Ek wil graag so groot en geskiedkundige gebeurtenis opskryf. Ek wil meer rekord hou as net ‘n Facebook post. Hierdie was vir my ‘n groot jaar! Ek het bietjie die politiese ryk betreë.

Charlene Chauvet-Swart het my in Februarie 2022 gevra of ek deel van die Gauteng Vereeniging vir Tuisskolers (Gauteng Association for Homeschooling) se uitvoerende span wil wees.

Aan die een kant, weet ek nie wat dit gaan behels nie. Hoe baie van my tyd gaan dit opneem nie. Kan ek nog iets op my bord nog pas? So, terwyl Charlene gesels, begin ek wonder wat ek gaan sê.

En toe onthou ek iets wat al jare in my hart was aangaande tuisskool: en dit is om met die regering te werk om tuisskool te bevorder. My hart is nie vyandig teenoor ons owerhede nie. Ek glo nie dat hulle ‘n mes in het vir tuisskolers nie. Meskien is ek naïef. Meskien wil ek altyd die beste glo van mense. Maar die Here sal juis daardie eienskap van my gebruik tot sy glorie! Ek dink hulle weet net te min van ons. Ek dink hulle dink net ons wil nie skool toe gaan nie. So ons doen die skoolwerk by die huis.

Ek het hierdie jaar gesien hoe oop sekere mense in die Department van Onderwys is om tuisskool beter te verstaan. Daar was oomblikke die jaar waar hulle regtig geluister het en gehoor het dat tuisskool NIE soos skool werk nie.

Ek het toe ja gesê vir Charlene en daar begin ‘n nuwe avontuur vir my. Eers het ons net af en toe ‘n Zoom vergadering gehou. En toe was daar geleentheid in Mei om te praat met die Gauteng Department van Onderwys se Home Education afdeling. ‘n Span mense wie se werk is om tuisskolers te registreer, besoek en besprekings met ons te hê. Hulle raporteer terug aan die provinsie se Department van Onderwys (DvO). Tydens vergaderings met die afdeling, waar die Pestalozzi Trust altyd teenwoordig is, besef die DvO dat daar meer as net CAPS kurrikulum plaasvind by ons huise. Hulle nooi ons toe om die verskillende metodes van tuisskool aan hulle voor te lê. Ek steek toe my hand op om die Eklektiese tuisskool benadering aan hulle te verduidelik.

Die agenda vir 18 Mei 2022

Die 18de Mei was die geleentheid. Ons het gedink dat ons in persoon na kantore sou gaan in Pretoria of Johannesburg maar toe was die vergadering aanlyn. My ma het oor daardie tydperk gekuier van Engeland en ek vra dat sy my kinders asseblief sal besig hou sodat ek in my kamer my voorlegging kan doen. My ma beplan toe ‘n paar aktiwiteite en ek werk aan my PowerPoint. Manlief wys my die vorige aand hoe om Google Teams te gebruik en hoe om wat op my skerm is te deel terwyl ek praat (screen share).

Tuisskool is vir ouers ook ‘n groot ‘learning curve’. Nes ons kinders nuwe goed leer, leer ons nuwe goed. In die proses, wys ons ons kinders dat ons lewe-lange studente is. 😄

Daar was ‘n voorlegging deur Je’Anna Clemens oor Unschooling of Self-directed Learning soos dit eerder nou genoem word. Dit was uitstekend gewees! Baie akademiese feite en navorsing was gedeel. Self-gedrewe leer is wetenskaplik bewys om ‘n goeie metode van leer te wees. Ek was vasgenael en wens ek het die opname om met julle te deel.

Simoné Billson het daarna gepraat oor Classical Conversations. As julle nog nie weet wat CC behels nie, sal ek julle aanmoedig om Simoné in die nuwe jaar te kontak. Al hoe meer tuisskolers in Suid-Afrika sluit aan by ‘n CC groep in hulle area. Hulle ontmoet een keer per week en gebruik rympies en liedjies om feite te memoriseer (die wat in die Foundations fase is).  Daar is ook goeie onderrig en stories en prettige metodes om nuwe inligting te assimileer. Dis ‘n tuisskool gemeenskap van ouers wat toegewyd is om ‘n klassieke opvoeding aan hul kinders te gee. En die kinders blom!

Ek was volgende aan die beurt en my voorlegging het baie goed gegaan. Hier is ‘n foto net voor ek gepraat het.

