My kinders se tennis coach het die artikel geïnspireer. Hy vertel my vanoggend dat hy iets opgelet het van die tuisskool kinders wat hy tennislesse voor gee. Hy sê gewoonlik leer kinders deur een van drie metodes: visueel, ouditief of kinesteties. Maar hy kom agter dat tuisskolers ’n ekstra metode het, naamlik ‘Educational’. Hy sê dat hy dit nou getoets het met my girls en dit werk!
Tennis het baie teorie wat afrigters gewoonlik nie vir hulle leerlinge leer nie omdat dit, glo, moontlik bo hulle vuurmaakplek is. ‘Coach’, soos my kinders hom noem, verduidelik dat skoolkinders (waarvan sy eie drie kinders ingesluit is), baie het om aan te dink. Dinge soos huiswerk en take, vriende en groepsdruk. Daar is bekommernisse wat ‘head space’ opneem. Dus, is daar nie spasie vir te veel nuwe inligting nie. Ek voeg die ‘te’ by maar mens kan lank debatteer oor hoeveel inligting kinders wel kan inneem.
Coach sê dat hy sien dat die rustige, liefdevolle atmosfeer waarin tuisskolers grootword, plek los vir hulle om op tennislesse en effe ingewikkelde teorie te kan hoor en verstaan. Daar is nie klomp buite goed wat soos rookmis om baie kinders se koppe hang nie.
En ek wil oor die atmosfeer van leer praat. Ek wil nie kinders wat skool toe gaan, of hulle ouers, kap nie. My doel is om tuisskool gesinne te bemoedig. Om die voordele van julle leefstyl keuse ten volle te benut!
Die gebrek aan sosialisering is gewoonlik die eerste kritiek wat tuisskolers kry. Maar ek wil wys hoe dit eintlik ’n voordeel is. Jy as ouer kan nou jou kind se maatjies kies. Jy kan inspraak lewer tot enige gedrag by ‘n kuier waarmee jy nie saamstem nie. Jy kan maats uitsoek wat dieselfde waardes as julle gesin deel. Jy kan jou kinders toelaat om met ouer of jonger kinders te speel.
Ter voorbeeld, ons het ‘n pragtige baba seuntjie wat nou elke dag by ons kuier. Ons Brenda-helper se nuwe seun, Denzel. Sy baba geluide helder ons huis op en my kinders het die baba boetie waarvoor ons almal gesmag het. Die liefde en vreugde wat hier uitgedeel word verryk ons gesin! Ek sê vir Brenda, dat haar baba nie ‘n te kort het aan stimulasie en vrolike gesiggies om na te kyk nie. My dogters pomp sy beentjies en laat hom ‘staan’ en skop. En as hy vir jou glimlag, voel jy of jy die boerpot gewen het! Die reëling dat hy saam Brenda werk toe kom is goed vir hom en dis goed vir my kinders.
Dit vorm deel van die rustige, gelukkige atmosfeer wat my kinders in grootword.
Die ander ding is speel. Speel sonder onderbrekings. Speel sonder politiek (gewild teenoor ongewild) of leiers of bendes of oordeling nie. My 12-jarige vra die ander dag of sy te oud is om met poppe te speel. Ek antwoord: “vir seker nie”! En nou stap sy en 9-jarige sussie elke dag af in die straat met hulle baba’s in waentjies. Dis die oulikste ding! Ek moes dit afneem:
So, daar is soveel vryheid dat daardie boompie lekker kan uitsprei en woes groei! Die bemoediging en ondersteuning van mamma-juffrou is soos water wat uitgegiet word oor daardie tuisskool kindjie. Daar is minder onsekerheid en selftwyfel.
Dis nie te sê dat tuisskolers nie stres het nie. Tuisskool huwelike het steeds uitdagings. Daars steeds finansiële stressors of siekte in die familie of die afsterwe van ‘n geliefde troeteldier om te verwerk. Daar sal vir seker ook vrese en moeilike emosies wees om tuisskolers se emosionele stamina te toets.
Maar, tuisskool ouers, benut die vreugde van julle eie huis en leer omgewing! Jou kinders is in hulle veilige bubble en dit doen hulle goed! Hulle kan fokus aan leerwerk en moeilike konsepte en nuwe woorde en konsentreer op net die werk wat voor hulle is. Minder eksterne sake besoedel hulle kapasiteit. En dis nóg ‘n voorreg van tuisskool!
Leave A Comment