Ek is so bly as ek ‘n prettige idee kry! Dis lekker om kreatief te wees!
Laas week vind ek ‘n sak vol enkel kouse. Jip, weet nie wat die plan daarmee was nie – hoop dalk sy maat verskyn êrens. Ek roep die kinders maar niemand wil my kom help nie so ek pak self die woord kous uit met die kouse.
Toe ek klaar is, besef ek dat die woord ‘kous’ nie heeltemal akkuraat is nie. Daars mos baie kouse! Voor ek die ‘e’ kon byvoeg, stap een van my 1 jarige tweeling in die kamer met ‘n groot glimlag! Sy loop deur al die kouse op die vloer. Ek lag lekker saam met haar en gee haar ‘n stywe druk! 15 maande is so ‘n oulike ouderdom!
Maar die kous het idees laat wortels skiet in my brein! Mens kan mos klomp goed pak en woorde spel met die eintlike voorwerp!
Ek gaan pak belt en belde in my kamer.
So toe maats Vrydag kom speel, steek ek hulle almal aan die werk om klomp enkelvoud en meervoud woorde te bou!
Die maats het blare in die tuin gaan haal en ‘n emmer vol klippies. Wat beter manier is daar om die spelreëls te onthou as jy die woorde letterlik moes bou met daardie voorwerp?!
Pegs moet streng pennetjies wees maar ons leer sommer die Engelse woord daarvoor.
Baie dankie aan Zarien en die maats wat kom help het!
Watse woorde kan julle nog aan dink?