Hierdie artikel gaan nie oor tuisskool nie. Dit gaan oor my geestelike journey. Ek wil daaroor skryf.
Ek was van vroeg af wat ander sal noem: ‘n goeie Christen. Ek het eers onlangs besef dat ek ‘n toring soos die een van Babel gebou het. Elke baksteen was ‘n goeie daad of indrukwekkende Christen prestasie. Ek sien dit nou raak.
My ouers sê ek het my lewe vir die Here gegee op die ouderdom van 3 jaar oud! Ek het Jesus genooi om in my hart te kom woon. En toe op 4 was ek gedoop. Ek het fotos daarvan. Die pastoor oom het gevra watse liedjie kan hy op sy kitaar vir my speel en sing soos ek in die swembad gedoop word. Ek onthou ek het die een van Kids Praise gekies: ‘I wanna be Lord, just like you! All the good things that I want to do… listen to my heart Lord, yes it’s true..’ Sjoe, vir meeste van my lewe, was daardie my tema liedjie. Dis ‘n baie mooi liedjie!
Daars niks fout met kinders wat vroeg en opreg hulle hartjies aan Jesus toewy nie. Ook niks fout met jong kinders wat graag gedoop wil word nie. Maar ongelukkig, word so iets soms, soos in my geval, maklik ‘n punt op my telbord, ‘n veer in my hoed, ‘n baksteen in my toring.
Ek bou sodat ek nader aan die Here kan wees. Ek bou om die Christen leer te klim. Hoe hoër, hoe heiliger. Hoe hoër, hoe beter! Of so, het ek geglo.
Ek het gekies om na ‘n Christen skool toe te gaan. Ek het daar die Bybel voor en agter geleer ken. Ek kon die vinnigste in my klas na die regte plek in die Bybel toe blaai. Ek kan nie vir julle sê hoe trots het dit my laat voel nie! Net Graad 2, en ek kon Habakkuk 2:16 of Maleagi 4:21 vind. En ons moes verse memoriseer. En opsê. En vir mense bid. En woorde kry vir juffrouens. Ons het selfs pryse aan die einde van die jaar gekry vir Vrug van die Gees! Ja! Sertifikate voor die hele skool en kerk vir goeie Christen karakter! Sjoe! En ek het daardie toekennings nagejaag.
Dit laat my dink aan Max Lucado se kinderboek ‘Ek is spesiaal’. Ek het baie sterre versamel oor wat mense van my sê. Onnies en die skooolhoof en pastoor het almal vir my sterretjies gegee. “Sy is ‘n goeie Christen!” En dan sal my skoolklasmaats al my sterre sien en dink: “Sy het so baie sterre, sy moet goed wees. Wens ek kon so baie sterre kry as sy.” Ek weet hiervan want jare daarna, het een mamma met my gedeel hoe haar seun op skool gehuil het dat hy nie God se stem kon hoor nie. Hy het gesê dat hy moedeloos voel want net Janet kan God se stem hoor. Toe die ma dit met my deel, voel ek die hartseer in haar storie. Ons het geglimlag en gegiggel daaroor. Maar onderliggend was daar ‘n gevoel van tragedie.
Here, kom breek my toring.
C.S Lewis beskryf die berg wat Christene klim. En die wat hoër is, kyk neer op die wat nog onder is. Dis mos hoe ek geredeneer het: sekerlik ek wat die hele Bybel in een jaar gelees het… is wat? Nader aan die Here? Beter toegerus om Hom te dien? Vir seker ‘n beter Christen as die dwelm verslaafde wat sopas bely het. Maar ek besef nou, ek is gered omdat Jesus vir my gesterf het, presies soos vir daai druggie. Ek kan nie beter wees as ‘n ander Christen nie, want ons het dieselfde Redder.
