Ek wil graag met julle deel oor ‘n les wat ons die week in ons Kieswetter Klaskamer geleer het.

My oudste dogter het mooi gewerk aan haar wiskunde. Dit was’ n maklike bladsy. Sy moes eers die antwoord van die som skat en dan dit met haar sakrekenaar uitwerk. Dis mos pret! 😀

Die skatting het verander in ‘mental maths’ waar sy eers die som in haar kop vinnig uitgewerk het. Sy het haarself uitdegaag om so naby as moontlik aan die korrekte antwoord te kom. Die eerste groep somme was plus somme maar die tweede groep was minus. Sy werk so lekker en word so opgewonde oor haar skattings wat dikwels in die kol is, dat sy nie die klein minus teken sien nie. ‘n Fout wat ons almal al gemaak het. Sy werk al die somme soos plus somme uit. Toe tel sy hoeveel antwoorde het sy presies reg uitgewerk. Die skat kolom het 13 korrekte antwoord soos die sakrekenaar kolom. Sy spring op en roep na my, baie opgewonde en trots op haarself. “Kyk Mamma! Ek het 13 somme reg geskat! 😀”

Ek wens haar reeds geluk voordat ek haar fout raaksien. Ek gee haar ‘n druk en sê hoe slim sy is om dit so in haar kop uit te gewerk het! Sy gloei met blydskap!

Iets trek my aandag toe af en ek help eers’ n ander sussie. Ek gaan terug en merk Janéy se werk so rukkie later. Daar sien ek dat so 20 somme als verkeerd is. Die eerste lot optelsomme was reg en toe gaan sy aan om te plus en kry die tweede helfde verkeerd. Daar waar sy vir haarself reeds geskryf het: 13 reg! Ek besef dis so ‘n algemene fout. Ek roep haar en sê: “Aaah Liefie, jy het nie gesien hierdie is minus somme nie. Mmmmm… toemaar, maak al die minus tekens net plusse! Ek gaan nie jou vra om als weer oor te doen nie. Jy het so mooi gewerk hieraan.” Haar gesig val maar lyk weer vrolik oor my plan. Sy trek n vertikale strepie oor die ➖ sodat hulle almal nou ‘n ➕ is. Daarsy! Probleem opgelos. Ons gaan aan met ander werk.

Daardie nag is ek 2:30 wakker vir’ n 3 jarige wie my soek. Sy wil hê ek moet by haar sit. Soos ek sit is ek op my foon soos gewoonlik. Ek kyk na die Big Life Journal wat nou op spesiale aanbod is. Slegs $22 en mens kry The Kindness Kit pdf saam! Ek sien dat die dagboek eers middel Julie uitkom maar pos nie na Suid-Afrika nie. My jongste broer bly in Chicago en kom kuier in Augustus vir ons. So ek oorweeg om die dagboek na hom toe te pos. Gaan dit betyds by hom arriveer voor hy vlieg? Daar is preview bladsye van Big Life Journal. Ek blaai deur hulle. Dit lyk SO goed!

Dit tema is ‘growth mindset’ en al die waardes en woorde in die boek is positief en motiverend! Die een oor foute spring na my uit.

My kindjie slaap weer en ek gaan klim terug in my snoesige bed. Ek lê wakker en dink aan Janéy se wiskunde foute van die vorige dag. My houding was so vrolik en ontspanne. ‘Ons maak dit maklik reg om ons te pas.’ Dit het my laat dink aan my awesome pa. Hy was so met my bestuurderslisensie. Hy het my geneem vir lesse in n klein geleënde kar. By Waltloo. Baie van julle sal dadelik daardie toetsgronde in jul verbeelding kan sien. Ons oefen die handbriek wegtrek op die opdraende en die parkering by die parkeerarea. Als gaan so goed. My pa het hope geduld!

Ons kom by die robot en dis swart en af. Lyk stukkend. Ek en my pa neem dadelik aan dat die robot af is daardie dag maar gewoonlik ‘n kleur sal wys. Dalk is die krag net af? Hy help my deur om te sê ons kan maak of dit groen is. Ek ry stadig reguit oor die robot. Ons kom by nog een en die keer sê hy ‘dis rooi!’ al is daar geen liggie wat skyn nie.

So ‘n dierbare fout om te maak. My pa, in sy begeerte om my te help, vergeet wat ek moet doen by’ n stukkende robot: dit benader soos ‘n 4-rigting stop! Ek moes ook geweet het! (Het darem my leerling lisensie eerste keer gekry!) Maar kom toets dag en ek wag vir my toetsnemer meneer om vir my die kleur van die robot te sê! Ek ry al hoe stadiger na die robot toe en vra hom selfs, “What colour is the robot?” 🙈 Maar hy staar botstil voor hom en sê niks vir my nie. So ek ry stadig deur die robot en dop my toets!

Ek het eintlik by die tweede robot onseker gestop maar my examinator sê dat om deur die robot te ry is dadelik ‘n faal. Hoekom het ek by die tweede een gestop maar nie by die eerste robot nie, wil hy weet. Ek is te teleurgesteld en skaam om iets te sê. Die trane lê vlak.

My pa het natuurlik baie sleg gevoel. Die besef tref hom soos’ n ton bakstene. Ai, dis mos ‘n 4-rigting stop! Ons tel maar ons moed op en ek skryf/ry die toets weer en ek kry my lisensie. Ek kan jou nou sê dat ek nou altyd stop by’ n stukkende robot! Niks gaan my deur dit laat ry nie! So, les geleer.

Ek dink aan my dogter en hoe baie eksamens sy nog het wat voor haar lê. Ek wil nie hê dat sy ooit daardie somteken fout in ‘n eksamen moet maak nie. So ‘n eenvoudige, maklike foutjie om te maak, maar ook een waarvoor sy mooi moet kyk. ‘n Plus of ‘n minus sal ‘n groot invloed op die res van die som hê. So ek besef ek gaan haar moet reghelp.

Die volgende dag roep ek haar en haar sussies (die 9 en 6 jarige 🙂 nader. Ek vertel hulle van my bestuurderslisensie toets. Hoe my pa vinnig die situasie ge’fix’ het maar toe leer ek verkeerd. Ek sê vir Janéy dat ek gister gesê het dat sy al haar ➖ somme in ➕ e kon verander. Maar dat sy nou nie haar les sou geleer het nie. Ek wys vir haar hierdie plakkaat:

Ek sê toe vir haar dat ek verstaan dat sy baie opgewonde was om so baie somme reg te gekry het maar ongelukkig leer sy dan nie om mooi te kyk na die somteken nie. Daarom gaan ek haar vra om alles uit te vee en die somme oor te doen. As aftrek somme die keer. Sodat sy op die harde manier leer om versigtig te kyk. Sy het verstaan en die uitveër gaan soek. (Dis altyd weg!)

Vandag is ek dankbaar vir my pa se fout, want toe leer ek ‘n belangrike les. En kon dit vir my dogter leer. En ons almal groei nog vanuit ons foute.