Ek vind dat as ek te trots of oor selfversekerd van my eie vermoë raak, kom ek met ‘n harde slag aarde toe direk daarna!
Vanoggend wou ek spog op Bakkiesboek oor die wonderlike tyd wat ek Maandag met my kinders spandeer het. So lekker geTuisskool deur die oggend en dan het ek nog geswem met hulle die middag. Ek het so goed gevoel as mamma. Die mamma wat SO baie tyd met haar kinders spandeer en dit geniet! Ek sou vertel het van ons lekker baljaar in die swembad. Hoekom geniet kinders dit so baie om met Mamma of Pappa te speel? Al 5 my dogters het op my gehang en geskree in my ore. (Ek moes paar keer vra dat die een spesifieke een nie so in my oor moet gil nie.) Ons het bal gespeel en lekker gelag. Ek sou ‘n foto wou neem maar ‘n swembad is nou een plek waar selfies nie werk nie.
Die mooi aanhaling wat ek wou kwoteer was: Tyd wat jy met jou kinders speel, is nooit gemors nie. Aah, so poëties.
Wel, gelukkig het ek dit nie geplaas nie. Maar die skade was gedoen. My hart lê bloot voor die Here. Ek dog ek kry iets mooi reg. Mag mens goed voel oor wat jy regkry? Vir seker! Mag jy spog daaroor op sosiale media? Umm, ek sou nie ‘n reël wou maak nie. God ken elkeen se hart. Ek lief dit as mammas iets great deel sodat ons dit saam hulle kan vier. Dis baie belangrik!
Vandag het ek weer geswem met my kinders. By swemlesse. En die keer was die geskreu en trek aan my net te veel. My senuwees was klaar.
Oppad huis toe, sien ek my 4-jarige tweeling is moeg. Dit was 15h00 maar ek gee nie om nie, ‘n middagslapie sal almal goed doen. Ek speel Enja musiek. Ek shush die ander sussies. Die oë raak swaar en begin toe gaan. Hulle s’n, ek kyk vorentoe en in my truspieëltjie. Soos ons in die motorhuis trek, vlieg die oë weer oop. Julle ken daardie ding van kleinsus is stukkend moeg, maar sy wil niks uitmis nie. Ek probeer vir haar rustig maak en sê ek sal by haar bly in die kar, sy kan maar slaap. Nee, sy wil uit. Maar die kind weet nie waar sy is nie, sy is so moeg. Ek tel haar toe op en lê haar neer op my pragtige mooi dagbed. (Weereens dankie Denell🌷) Dit lyk of sy gaan slaap. Ek gaan trek my nat kostuum uit en is nog halfpad aan met droë klere toe ek kinders hoor swem! Ek hardloop venster toe en sien my moë jongste kind sit op die rand van die swembad met haar vlerkies aan. (Darem het n ousus haar swemvlerkies aangetrek.) Maar ek dag ek bars ‘n aar. Ek skree vanuit die eerste verdieping venster: WIE HET VIR JULLE GESÊ JULLE MAG SWEM?!
My maggies! Hulle kom nou net van swemlesse af!! Hulle WEET hulle mag nie swem sonder toestemming nie. En boonop die kleintjie ook daar sonder dat iemand my sê. Ek roep dat almal dadelik moet uitklim. Maar of hulle hoor nie of my gesag is verdun as gevolg van die afstand. Hulle splash voort. Ek sug. Die fight is uit my uit.
Ek fantaseer oor alleen uitgaan vanaand. Meskien is die flieks weer oop? Of ek kan alleen sit by n koffie shop. Ek moet net wegkom.
Soms is dit lekker om heeldag by my kinders te wees. Ek dink dit vir al in die oggende as ek hulle gesiggies soen en ons hoef nêrens te gaan nie. Dis so lekker dat ek hulle stemmetjies en gesiggies enige tyd kan hoor. Luister na wat hulle dink. Ek hou daarvan. Hulle persoonlikheid leer ken. Ontdek wat vir elkeen belangrik is. Hoe like hulle hulle broodjies. Daai een eet tamatie maar nie daai een nie. Sy het van tamatiesous gehou maar dis nou verby.
En dan werk ek daaraan om sekere dinge te verbeter. Minder skermtyd is tans my groot uitdaging. Ek weet van die euwels van te veel. Ek sien dit eerstehands! Die tantrums en bakleiery sodra die TV af is. Die ure se gelukkige popspeel as hulle niks skerms voor hulle gehad het nie.
Wat ek wil sê is, ek het tonne empatie en genade vir ma’s wat hulle kinders seermaak. Ek kom soms baie naby om my pragtige, dierbare, soeteliefies pynlik te lyf te gaan. En ek is ‘n taamlik psigiese gesonde persoon. Ek moet myself inhou. Op my foon gaan. Chocolate gaan eet.’n Ander sussie vra om te kom help. Wegstap.
Ek, as gesonde, sielsgelukkige mamma, voel soms so kwaad! Wat nog van ‘n depressiewe, eensame, alleen enkelma van 3 of 4 kleintjies?
Waarom vertel ek julle my skandige gevoelens en optredes?
Oor die vers:
Ek huil voor die Here vanaand. Ek het Jou nodig Here. Enige woord van bemoediging vir die moë mamma? En die woorde kom:
Ek het jou lief.
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
1 PETRUS 5:7 AFR83
https://bible.com/bible/6/1pe.5.7.AFR83
Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
DIE OPENBARING 21:4 AFR83
https://bible.com/bible/6/rev.21.4.AFR83
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
JESAJA 41:10 AFR83
https://bible.com/bible/6/isa.41.10.AFR83
Dankie vir jou egtheid. Dit laat my sommer beter voel en ek het met twee.
❤️
Hi Janet,
Dankie vir die deel van hierdie.. Ja wow… ek bewonder jou bereidheid om te deel van die swaarkry. Daai stem wat so skree en jy staan amper langs jouself en wonder wie skree so?
Dankbaar om te weet ons menslikheid word deur God versterk en met simpatie liefgehê.
xxx
On Wed, Oct 28, 2020 at 11:11 PM Kieswetter Klaskamer wrote:
> janetkies posted: ” Ek vind dat as ek te trots of oor selfversekerd van my > eie vermoë raak, kom ek met ‘n harde slag aarde toe direk daarna! Vanoggend > wou ek spog op Bakkiesboek oor die wonderlike tyd wat ek Maandag met my > kinders spandeer het. So lekker geTuisskool deur” >