En dan het ek goed begin versamel. Want Christene moet ook gawes van die gees hê. Profesie is die beste. Ek was by konferensies en seminare om die gawe te leer en te oefen. Maar, ons kan nie dit self verwerk nie, dit word aan ons geskenk. Maar ons kan daarvoor vra. En dan oefen om dit te gebruik deur om woorde te kry vir mense. En as die woorde akkuraat is, dan weet jy, jy het dit! Ek was op ‘n missie om woorde te kry vir mense. Dalk ‘n teksvers. Dalk ‘n visie. “Here, gee my ‘n woord sodat ek mense kan seën. Wat wil U vir die persoon sê?” Ek weet die Here het my soms in my onkunde, en opregte begeerte, gebruik. Hy werk deur ons, onperfek soos ons is. Ek is so dankbaar daarvoor! Want ons almal wil Hom so graag behaag! Maar, wat ek nie geweet het nie is: ek was klaar goed genoeg. Ek het reeds sy goedheid en guns verkry! Deur Jesus.
Ek is nou opnuut deurmekaar oor die spreek in tale ding. Dis ‘n geskenk maar jy kan leer om dit te gebruik. Lyk my almal kan die geskenk kry. Die taal van die Heilige Gees. Dis vir almal bedoel. En so, ons staan in ‘n ry en probeer praat soos die geestelike persoon op die mikrofoon. Ek wonder of die Here vir my gelag het. Nee, Hy sou seker nie.
Jy mag maar vir my lag Here.
Moes nogals komies gewees het hoe ek probeer in tale praat. Hoe ek dink ek doen. Al die jare. Tot my peuter ook soos ek in tale praat. Maar dis haar nonsens woordjies. Dis baba taal. En myne was ook. Nie deur die Heilige Gees gegenereer of inspireer nie. Ek dog dis hoe dit werk. Klink vir my of almal net so paar woorde oor en oor sê. Niemand hoef te weet wat dit beteken nie. Tot ek iemand ontmoet het wat sê dit klink elke keer anders. En hy dink nie daaraan nie. Dit kom spontaan uit sy mond. En dan gee die Here vir hom ook die uitleg. Wow! O! Bloosgesiggie maal ‘n duisend keer!
Maar dis okay. Dis ‘n baksteen uit my toring wat moes val.
En op ‘n dag, kom daar ‘n hele paar verdiepings afgetuimel. Toe ek vir ‘n swanger mamma bid en ‘n mooi woord gee oor haar baba seuntjie. Ek het so heilig gevoel! So bly dat ek vir haar so woord van die Here kon gee. Jy sien, ek is ‘in tune’ met die Here. Dis wat my gesig gestraal het. Toe is daardie baba stilgebore. En ek struikel oor klomp bakstene wat in my pad nou lê. Huh?! Die Here maak mos nie foute nie. Hy het dan gesê die kind het ‘n blink toekoms! Dalk blink in die hemel! Ek moes verkeerd gehoor het. Nie net verkeerd nie. Sommer eintlik nie sy stem gehoor het nie. Net als self opgemaak, om goed te lyk. Eish! Toe nie so ‘in-tune’ soos ek gedink het ek is nie. Dat ek daardie ma kon hoop en woord gee vir haar baba, net om hom te verloor, breek my! En ek sien nou, daardie breek was/is nodig.
Want toe die stof en rommel van my toring gaan lê het, sien ek die heerlikheid van die Here se genade. Ek kon nie nader aan Hom wees as wat ek reeds was nie! Hy het afgekom tot my toe! Ek bou verniet ‘n toring na Hom!
Al die goed wat ek gedoen het, het my laat dink dat ek geregtig is. Geregtig om God se vriend te wees! Geregtig om een van sy gunstelinge te wees. Geregtig na sy beskerming. Dit wat ek doen MOES Hom beïndruk het! Behaag het. Dat Hy oor my lewe en my dade sou glimlag. Dat Hy wel behae in my sou vind.
Maar dis als skynheiligheid. Selfregverdig. Eiegeregtigheid.
God het ons nie meer lief as ons reg lewe nie. Ek kan nie sy liefde koop met my goeie werke nie.
My nuwe tema liedjie se eerste vers gaan so: “I’ll never be more loved than I am right now
Wasn’t holding You up
So there’s nothing I can do to let You down
It doesn’t take a trophy to make You proud
I’ll never be more loved than I am right now” ‘Jireh’ geskryf deur Chandler Moore.
Hehe, elke keer as ek probeer ‘n foto van myself oplaai tot die artikel, glitch die app. Dit gooi my foto weer uit. Maar die foto van die toring van Babel werk eerste keer. So, die Here praat darem nog met my.
#lessofme #allofyou
Leave A Comment