Ek glo met my hele hart dat die Here ons elke dag lei en dinge oor ons pad bring wat wonderlik bydra tot ons homeschooling ervaring. En die hottentotsgot (wat sal die meervoud daarvan wees?!) is ook een van die Here se handewerke. Ek meen, wat is die kanse dat ons die Saterdag ‘n wyfie hottentotsgot vind in die huis, en dan net twee dae later ‘n mannetjie! Hulle was duidelik verskillend maar ek het opgelees oor hoe om hulle geslag uit te ken. Die mannetjie se lyf is langer en skraler en sy voelers is dikker en duidelik sigbaar. Net die oggend (voor ek die mannetjie gevind het), lees ons oor hottentotsgot in ons Werêldspektrum. Ons het die hele Welreldspektrum ensiklopediëes gekry as geskenk en het tot nou toe nie iets regtig gevind wat ons kon gebruik nie. Nou met H, was daar klomp oulike prente oor honde, hase, hamsters, selfs haaie! Toe Janéy daar deur blaai, vind sy die hottentotsgot prentjies en daar lees ons van die wyfie wat haar mannetjie eet! Die prent saam die verduideliking wys ‘n groot bruinerige hottentotsgot, met mannetjie in die hand, sonder sy kop. Ons blaai toe eerder terug na die harige honde.
‘n Rukkie later, ontdek ek die arme mannetjie in ons badkamer. In die natuur, sou hulle dalk langer geneem het om by mekaar uit te kom, maar hulle sou tog eventueel, so ek verduidelik later vir my kinders, ons het nie te veel ingemeng met natuur nie. Ons het hulle net dalk hulle gouer saam geplaas.
Dis veilig om te sê dat toe daardie mannetjie besef hy is in ‘n hok saam met ‘n wyfie hottentotsgot, het hy dadelik ‘n hoofpyn ontwikkel. Hy het sommer benoud gelyk! Ek bel toe my man om te hoor of hy dink dis ‘n goeie idee om hierdie moontlike ‘homocide’ te aanskou. Hy voel dat dit ‘n goeie geleentheid is vir leer. Ek hoop net dit sal nie ons kinders traumatiseer nie.
Wel, dit was nie ‘n paar minute nadat ek op Facebook post oor die twee hottentotsgotte nie, dat hulle ‘n vinnige ‘baklei’ het. Was dit dalk die paring? Was regtig ‘n blitsige samekoms en toe weer uitmekaar met hul rue na mekaar. Ek sug van verligting en die kinders gaan speel weer. Eks besig met middagete toe ek sien dat die mannetjie so stadig teen die glas kant opkruip, amper asof hy wil ontsnap. Julle, hy het nie ‘n kans gestaan nie. Daardie heks van ‘n wyfie het hom binne sekondes beet gehad en ja, hom letterlik vasgepen en begin byt! Vir die wat sensitief is, moet dalk nie verder lees nie (of kyk, ek gaan fotos aanheg!) Ek het toe besluit om nie die kinders te roep nie, dit was net TE kanibalisties en horribaal! Ek het weggekyk en toe weer gekyk met geskokte stilte. Dit was die gruwelikste ding wat ek in my lewe aanskou het. Ek was besig om ‘n hotdog te eet maar het my aptyt verloor. Ek het goeie fotos geneem (ek sal hulle aan die einde van die blog post plaas, sodat jy eers kan klaar lees, indien jy nie die fotos wil sien nie) en selfs ‘n ongelooflike video van hoe sy hom eet. Ja, eers met sy kop begin. Dit het my regtig geskud! Dit was so gruwelik en geweldadig. Daar was die hele middag so hol op my maag. (Maar nie op hare nie!)
Ek het toe na ‘n ruk na my dogters gegaan en begin met “Ek het slegte nuus”. Ek sê toe dat ons mos gelees het daardie oggend dat in die natuur die wyfie die mannetjie eet en dat dit toe presies is wat gebeur het. My oudste het toe bietjie gehuil en ek troos haar dat dit nie haar skuld is nie. Sy sê toe “Meskien kom daar seuntjie hottentotsgot uit die eier om die mannetjie wat weg is te verplaas!” Ek is heel verrras dat sy so logies daaraan dink en sê toe dis baie moontlik. Sy vra toe of die wyfie eers die mannetjie se kop geeet het. Ek knik. Yip, sy hoof verwyder van sy lyf. Toe sê die drie-jarige dat sy wil sien. Ek waarsku haar dat dit baie erg is. Die wyfie was toe nog besig met die mannetjie se lyf. (:\) Maar sy wil sien en ek gaan wys haar toe en sy is heel okay daarmee. Haar persoonlikheid is daardie ‘happy-go-lucky’ tipe wat nie sommer onsteld raak nie. Toe sy vir grootsus gaan vertel wat sy alles gesien het wil die dit ook gaan sien. Ek berei haar voor vir wat sy gaan sien en toe was sy ook heel okay daarmee. Sy het opgemerk dat die wyfie die bene en vlerke los, maar die lyf opvreet. As mens wetenskaplik en feitlik daarna kyk, kan jy jouself los maak van die geweldadige daad. My dogter het tot die wyfie hottentotsgot verdedig toe ek haar slegsê. “Sy doen net wat sy weet om te doen Mamma.” Ek kyk haar heel verbaas aan. Sy hanteer dit heel volwasse! Toe ek my bediende daarvan vertel, sê sy, “Dalk was sy honger?” 🙂
Wel, ek het regtig gesukkel om die gebeurtenis te verwerk. Elke keer wat ek vir die wyfie kyk, lyk sy vir my vreeslik! Sy herhinner my aan Herodius, daardie vrou wie Johannes die Doper se kop op ‘n skinkbord wou hê. Sulke euwel walglike wyfies!