18 Mei, Google Teams vergadering met DvO

Indien jy meer oor die Eklektiese benadering wil hoor, kan julle my kontak per epos (janetkieswetter@gmail.com) om my video opname daaroor te koop teen R50. Dis nie die opname van die voorlegging nie, (dit was slegs 30 minute gewees). Dit is ‘n twee ure aanlyn Inligtingsessie oor Eklektiese Tuisskool wat ek in Oktober opgeneem het.

Daar was nog voorleggings en op ‘n ander dag, het Annerine Wenhold die American High School Diploma verduidelik. Al te saam, was daar 8 tuisskool kurrikulum/benaderings aan die groep van DvO verduidelik en ek dink hulle het baie insig gekry.

Een van die bemoedigende sinne wat Mev S Mdunge gesê het, was dat sy besef die registrasie vorms wat tuisskolers moet invul nie een van die benaderings dek nie. Sy sê dalk is dit hoekom baie tuisskolers nie wil registreer nie. Sy besef toe dat die registrasie vorm slegs die Nationale Skool Kurrikulum in ag neem. Dit was vir ons ‘n groot deurbraak. Natuurlik moet sy haar bevindings aan die provinsiale hooggeplaastes oordra en hulle in hulle beurt aan nasionale wetgewers, maar treetjie vir treetjie maak ons vordering.

Ons het later in die jaar saam gewerk aan ‘n brief aan die Department om die BELA Bill teë te staan. Baie van julle het julle eie briewe geskryf en ek het ook. Ons as die Gauteng Association for Homeschooling (GAHS) het baie argumente gelys hoekom ons glo die BELA Bill nie as wet deurgevoer moet word nie. (Die brief is beskikbaar aan ons lede.)

BELA staan vir Basic Education Laws Amendment Bill. Dit gaan oor nuwe wetgewing wat alle skole gaan beïnvloed. Maar ons as tuisskolers stel belang in Section 51 wat oor tuisskool gaan. Pestalozzi Trust verduidelik baie mooi hoe dit ons traak en het die skakel tot die BELA Bill op hul webtuiste sou julle dit wil gaan lees: https://pestalozzi.org/en/bela-in-your-home-part-i/

Na die sluitingsdatum vir die geskrewe voorleggings, het ons gewag en kyk. Toe kom die nuus dat daar mondelinge voorleggings sou wees. Dis ‘n baie goeie teken vir ‘n paar redes: Dit wys dat regering bereid is om te luister na die publiek. Dit wys dat daar genoeg ongelukkigheid en uitroep was teen die Bill. En dit vertraag die hele proses en stel enige verandering in wetgewing uit. Ons wil hê dit moet nie slaag nie, maar indien ons dit nie regkry nie, is uitstel en vertraging daarvan die volgende doel.

Charlene Chauvet-Swart, redakteur van SA Homeschool Beat en voorsitter van GAHS, het aansoek gedoen vir ‘n mondelinge voorlegging en ons kry toe die uitnodiging in November, twee weke voor dit sou plaasvind!

Ek het in spanning geluister na die Pestalozzi Trust se voorlegging. Dit was ‘n uitstekende voorlegging deur Mnr Bouwe van der Eems. Die span wat saam met hom in Parlement was, het elkeen die vrae wat aan hulle gestel was, slim geantwoord. Ek het toe gehoor hoe werk die voorleggings. Hoe mens moet notas maak van al die vrae. Hoe mens die ministers moet aanspreek. Die hele proses het my binnstes laat bewe van opgewondenheid!

Toe ons hoor dat ons Kaapstad toe sal moet gaan om ‘n mondelinge voorlegging te maak, vra ek my man wat dink hy. Dit sal wees wanneer ons in Buffelsbaai is met vakansie. Timothy sê dadelik, sonder huiwer, dat hy vir my ‘n vlugkaartjie sal koop sodat ek van George af Kaap toe kan vlieg. As ek wou, sou hy my help om Parlement toe te gaan. Ek laat weet my span, ek kan gaan!

In die volgende weke, werk ons hard aan die voorlegging. Lalie Moraba is genomineer om die 20 min aanbieding te doen. Sy werk dag en nag saam met Uda de Wet om die bewoording te formuleer. Waarop moet ons fokus? Wat moet in en wat moet uit? Toe ek die toespraak lees, vul my hart met trots en ek wil Amen skree op als wat gesê is. JA! Dis my gevoelens presies! Ja, dis wat ek ook glo! Ja, ja ja!

