Ons kwartaal kom tot ‘n einde soos die publieke skole s’n nou eers begin. Dit voel bietjie vreemd want ek voel moeg maar voel of ek vars en vol idees moet wees. Maar ons het hard gewerk die laaste paar weke en sien uit na ‘n wel verdiende rus. 

Die laaste twee weke het ons die letter l geleer. En ek het bietjie help gehad daarmee. Ons het ‘n wetenskap klas bygewoon van Xperiland. Baie oulike aanbieders en uitstekende eksperimente! Hulle maak gebruik van huishoudelike items wat my laat besef dat ons dieselfde eksperimente by die huis kan doen. En ons het! 

Lemoene by Xperiland

 

Lemoene by die huis

Lemoen met skil dryf omdat daar lugborrels is in die skil. Lemoen sonder skil sink.  

  

Die kinders het die prent van die lemoene wat sink en dryf geteken en gemerk. Toe gee ek vir hulle ‘n storiesom met breuke. 

Ek het ‘n oulike resep by ‘n vriendin gekry: Butternut en Poppyseed muffins in ‘n Lemoen. Die prentjie van haar muffins was soos een van daardie perfekte Pinterest resepte. Toe ons s’n uit die oond kom, lyk dit meer soos ‘n reuse flop maar ek moes lag oor die verskil in die fotos.    

Die smaak was darem heerlik maar die kolwyntjies is moeilik om te eet. Na ‘n ruk, soek mens ‘n lepel om die koek uit die lemoenskil te skep.  

Ons het ook nuwe kunsklasse begin bywoon: Blooming Artists aangebied deur Dominique Snyman. En sal die eerste kunstenaar waaroor ons leer nou Leonardo da Vinci wees! 

 

Wat die kunsklasse so wonderlik maak is dat my kinders nie net kunstegnieke leer en met verskillende mediums werk nie, hulle leer ook kunsgeskiedenis en oor die kunstenaar se lewe. En dit is vir my baie belangrik. Ek het die jaar besef dat ‘n groot fokus van ons tuisonderrig reis, gaan mense wees. Ons gaan leer oor mense. Ons gaan biografies lees en verjaarsdae vier. Ons gaan leer van outeurs, wetenskaplikes en musikante, van uitvinders en reisigers, helde en heldinne en ons gaan uitreik aan die mense om ons. 

So die kinders het by die kunsklas die Mona Lisa met pastelle gekleur. En toe by die huis het hulle ‘n kombinasie van verf en potlode gebruik om haar in te kleur. 

   

 

   

 

  

Ons het die gewone l spel woordjies gedoen en liniaal werk en stories oor leeus gelees, ek vir die kinders en Janéy vir ons. Die kinders wou Engels ook doen uit ‘n baie oulike boek: Gold Stars, My Big Book of Maths and English. Dit verras my altyd hoe goed hulle Engelse woordeskat is. Die werk het gegaan oor begin en eindklankies van ‘n woord, wat ek dink goeie voorbereiding is vir lees in Engels. Ja, hulle het dit geniet en wou dit doen! As mens gelukkig is, vind jy ‘n kurrikulum wat jou kinders geniet en lus voel om te doen. 

Partykeer moet mens bietjie stoot en forseer om werk te doen. Maar ek vind hulle leer die lekkerste en meeste wanneer dit hulle idee was om daardie werk te doen in die eerste plek! En dikwels is dit omdat ons reeds in die klaskamer is en hulle sien die boek raak. So, jy as Ma skep die leerruimte en voorsien die werkskaarte, boeke, leermiddels, apps, plakkate, naslaanboeke. Dan begin jy hulle aan die werk kry en vra hoeveel bladsye wil jy doen vandag. Watse land/persoon wil jy oor leer? Watse leesboekie wil jy lees vandag, die een of die een? Sodoende, is julle leerproses ‘n spanpoging en kan jy met die jare meer verantwoordelikheid vir leer aan jou kind oorhandig. Natuurlik verskil elke kind en moet jy as ma agterkom wat werk die beste vir julle. 

Dis opwindend om jou tuisonderrig benadering te ontwikkel en altyd op die uitkyk te wees vir nuwe hulpmiddels en aktiwiteite. Die kontak besonderhede vir Xperiland is Anna-Marie de Beer xperiland@gmail.com en vir Dominique van Blooming Artists is +27 (76) 0605747. 

Ons het so baie van die Mona Lisa gepraat dat my 2-jarige begin sê het: “Ek is Mamma Lisa.”

One Response

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *