Ek het Pretoria tuisskool mammas gevra om my te vertel wat het hulle van hulle kinders geleer vanaf hulle tuisskool. Die antwoorde mag julle dalk verras!

Sarita sê: My een seuna kry vreeslike spier spasmas by ‘n tafel en stoel. Hy leer die beste op ‘n sagte stoel of bank. My ander seuna skryf ‘n barshou wanneer daar ‘n kat of 2 op die tafel lê saam met hom. Dis asof die teenwoordigheid van ‘n troeteldier die kreatiewe sappies laat vloei. 😉

Nanki deel: My seun wat Aspergers is wil werk doen terwyl musiek speel. Wanneer hy iets oor geskiedenis leer (hy is mal oor oorlog goed en my man leer hom toe van die Bidmark vegskip) dan bou hy dit met lego en speel wat hy geleer het. Hy wil ook dadelik as hy iets geleer het dit vir iemand anders vertel.

Talitha sê: So vêr in haar vroeë jare het ek geleer dat my kind met haar hele lyfie moet leer. As ek nie haar lyfie inkorporeer nie dan raak sy gou verveeld, kan nie konsentreer nie en sê werk is vervelig. Sy moet eintlik AL haar sintuie kan gebruik dan kan sy deelneem en leer met gemak. So ons leer oor die padda se lewenssiklus terloops toe ons een oggend ‘n padda helder inkleur. Ek teken die siklus vir haar en ons kleur hom in en kyk n video of twee daarvan. Toe speel ons dit uit op die grond waar sy n eiertjie in n bondeltjie is en groei tot sy hop. Sy kan maande daarna steeds dit verduidelik 100% omdat haar hele lyfie betrokke was.

Vidette vertel: Ek weet al lankal dat my kind se verbeelding gestimuleer moet word en mens moet baie “animated” wees om sy samewerking te kry of iets te leer. Hy hou nie van ñ somber atmosfeer nie~ hoe meer grappies, hoe lekkerder werk ons. By die skool het dit hom heeltyd in die moeilikheid gehad.
Ons geniet die tuisskolery want ek kan lekker soos ñ nar optree en hy geniet dit vreeslik baie! My glimlag seuntjie is terug, en die woede en hartseer wat begin opbou het omdat hy “stout” is, is nou weg ná net 5 maande se tuisskool.

Santie deel: Ek het altyd gedink dat my oudste dogter deurmekaar is, want met die stresvolle “kom by die skool betyds” oggende was daar nie tyd vir kamer opruim of bed opmaak nie. Dit het my frustreer dat nie ek of sy lekker kon byhou wanneer moet ons wat inpak. As ‘n mamma vra of ons omsend brief gelees het, dag ek sy verwys na die 1, twee briewe terug! Ons was altyd verstrooid! Toe dink ek sy is verstrooid en ek ook.

Toe begin ons tuisskool. Dit het nie dadelik gebeur nie, maar as ek terug kyk, staan ek verstom oor hoe sy in hierdie area gegroei het. Dit het begin met klein goetertjies. Ons moes die klokkie lui voor werktyd. Ek moes haar elke aand voor die tyd sê wat gebeur môre. Toe begin sy kalender hou op haar foon. Toe stel ek oggend roetine in en sy volg dit sonder boo of bah, om die waarheid te sê, sy dring daarop aan.

Ek was bang dat tuisskool hul struktuur gaan wegvat, maar al wat dit gedoen het is om hul te leer om hul eie te bou.

Mia deel: My oudste is nou 5 en as ek vra of ek haar iets kan leer antwoord sy heel bekkig: “Nee dankie, ek leer self!” As ek haar dan vra hoe leer sy haarself, is die antwoord: “My breintjie leer my.” Sy het tye van akademiese flare-ups wat jy voor moet regstaan en optimaal benut, want as dit oorwaai, is dit maande voor sy weer belangstelling toon.

Sy het haar alfabet geleer voor 4 deur my te vra om almal wat ons ken se name neer te skryf. Ek het dit onderskraag met gebaretaal wat sy baie geniet het. En toe vir maande niks. Sy het in 2 weke leer tel tot 20 en die getalle gelees. En toe het dit maande gevat voor sy verby 20 eers probeer tel het. Volgende stap was tel tot 100. Sy raak erg geirriteerd as jy met n werkkaart tipe opdrag kom. Sy maak eerder haar eie werkkaarte dankie. Sy het n massiewe verbeelding en speel heeldag, elke dag daarin. Dit was een van die redes hoekom ons haar nie skool toe gestuur het vir Gr R nie. Sy leer soos sy in haar speletjies in ‘mure’ vasloop. Sy wou vir haar Barbies laptops maak maar moes daarvoor kon skryf, en toe begin sy skryf. Sy leer deur observasie, on the fly en on the go. Dit daag my uit want ek soek struktuur en meetbare uitkomste en dit gee sy nie.

Laastens, Tehilla vertel:

My grootste les was dat my kinders nie soos ek is nie en ook nie soos ek gedink het hulle is toe hulle in ‘n skool was nie. Hul leer nie soos ek nie. Dit wat hul gelukkig maak is anders as wat ek natuurlik wil gee.
Dit wat hul laat leer is anders as die manier hoe ek natuurlik hulle wil leer.

Die kort van die lank….Ek moes groei! Baie groei! Ek moes aanpas! Baie aanpas! Ek moes nog meer leer luister en nog meer gee in areas waar ek nie noodwendig sterk in is nie…Ek het geleer dat ek nie als vir hulle kan wees of kan gee wat hul nodig het nie…maar ek het geleer dat Jesus genoeg is. Dat Hy hul ken..dat Sy genade genoeg is…dat ek nie sonder Hom kan nie..dat Hy “EK IS” is vir ons elkeen…So kort kort in n dag roep ek na Hom in my hart om te help! Dan kom Hy saggies met n gedagte of idee en lei my in daardie oomblik. Ek het geleer dat Jesus my bron is, vir my kinders en vir my, in elke oomblik. Ek het geleer dat my kinders Jesus nodig het! Meer as vir my.