Dinsdagoggend en niemand het nagmerries gehad nie, so ek is verlig. Maar ook nie meer lus om daardie vreetgesig van ‘n hottentot wyfie te sien nie. Ek vra my man om haar toe in die veld te laat gaan. Ons sien nêrens eiers nie, is nie eers seker of sy gepaar het voor sy aangeval het nie. In elk geval, ek het dink toe ek moet manier vind om die horibale gebeurtenis te sluit en onthou toe die gedig wat ons Maandag behandel het. Elke tweede week leer ons ‘n gedig uit die oulikste digbundel Klankies vir Kleuters deur DJ Opperman en H.J. van Zyl. Hier is on H-gedig vir die week:
Eina!
Hiert jy! Haai jy!
Help my!
Hou my!
Die aaklige hoepse-hapse hond
Het my broekspyp in sy mond
Help my!
Hiert jy!
Haai!
O… sjoe!
deur Twinkle Hanekom
Ons het die gedig uitgedramatiseer met speel-speel hondjie wat die kinders se broekspyp byt. Dit was vet pret. Ek besef toe Maandagaand, hoe gepas die gedig is vir ons hottentot hygroman. En kom Dinsdag skooltyd, het ons die gedig aangepas om die lelike saga te vertel. Ek het ‘n tabel opgtrek, die gedig deur Twinkle Hanekom aan die linkerkant geskryf en ons Kieswetter Klaskamer gedig aan die regterkant. Ek het laat my dogter die woorde, wat ons van die oorspronklike gedig verander het, self neer te skryf.
Eina! Hiert jy! Haai jy! Help my! Hou my! Die aaklige hoepse-hapse hond Het my broekspyp in sy mond! Help my! Hiert jy! Haai! O… sjoe! Twinkle Hanekom
|
Siesa! Hiert jy! Haai jy! Help hom! Los hom! Die aaklige hoepse-hapse hottentot Het die mannetjie kop in haar mond! Help hom! Hiert jy! Haaikona! Ag… nee! Kieswetter Klaskamer |
Klankies vir Kleuters het nog ‘n hele paar H-gediggies wat die leser moontlik kan gebruik. Hier is hulle: H-gediggies
Hoe red mens die week na so afskuwelike gebeurtenis? Kom ek wys jou die oulike hondjie en hasie prentjies wat ons gemaak het om jou beter te laat voel.
My kinders het hand-afdrukke gemaak in ‘n groot letter H en toe versier Janéy dit met ‘n hartjie en kruisie patroon. Ons het die houtkapper voël in ons voëlboek opgesoek en toe teken Janéy die prent.
Ons het gebid vir die mense van Herero in Namibia, met hulle heftige hoedens.
Ons het heerlike Hawemout koekies gebak vanaf my vriendin se resep.
Ons het ook ‘n hout huisie gemaak van roomys stokkies wat ek lank terug by Jimnettes kuns winkel gekoop het. Ek het eers ‘n huisie gesny uit ‘n goeie groote boks en toe plak ons die gekleurde stokkies daarop.
Ek het ‘n hele klomp ‘hout’ woordjies geskryf en uitgeknip sodat die kinders dit met Prestik op al die hout meubels in ons huis kon plak. Ons los dit die hele week op en ek giggel nou nog wanneer ek nog ‘n ‘hout’ woordjie vind op ‘n plek. My dogter het nog woordjies gaan uitsny en dit op meer plekke gaan plak. Die broodmes se hout houer, die skildery se raam, die bank se poot. Op die deure en vensters, tafels en kombuiskaste is die woordjie geplak. Ek besef toe ons het baie hout in ons huis! Toe ek my dogter vra om die woordjie hout in haar netjiese boek te skryf, kon sy dit mooi onthou sonder om weer dit af te skryf. Ook ons sigwoord vir die week: ‘het’. Vir wiskunde het ons gehop soos ‘n hasie en in twee’e getel. Ek het klomp maniere gebruik om in twee’e te tel soos die abakus, die liniaal en die nommer plakkaat te gebruik.
Ons het ‘n lekker H-hinnernisbaan gebou! Ek het op my horlosie (foon) tyd gehou om te kyk hoe gou kon my kinders bollemakiesie oor die handoeke, spring oor die handsak en huisie, onderdeur die hark kruip (die hark is stukkend so ons het net helfde daarvan, maar dit het mos ons gepas! 🙂 Sy moes toe hula hoop en dan hop oor die handoeke, en balanseer op die hout stomp.
Al wat vir ons oorbly is om gesigte te verf soos hansworse! My kinders het nie weer van die hottentots-episode gepraat nie so ek glo dis maar net deel van die lewe en hulle hanteer die eintlik beter as ek! Ek gaan maar ook net die Here dank vir sy help die week en my vrae oor hottentotsgotte bêre vir eendag in die hemel.
0 Responses