Welkom aan al die nuwe tuisskolers! Daar is elke kwartaal nuwe gesinne wat op hierdie tuisskool avontuur begin en ek ontmoet hulle op sosiale media.

Ek sien ‘n nuwe tendens  waar splinternuwe tuisskolers wil weet “By wie tuisskool julle?” En dit laat my besef dat baie mense onder die indruk is, dat mens slegs deur ‘n kurrikulum verskaffer of instansie, kan tuisskool. Ek wil graag die goeie nuus verkondig dat jy NIE deur iemand of iets hoef te tuisskool nie. Julle kan self julle eie kurrikulum saamstel!

Voor ek verder verduidelk hoe so kurrikulum sou lyk, wil ek die groot vraag antwoord: Wat van eksamens en rapporte?

Want die hoofrede hoekom baie gesinne dadelik na instansies en verskaffers draai, is dat hulle punte as noodsaaklik aanskou. Rapporte sal rustigheid en sekerheid gee dat jou kind nie agter is nie. Dat hulle mag vorder na die volgende graad toe. Dat hy eendag Matriek sal kan skryf. En ek verstaan die behoefte aan vrede en sekerheid. Maar daar is ‘n ander manier!

Daar is ander maniere om ‘n Matriek-ekwivalent te kry. Naamlik, Britse skoolverlating eksamens (Cambridge of Edexcel), of American High School Diploma of die GED. Die laasgenoemde gee nie universiteits-vrystelling nie, maar maak tog deure oop in sekere tertiëre instansies wat dit aanvaar.

Al drie hierdie roetes kan ‘n tiener eenvoudig die silabus koop en daarvoor begin voorberei SONDER ‘n rapport of bewys dat die kind Graad 7 (of enige ander graad) voltooi het! In ander woorde, enige 14-jarige kan die handboeke aankoop, tutors se hulp inkry, aanlyn videos kyk, ou papiere skryf en oefen en hulself baie goed gereed maak vir die skryf van die eindeksamens. Hulle neem dan daardie eksamen uitslae na Umalusi  en volgens die punte, kry universiteit-toelating. Of swot nog kursusse in ‘n belangstellingsveld. Of begin dadelik werk.

Hierdie beteken dat laerskool kan lyk nes julle wil! Solank jy jou kind voorberei om hoërskool werk te kan doen, om algebra en meetkunde te kan verstaan, om opstelle te kan lees en skryf in Engels en Afrikaans asook Wetenskap genoeg verstaan sodat hulle hoërskool fisieka en chemie sal kan handhaaf, kan julle soveel ompadjies en russtoppe neem soos julle kies!

Laerskool kan dan baie speeltyd inhou. Geen huiswerk of eksamens is nodig nie! Baie biblioteek besoeke en projekte wat jou kinders graag oor wonder en belangstel. Julle kan die wêreld reis of Suid-Afrika toer en kamp in tente orals! Watse leerskool sal dit nie wees nie?! Julle kan baie wetenskap eksperimente doen of baie tyd aan kook en kosmaak spandeer. Groentetuine maak of julle tyd by ‘n vrywilligeids organisasie aanbied. Ek weet van tuisskolers wat deeltyds help by diereskuilings of gereeld by die dieretuin uithelp. Daars tyd om die skilderagtige roete te neem.

Mens kan handboeke koop by PNA of bestel van die uitgewers self. Om werk te kry is geen probleem nie. Die Internet loop oor van werkkaarte, webwerwe en skoolprogramme, (so paar wat verniet is!). As jy kan uiprint, kan jou kind skoolwerk doen.

Die enigste beperking is of mamma en pappa moet werk of nie. En selfs dit word minder van ‘n hekkie deesdae. Ouers werk deeltyds en tuisskool ook! Hulle neem hulle werk saam met hulle op vakansie en ook dan in die kwartaaltye. Hulle werk in die aande of vroegoggend en skuif die tuisskool tyd aan om in te pas. Vanaf almal geleer Zoom het, kan vergaderings basies enige plek of tyd gebeur!

Ek hoop die artikel gee vir jou vars perspektief. Jy kan die leefstyl bou wat jy graag wil hê! Dit is moontlik om uit te breek van die aanvaarde patroon van huiswerk en leerwerk tot laat in die aand. As jy voel julle kan nie aangaan soos julle tans doen nie, moenie!