Ek weet nie hoe produktief die week was werksgewys nie. Met dit bedoel ek, ons het nie baie bladsye, boekie werk, kurrikulum goeters gedoen nie. Maar ons het nogsteeds baie geleer! Daarom is ek bly dat ek fotos neem en die blog het, om rekord te hou van wat ons als doen.
Ons het groente vanuit ons kos speelgoed gegroepeer. En ‘n pragtige bladsy gevind oor groente in ons “Warmlugbalon boek” (dis hulle geliefde ensiklopedie: ‘The Kingfisher Visual Factfinder’ met ‘n prentjie van ‘n warmlugbalon aan die kant). Ons het hierdie prent gebruik om met waterverf potlode groente wat mens bo die grond en onder die grond vind, te teken. My dogter het dit so geniet om eers die groente te teken en toe met water oor die groente te verf!
My dogter het haar G en g letter geoefen en nuwe woordjies gemaak daarmee. Vir die wat wonder wat doen 3-jarige sussie terwyl ouer sussie werk, sal ek julle vertel. Sy bou legkaarte. Sy speel met klei. Sy werk in haar Lollos werkboekie op ‘n bladsy wat pas by ons week se tema. En die week het sy gesiggies geteken en lekker gespeel met die hanswors gesig speelding wat ek jare terug gekoop het by Toy Zone. Sy moet die gesig op die kaartjie naboots en bou met die gesigdele.
Maar verder was daar nie enige groot werkstukke nie. Tog was die homeschooling GREAT in die sin dat my kinders gegroei het in karakter! Ons het gewerk aan gesindheid. Natuurlik werk ‘n ouer gedurend aan goeie gewoontes (minder gekerm en meer gehoorsaamheid), maar dis so gaaf as groei gesien kan word!
Ek het vergeet om eiers te koop en wou so graag grondboontjiebotter koekies bak. Toe vra ek my dogtertjies om ons bure oorkant die veld, te gaan vra. Janéy is gewoonlik bietjie mens sku en vermy ook die geprikkel van lang gras en moontlike gevaarlike slange. Maar die oggend is sy vol self-vertrou en gewapen met leë eier houer, lang broek en boots, stap sy saam haar sussie na ons bure. Ek motiveer en skree aanmoediging van die stoep af (ek gaan nie saam nie want baba sussie slaap in haar bedjie). Kom sy terug met twee eiers in die hand en ‘n glimlag van trots oor wat sy bereik het. Ook met die nuus dat die Tannie by die dokter is en dat sy graag ‘n briefie vir die Tannie wil skryf. Ons bak eers saam die lekker koekies en maak ‘n geskenk pakkie op met koekies in ‘n blik. Toe skryf sy op ‘n kaartjie “ek hoop Tannie voel gou beter, liefde Janéy en Ilani” en die twee stap weer deur die gras met die geskenk vir die buurvrou. Ek dink dit kan net goed wees om guns te kweek met mooi gebare by mens se bure!
Baie lekker grondboontjiebotter koekie resep.
Ons het gemmerbroodmannetjies ook gebak en kan jy glo? Vergeet om die eier wat ons geleen by te voeg! So hulle het minder goed gebind. Ons het lekker gemmerbier gedrink en gedroogte vrugte geeet. Gegly by die glyplank en gegrou in die grond.
Ons het goeie g-boeke gelees. Sommer die wat klaar op ons boekrak was: ‘Die Teddiebeer wat sy grom verloor het’, ‘Grieta die Gans’ en natuurlik die gunsteling: ‘Die Goorgomgaai’! Met die laasgenoemde het ek laat my dogtertjie elke sin agter my aan herhaal. Dis goeie spraak oefening.
My man het gesoek vir ‘n Gogga boks maar tevergeefs! Hy besluit toe op ‘n glas ‘gogga’ boks en die kinders het die terrarium self gemeubelier. ‘n Sprinkaan is die eerste gas in die Gogga Boks.
Ons het bietjie gepraat oor Gauteng. Ek het vir my dogtertjie die 9 provinsies gewys en dat Gauteng die kleinste is. Gauteng beteken ‘Plek van Goud’ in Sesotho. En dit lei dan na die gesprek oor goud en hoe dit gemyn word.
Geld was ook gebustudeer. My 6-jarige kan nou die bruin sente herken. Ek het ook my man se geld versameling gaan uitgrawe. Sjoe! Baie interessant om na al die lande se geld te kyk! Janéy hou van die Griekse geld met die gatjie in! Regtig!
Sy wil nou met alle geweld haar eie geld versameling begin!
Ons het al met Corban en Sammy (ons dowe maatjies) gespeel, so my kinders was blootgestel aan gestremdheid en gebaretaal. Ek het eintlik my oudste geneem vir gebaretaal lesse toe sy 10maande oud was. Ek het gehoor dat ‘n baba eerste tekens met haar hande kan wys voor sy praat en wraggies, dit het so gebeur! Sy kon die teken vir ‘melk’ wys met haar vuis net na ‘n paar oefen lessies. Ek het gelukkig my gebare taal lér gehou, met al die maklike hand bewegings by en deel dit graag hier met julle! Ek laai al die bladsye op na my Printable Page, sodat jy dit kan uitdruk en vir jou kind wys.
Ons het Three Little Monkeys gesing met die gebaretaal tekens. Kry jou eie kopie hier.
Gaan gerus na die webwerf as jy dvds soek om jou kind op ‘n prettige manier te leer van gebaretaal. www.signingtime.com
Ek wil graag fondse insamel vir my liewe vriendin Tanya Vermaak. Sy is ‘n swak-siende mamma van twee dowe kinders! Corban is 7 en Samantha is 5-jaar oud. Hulle benodig ‘n kogliêr-inplanting om te kan hoor! Die dokter is bereid om die operasies verniet te doen, hy vra net R250 000 per kind vir die apparaat! So, ek hoop om nog ‘n behoorlike fonds-insameling te reël maar is iemand wat baie ywerig iets begin en sukkel om deur te voer as daar enige teenkanting is. Indien jy wat lees graag ‘n bydra wil maak in die veilige Trust fonds rekening: Steynberg Kids, 9277975582, ABSA spaarrekening. Enige goeie gebaar sal opreg waardeer word!
Ons geheuvers vir die week is Lukas 8: 3 “Gee ons asseblief, elke dag genoeg om van te leef.” Ek dank die Here vir sy groot genade want dit was werklik ‘n geseënde week!
Dt lyk na groot pret!!!!
Dankie Arista! Dit is!
Dankie dat jy dit deel. Tuisskool is so voorreg. Dis ons 7e jaar, en vanjaar het ons 4 laerskoolkinders! Jongste grad een en oudste graad 7. Viervoudige vreugde! Blessings! Gerda
Dankie dat jy kom hullo sê het Gerda! 7jaar! Sjoe, dis wonderlik! Ek sien ook uit na soveel leerlinge! 😉
Die Here seën julle!
:-Janet