Ek wil ‘n oomblik skryf oor Uda de Wet. Wat ‘n finominale jong vrou. Sy het baie kennis oor wetgewing en werk al jare in verskillende Vereenigings vir tuisskool. Sy ken die ins-and-outs van politiek. Sy verstaan dinge wat ek nog nie weet bestaan nie. Haar grootste voordeel, in my opinie, is dat sy groot geword het as tuisskoler toe dit nog onwettig was in ons land. Haar ouers moes veg vir die reg om haar tuis te skool. Sy het eerstehandse kennis van tuisskool politiek. Sy ken ook die taal, die lingo, die mense betrokke met wetgewing, en die prosesse wat gevolg moet word. Sy het so hard gewerk om ons te help voorberei vir die voorlegging. So min geslaap! En dit met ‘n 2-jarige en pasgebore baba! Dit is hoekom Uda nie self in Parlement kon wees nie. Maar ek wil hê julle moet weet dat daar mense is soos sy, wat nagte om werk om tuisskolers te help veg vir die reg om ons kinders self te onderrig.

Die dag van die vlug Kaap toe breek aan. My gesin ry my George lughawe toe. Ek het my splinternuwe deftige swart en wit uitrusting in ‘n sak. Ek het ‘n oornag tassie. En soos ek my kinders groet, voel ek opgewonde om uit die ma-rol te beweeg vir 24uur en in die besigheidsvrou rol te stap.

Ons span van 5 ontmoet by die Nuwe Tulbagh Hotel vir die eerste keer in persoon. Ons moet die moontlike vrae wat die kabinet sou vrae bespreek en besluit wie antwoord wat.

Lalie is daar, gereed met haar PowerPoint voorlegging en haar toespraak helder met kleur waar sy sekere goed wil onthou. Sikumbhuzo is ook daar. Die enkelpa van 4 dogters wen dadelik my respek. Ons vrouens sien dadelik dat hy baie geduld en wysheid het om sy dogters emotioneel te ondersteun. Sy taak is om oor enige vrae van registrasie of wetgewing te antwoord.

Tehillah Green is ‘n vriendin en kollega. Haar antwoorde sou fokus op sosiale bykomste, co-ops en leer geleenthede wat tuisskool bied. Sy het persoonlike ervaring van tuisskool asook die foute van die skoolstelsel gesien toe haar kinders in die skool was.

Charlene se uitgangspunt is dat enige togewyde ouer kan tuisskool ongeag hulle kwalifikasies. Want sy fasiliteer haar dogter se leer en haar dogter floreer en vorder jare voor haar portuurgroep!

Ek het lank gewik en weeg waaroor ek sal wil praat as ek die geleentheid sou kry. My suksesverhaal is tog Janéy wat gesukkel het om te leer lees. Sy wat nou op 15 ‘n boekwurm is, kon nie Tippie se vlak 1 boeke lees op 9 jaar ouderdom nie. Maar soos ek voorberei het in die dae voor die 29ste November, voel ek ontevrede oor my antwoorde. My storie is mooi maar ek voel nie dat ek daaroor moet praat nie. Ek tik die Voordele van Tuisskool twee dae voor my vlug en gaan strand toe met my gesin met vrede in my hart. En die Voordele van Tuisskool is toe wat ek geantwoord het, want dis presies wat die Voorsitter, Ms Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba, gevra het!

Ons voorlegging en antwoorde is beskikbaar as video opname op ons Facebook blad. Ons het dit regstreeks uitgesaai van binne Parlement. Voorlegging deur Lalie Moraba en antwoorde deur Charlene Chauvet-Swart en Tehillah Green is hier: https://fb.watch/hkL9E8RvHY

Antwoorde deur my en Sikumbhuzo en Tehillah is hier: https://fb.watch/hkLjx54MDV/

Wat ek mee wil afeindig is dat ons spanlede daai aand, in daardie hotel, saam gebid het. Ons het besef dat ons almal die Here dien en liefhet. Ook dat ons toegewyde ouers is wat ons kinders se beste belange so sterk op ons harte dra, dat ons voor ministers sal staan en praat daaroor. Ons het hande vas gehou en saam gebid vir ons aanbieding, vir ons gehoor en vir ons mandaat. Ons weet ons beweeg in God se wil. Tuisskool is ons roeping! En ons sal aanhou opstaan vir die voorreg om te kan tuisskool!

Ons laataand vergadering in die hotel die aand voor Parlement.

Ek op die ikoniese trappe van die Parlement gebou.

Indien julle by die Gauteng Association for Homeschooling wil aansluit, kan julle met liefde so doen (al bly julle nie in Gauteng nie). Dit is verniet en ons heg waarde aan jou insette! Vul eenvouding die vorm in om amptelik ‘n lid te word van die Vereeniging. https://forms.gle/brcrmtinZX3vfHW2A