Ek wil baie eerlik gesels oor my oudste kind se 2018 skooljaar. Hoekom?

1. Vir myself. Om rekord te hou van wat sy bereik het. En om myself te herhinner dat dit goed gaan met haar en ons, wanneer die Vergelyk-monster sy kop wil uitsteek. Wanneer ek begin twyfel of ek die regte ding gedoen het, gaan ek weer hier kom lees.

2. Vir ander. Baie van julle loop dieselfde pad. Mag ons getuienis julle bemoedig.

3. Vir Janéy self. Vir wanneer sy bekommerd voel omdat sy 2 jaar agter haar portuurgroep is, kan sy moontlik hier lees en verstaan en goed voel.

Ek het al voorheen gedeel dat ek vermoed my dogter is disleksies. Omdat sy gesukkel het om te leer lees. Omdat sy sukkel om te onthou en net oor die algemeen, konsepte later snap as wat deur die skool sisteem van haar verwag word. Ek kan duidelik sien sy is baie slim. Niks fout met haar redenasie vermoë en verstand nie. Maar sodra ek gevorderde lees of TE moeilike werk voor haar neersit, tuimel sy.

Toe gaan sit ek by ‘n briljante opvoedkundige sielkunde vroeg in Oktober 2018. Ek werk hard om die trane terug te hou. Het ek my kind gefaal? Hoekom kon sy die jaar eers Graad 3 werk bemeester en sy word November 11 jaar oud? Moet ek haar bring en laat toets? Is dit disleksie?

Talita Kelderman het geduldig geluister en toe geantwoord. Dis te vroeg om te toets vir disleksie. Dit kan verwar word met gehoor of prosessering probleme wat mettertyd self regkom. Sy stel voor dat ek haar neem vir gehoor en sig prosessering toetse en moontlik neurologiese brein oefeninge. En dat ek aanhou tuisskool soos ek doen! Baie prakties. Baie visueel. Dat ek vrede maak dat sy 2 jaar agter haar portuurgroep is, maar dat dit okay is. Sy vorder! Stadiger maar seker! Ons werk aanhoudend. Ons is konsekwent met lees, (al is dit makliker boekies as wat ek weet sy moet kan lees vir haar ouderdom, lees sy!) Talita sê dit help nie dat sy haar deur 3-4 ure se toetse sit, en vir my terug rapporteer dat sy agter is. Dit weet ek.

My dogter hou nie van druk nie. Sy kan nie goed werk onder n tydstip en stres nie. Sy kan dan glad nie konsentreer nie. Sy sukkel om instruksies wat sy HOOR uit te voer. Maar kan mooi volg as ek haar wys! Met flitskaarte of blokkies of prentjies en konkrete goed. En dis presies hoe ons tuisskool die laaste 5 jaar! So ons gaan aanhou so maak!

Ek wil net hier ook dokument wat Janéy geniet om te doen.

Sy het kreatiewe idees! Wat sy tyd het om uit te voer.

Sy maak graag werkkaarte en werkboekies vir haar jonger sussie.

Sy het ‘n boek getik! Emma se Lewe. Meer as 6 hoofstukke, meer as 1000 woorde en die titels van nog 20 hoofstukke. Sy get self besluit om’ n storie te skryf. Self daaraan gewerk wanneer die gier haar getref het. En oulike idees gehad wat in die storie gebeur. Sy het tik verkies want sy kry vinnig blase wanneer sy skryf.

Nog ‘n oulike idee wat sy self gehad het, was om’ n storie te skryf met prentjies op sekere plekke wat woorde verteenwoordig. Ons het so paar van hierdie boeke op ons boekrak so sy het voorbeelde gesien. En toe besluit om haar eie prentjie-soort boekie te maak. Ek was so beïndruk met haar! Haar genot vir skryf is definitief iets wat ek aan kan fokus in die toekoms. Laat sy leer spel deur om baie te skryf!

Ek het bewoë gevoel toe ek my dogter se ongelooflike drama vertoning kyk einde November. Sy het alleen op die verhoog gesit, vermom as ‘n ou tannie en al haar woorde foutloos in karakter uitgevoer! En dit nadat sy gesukkel het om haar woorde te oefen en duidelik uit te spreek. Ek het een middag besluit om groot albasters in haar mond te sit en haar forseer om die woorde stadig en duidelik te sê. Dit het gewerk! Sy kon uitsien na haar drama konsert en het die gehoor laat skater van die lag, met haar humoristiese rol vertolking. Ek het gebars van trots!

[wpvideo QRQkPaDt data-temp-aztec-id=”fa3c57e3-541e-4345-8dad-04d7c2f6b86e”]

Janéy het ook modellesse geneem die jaar. ‘n Mamma vriendin van my het opgemerk op my kind se self-vertroue: om alleen op’ n ‘catwalk’ te loop en glimlag vir beoordelaars neem baie self-vertroue. En sy het dit! Grootliks te danke aan tuisskool en die geleëntheid om op haar eie pas te ontwikkel.

Ek voel dat hierdie ‘n lys verdedigings is, dat ek moet bewys dat sy oulik en amazing is. Ek kan nie help dat dit so oorkom nie. Ons samelewing het druk op my geplaas om te sê dat sy eintlik Graad 6 moet wees die jaar. Sy word mos 12. Ek kan nie help om te voel dat ek vinnig moet verduidelik dat sy eers einde van die jaar verjaar nie. En dat ons tuisskool en en en. Ek voel nogsteeds benoud wanneer ek vir dans en ander inskrywingsvorms moet skryf dat sy 11 is maar Graad 4 doen die jaar. Gaan die gevoel ooit weggaan?

Dis vir die rede dat ek hierdie artikel skryf. Om vir MYSELF en ander te oortuig dat ons ‘n ongelooflike oulike kind hier het. Sy is net akademies agter haar portuurgroep. Maar dis net tydelik. Dis net nou. En dis meestal in my kop. Sy is dolgelukkig en het vrede met waar sy is. Sy werk hard en gewillig elke dag. Sy vorder met haar lees en wiskunde. Moontlik sal ons eendag kan inhaal.

Ek kan nie myself wegskeur van die wens en hoop vir ‘n geniale kind nie. Is dit nie elke ouer se begeerte nie? Dat hulle kind n top prestreeder is en toekenning na toekennning verwerf nie. As ek eerlik moet wees, sal ek sê ek sou dit baie geniet!

Maar’ n volwasse ouer moet hulle eie hope en drome neerlê en hulle kinders eerste stel. My kind se prestasie is nie meer belangrik as sy nie. Haar emotionele gesondheid en geluk moet en is vir my meer belangrik.

Sy het ‘n pragtige brief geskryf vir ons gawe buurvrou. Haar woorde het my tot stilstaan gebring.

En daarom kan ek sê, sy is wel akademies agter haar portuurgroep maar voor in die lewe!