Baie mense wonder hoe ons dag verloop. Tuisskool roetines hang baie af van die ouderdom van die gesin. As daar babatjies is, dikteer hulle hoe jou dag verloop. Maar soos die kinders ouer word, moet mens jou aandag weer nuut opverdeel tussen jou kinders. My dogters is tans 10, 7 (amper 8), 4 (amper 5) en my tweeling het sopas 2 jaar oud geword. En so verloop ons dag… min of meer. 🙂

In somer, begin ons 8uur met skool, maar in die winter, slaap ons almal snoesig later. Daarom mik ek om ontbyt en aangetrek te wees en 9uur in ons Klaskamer te wees.

Die oggende is lekker chaoties met huilende honger kleintjies en hartjies wat nie altyd vrolik opgestaan het nie. Ek is so dankbaar dat ek nie skool toe hoef te jaag nie want ek dink ons sou altyd laat gewees het.

So hare is nie altyd gekam nie, myne en die kinders s’n! My tee kom saam my werk toe, maar langer uitstel wil ek nie.

Ek het in die begin probeer saam sit op die mat en gesels oor die weer, saam bid en dalk n vars liedjie sing, maar tye van stilte en vrede is so skaars dat ek daardie Mat-tyd nou skip en dadelik met die boeke inval. Die kinders luister na Bybelstories met bedtyd. So wiskunde is altyd eerste aan die beurt. My kinders werk meestal in Wiskunde – geniet dit!

My oudste kort die meeste help daarmee, maar die ander vra ook vragies so ek roteer tussen almal. Soms sal ek ‘n knip en plak werkie gee vir die 4-jarige dat sy self kan aangaan. Die 7-jarige doen Graad 2 sommetjies en kom goed self reg. Ek verduidelik nuwe konsepte aan my oudste en los haar om self te probeer terwyl ek gaan kyk hoekom skree een van die tweeling. Gewoonlik is dit omdat haar sussie iets by haar gegryp het. So ons gee weer baba vir elkeen en waentjie en daars hulle weer gelukkig.

Vandag, het ek hulle gehelp om die babas warm aan te trek en ‘n handsak vir elk gegee. Toe begin hulle saam wegstap en bye sê vir ons. Dit was die oulikste ding! So groot baba in elk se arms, handsak op die skouer groet hulle die sussies in die klaskamer en stap ewe saam motorhuis toe. My foon was nie naby om dit af te neem nie, maar ek stoor dit in my geheue bank!

Na wiskunde is dit Afrikaans. Klankie boekies of taalwerk. Ek gebruik Afrikaans Sonder Trane vir my oudste. Ilani werk in Klanke boekie.

En Tenike geniet My Afrikaanse Avontuur se Alfabet Avontuur. Dis ‘n oulike inleiding tot klankies. Gaan kyk by www.myafrikaanseavontuur.co.za

Deel van hierdie tyd is daar skryf oefening vir almal. Janèy oefen lopende skrif, Ilani skryf woorde uit en Tenike oefen haar letters; ‘ n nuwe een elke week.

Aktiwiteite wat my 2-jarige tweeling vandag besige gehou, (na die popspel) was roomys stokkies in’ n blik pos en verf met water. Ek het lank terug gate in die plastiek houer van ‘n melkblik gemaak. Dis een van hul gunsteling speletjies! Ook, as jy enige skyfie soort speelgoed het, (of knip reghoeke uit ontbytpap boks) , kan jou kleuters dit in’ n leë roomyshouer ‘pos’. Sien fotos.

Daardie boekies waar die verfkleursel klaar op is, en kinders hoef net met water oor te verf is die beste boekies ooit! Enige boekwinkel behoort hul te hê!

Daarna is dit breektyd en ek maak roosterbrood en tee vir almal. Dit is dan my tweeling se slaaptyd en dit kan baie van my tyd neem om hulle rustig aan die slaap te kry. Ons nog nie by daardie wonderlik plek waar mamma net haar babas kan neerlê met ‘n kombers en speelding en hulle gaan slaap soet self nie.

