer uit. Dan gaan Timothy in en draai haar op haar sy. Hy tik tik liggies op haar rug en sê “shh shh shh”. Dan sug sy diep en slaap! Dit werk nou elke keer! Hoerah!
Dis nou ‘n week en my hart begin beter voel. Ek het dit gehaat om my babas so te los om te huil. Dit was BAIE moeilik vir my. Dit gaan teen my hele wese! Maar ek het gedink aan die huil en moan van moë babas. Hulle is mos dan ook nie gelukkig nie. Die Engelse gesegde het deur my kop weergalm: “You have to be cruel to be kind.” Soms, in ouerskap gaan daar verwag wees van jou om iets te doen wat jou kind nie van hou nie. Hulle sal dit veg. Maar jy as ouer WEET beter! Jy weet wat beste is vir hulle. En daarom byt jy vas!
Gelukkig vir ons, het ons kinders nie vir ure gehuil nie. Ek sou opgegee het verseker! So ek noem die goed wat saam gewerk het om dit ‘n sukses te maak:
Tydsberekening
* Ons was tuis, ons was voorbereid, ons het nie klomp dinge aan gehad nie maar kon by die huis bly en fokus op die babas.
* Manlief was op verlof en kon my help.
* Die tweeling is nou amper 9 maande oud. So hulle kan regop sit, omrol en hulleself opstoot. Ek voel hulle kan windjies uitkry op hul eie en self in ‘n gemaklike posisie in kom.
* Hulle eet nou 3 maaltye ‘n dag en peusel aan vinger kossies tussen in. Ek kan gerus wees dat hulle magies vol is.
* Hulle is mooi gesond. Michaela het toe twee tandjies gesny maar hulle het wonderbaarlik nie haar seer gemaak nie! Sy was glimlaggend en onbewus van tandjies wat deurkom!
Omgewing
* Ons moes ‘white noise’ organiseer. Ons het verkoelers rondgeskuif totdat die geraas en temperatuur net reg was.
* Temperatuur van die kamer en hoe jy jou baba aantrek is ook belangrik. Dit is nogal moeilik om dit reg te kry vir al as die aande warm begin maar later koud word. Ek dink hulle het soms wakker geword deur die nag as gevolg van koud kry. En ek sou voed dan! (Foutjie) Ek probeer nou eers vasstel of hulle koud of te warm kry voor ek mamma melkies aanbied.
* Die kamer moet ook donker wees sodat die melatonien in hulle brein vrygestel kan word om hulle te help slaap. (Ons moet nog block-out koop want ons gordyne is te lig.)
Ondersteuning
Raylene was beskikbaar vir my sodat ek haar kon bel of whatsapp enige tyd en vragies vra. Sy was so behulpsaam en ondersteunend. Sy het vir my ruimte geskep om foute te maak en sag te wees as ek nie meer kon nie. Daar was grasie en nie so erg streng dat dit my onderkry nie. Maar ook praktiese wenke en riglyne wat ek kon volg. Dit help soveel as mens weet wat om te doen!
En ek sou dit nie kon doen sonder my man wie fermer kan wees as ek. Wat sy emosies op sy kan sit en fokus op die doelwit. Hy het basies die sleep training gedoen! Jy het iemand soos dit nodig.
Ook baie ondersteuning van my familie. Vriende op Facebook was wonderlik en vriendinne wat my whatsapp en boodskappies stuur van bemoedigend. Ek dink ek sou opgegee het sonder hulle almal!
En dis hoekom ek nou deur middel van die webjoernaal terugvoering gee aan julle almal.
Sterkte vir die wat dit nog moet aanpak. En sterkte as jy besluit om dit eerder nie te doen nie. Dis ook reg. Ons almal doen maar net ons heel beste!
My babatjies wat lekker slaap.
DIe sleep training het nie vir ons gewerk nie. Dit het my kind in ‘n senuwee wrak verander. Die skade wat sleep training gedoen het is na 10 jaar nog steeds met ons. Baie spyt daaroor. Dit het my kin onseker en senuwee agtig gemaak.
Sjoe, dis baie erg! Jammer om te hoor!