Ek het nog nooit in my lewe so iets aangepak nie! Dit moet bewys wees van hoe net die gedagte van homeschooling my so ‘energize’ dat ek besluit om ‘n boekrak verf projek aan te pak!
Wat is DIY in Afrikaans? Doen Dit Self (DDS)? Dit klink soos een of ander sindroom! Los gerus ‘n comment as jy weet.
So, my ouers het vir my boekrakke geskenk toe hul immigreer. Dankie Mams! Ja, my ma en pa bly al twee jaar in Engeland op The Isle of Wight.
So die boekrak is mooi hout maar ek wil dit verf vir my Kieswetter Klaskamer. Hier is die VOOR prentjie:
Sommige van julle gaan vinnig wil af scroll om die ‘Na’ foto te kyk. Moenie! Dis die probleem met Pinterest fotos en oulike homeschool mamma blogs. Die ‘before’ en ‘after’ fotos skep die indruk dat so projek vinnig en tjoef-tjaf maklik was, en dit was nie. Ek beplan om altyd doodeerlik met julle te wees en ‘real’.
Ek het nie ‘n idee gehad hoe om ‘n boekrak te verf nie so ek het gaan soek op Pinterest. Ek search toe ‘DIY paint bookshelf’ en vind vinnig klomp mooi prentjies. Ek kies ‘n mooi bedkassie foto, volg die link na die webwerf en ontdek ‘n duidelike, maklike tutorial oor hout verf metode. Ek is sommer opgewonde!
Stap een is om die boekrak af te skuur. Ek spring aan die werk terwyl baba sussie slaap en skuur so goed soos ek kan. Ek voel besig en happy. Toe sien ek my 3-jarige op die trappie sit met haar kop tussen haar bene. Sy het met my begin skuur maar het vinnig dit minder geniet as ek. “Wat is fout my engel?” vra ek sag. Ek voel skielik skuldig dat ek haar afgeskeep het en besluit daar en dan, dat ek nie so behep met my homeschool koningkryk gaan raak, dat ek my kinders afskeep nie. Is dit moontlik? Ek dink dit kan gebeur dat ‘n mamma so taak-gerig word dat sy ‘n kinder-hartjie miskyk. Maar my kindjie was toe nie hartseer nie maar het net na die miertjies wat tussen die bakstene loop gekyk. Ek voel verlig en skuur toe voort. Het nou nie orals geskuur nie, maar dit lyk geskuur.
Stap twee volgens die tutorial is wood primer. Ek gaan na my naaste Build It en vra die ou oom wat vorentoe stap om my te help vir wood primer. Hy vra “Wat wil jy daarmee maak?” Ek voel effens onseker en hoor my stemmetjie “ek wil hout prime?” Hy begin vertel hoe het hy al baie geverf sonder wood primer en dat as mens dit eers op geverf het kry jy dit nooit af nie. ‘Hoekom sou mens dit wou af haal?’ wonder ek. Hy wys my ander verf en toe hout varnish in verskillende kleure terwyl ek saam stap met baba op die heup en kleuter aan my sy. Toe sê hy: “Ek wil jou nou nie deurmekaar praat nie.” Te laat Oom. Te laat. Ek is toe daar weg met niks.
Dae gaan verby waar ek wens ek het die wood primer gekoop! My vingers jeuk om te verf al is ek verkoue en die kinders is ook siek. So, op ‘n dag toe ek vol self-vertroue gevoel het, gaan ek terug na daardie Build It en sê vir die oom ek soek daardie Wood Primer asook bordkryt verf. Hy vra: “Wat wil jy daarmee maak?” (Lyk my dit is sy standaard vraag.) “Ek wil my muur daarmee verf!” Wat dink hy wil ek daarmee maak? Jinne! Ek voel vasberade en toe hy sê hy sal my ander verf wys wat net so goed sal werk, sê ek nee, my baba is siek en ek is haastig. Dis nie elke dag dat ‘n mamma vasberade voel nie, maar ek kon daai dag voel, my gesig het sommer vasberade gelyk!
Terug by die huis, verf ek ‘n lagie wood primer en voel bemoedig toe manlief sê dit lyk so mooi, ek kan dit eintlik net so los. Ek huiwer ‘n bietjie, maar besluit nee, ek gaan deur druk!
Hiers die Wood Primer foto:
Ek moes dit eintlik weer skuur daarna, maar het daai stap geskip.
Toe verf ek twee lagies Post Office Red quick-drying enamel. Sjoe, hoe vinnig tik ek daardie woorde! Terwyl dit my twee weke en 3 verfkwasse geneem het! (Die verf raak droog terwyl ek na my baba omsien en dan raak die kwas hard en onbruikbaar.)
Ek het my baba dogtertjie in haar bedjie gelê vir haar slaapie, vinnig ou klere aangegooi en ‘n paneel geverf voor sussie wakker geword het. Dan het ek haar met speelgoed naby my laat speel (ek is buite, sy binne want die verf walms is nogal sterk). Ek verf so vinnig, die verf spat en drip en ek probeer dit netjies doen maar dit word so gou droog dat mens nie twee keer oor dieselfde plek kan verf nie, want dit lyk dan net leliker. Maar julle! Ek geniet myself! I feel alive!
Toe die boekrak ‘n paar dae staan met net een rooi laag, was ek getempteer om ons tuinjong, wie die muur so goed met bordkryt verf geverf het, te vra om klaar te verf maar dan sou dit nie ‘n DIY projek gewees het nie. Meer ‘n Moses-het-my-bietjie-gehelp projek. En dit wou ek nie hê nie. So bietjie vir bietjie, stuk vir stuk het hy klaar gekom.
Soms het ek te lank geneem om hande te was en kleinlief huil en skree, so ek tel haar op al ruik ek na Thinners en daars rooi verf onder my naels en ‘n haar hier en daar wat droog word op die verf, maar dit gebeur. En nou as ons daar in ons lees hoekie sit en lees, sal daardie boekrak ekstra spesiaal voel, want daars ‘n storie wat saam met dit gaan.