Dan het ek tyd om na die kinders se lees te luister. Een Engelse boekie en een Afrikaanse lees boekie. Ons het nou’ n paar opsies van albei so ek is dankbaar vir die variasie. Tippie leesboeke het nou ‘n Vlak 4! Goeie tydsberekening aan hulle kant, want dis waar my lesers nou trek. Ons het goeie Usborne lesers ook. Asook Oxford storieboom se leesreeks. Ek het hierdie boekies aangekoop oor die jare as ek sien iemand verkoop hulle tweedehands op Facebook. As jy nog nie deel is van Homeschool Exchange blad nie, sal ek jou sterk aanmoedig om aan te sluit! Dis waar ek al my winskopies kry!

Die kinders geniet ook LLATL se klein blou lees boekies. Kort en kragtig.

Tenike (4) wil ook vir my lees al kan sy nog nie lees nie. Dit verg baie geduld om te sit en basies vir haar eerste te lees en sy herhaal wat ek sê. Maar ek wil haar nie mismoedig om te lees nie. Maar teen die tyd, wil my oë toeval. Soms lees ek Horrible Histories vir die kinders. Ons het lank laas James en die Reuse Perske gelees maar dit lê daar op die boekrak en loer vir my.

So teen middagete, het ons net die 3R’s gedoen. Reading, Writing and Arithmetic. Maar dis ons boublokke en ek wil hulle goed vasgelê kry.

Gelukkig woon ons Xperiland by vir wetenskap, so my swakheid is daar gedek.

Ilani vra dat ons oor ‘n land weer leer. En ek jeuk om weer’ n skootboek te takel. Dis ‘n lapbook in Engels en is basies’ n baie visuele manier om feite te rangskik. Daars ‘n volledig lysie gratis skootboek inhoud op www.homeschoolshare.com

Wat my baie trots maak is dat Janéy die week besluit het, dat sy haar eie daaglikse skedule wil optrek. Sy is my organiseerde en maak graag lysies van goed. So sy wou als neerskryf wat ons elke dag doen en dan ook die klein ekstra goed wat hulle hier en daar tyd voor kry. Soos Lees en Verstaan boekies. Baie oulike boekies wat ek by PNA gekry het. My twee oudstes lees die instruksies en kleur dan die prentjie in volgens wat hul gelees het. Dis n prettige manier om hul lees te oefen.

En toe het Ilani ook haar daaglikse skedule neergeskryf en opgeplak bo haar lessenaar. Sjoe, ons is in ons 5de jaar van tuisonderrig en ons het nou eers ‘n geskrewe skedule! En dit, deur die leerlinge self ge-inisieër. Dis omdat hierdie mamma-juffrou n rebel is en nie daarvan hou om deur iets gelei te word nie. Ek geniet my loskop, doen-wat-jy-wil metode, en dit werk goed vir kleintjies! Maar my ouer kinders het nou baie baat gevind deur om te siem wat eerste en tweede en derde gebeur. Hulle het die volgende dag sommer self hulle boeke nader getrek en begin werk. Janèy vir al, geniet doelwitte en sê vir my wat sy alles nog gaan doen voor pouse!

Sy wou tye langs elke vak ook skryf maar daar het ek die lyn getrek. Nee, ons gaan nie tyd gebonde ook wees nie. Ek wil hê sy moet so lank soos sy wil werk aan wiskunde en taal en aanbeweeg wanneer sy moeg voel, klaar is met twee bladsye, of lus voel vir ‘n verandering. Ek gaan nie’ n klok ook nog dophou nie. Dis te skoolerig!

Vrydae skuif ons al die R’e weg en doen kuns of lees mooi gediggies of gaan stap buite. Dis die voorreg van tuisskool!