Hoekom sukkel my kind om te lees en wat moet ek doen?
Ek hoor dikwels van Mammas wie besluit het om hulle kinders uit die skool te haal en te begin met tuisskool. Baie keer, kom hulle agter dat hulle kind nie goed kan lees nie.
Wat het gebeur? Hoekom het die kind nie op skool geleer lees nie?
Daars natuurlik baie moontlike antwoorde van hoor- of sigprobleme tot konsentrasie probleme of leerprobleme.
Maar ek dink daars iets baie meer eenvoudigs fout: die skool beweeg te vinnig! Die aanleer van klankies word in Graad R gedoen. Graad Eentjies val weg met leesboekies wat groot woorde in het en die kind moet bloot onthou wat Juffrou sê die woord is. Dis waar dat baie kinders deurkom deur slegs die storie te memoriseer. Hy lees mooi vlot vir ouers en juffrou en almal is tevrede. Ongelukkig, besef mamma eers te laat dat hy alles bloot gememoriseer het.
Om te keer dat hierdie gebeur, vra jou kind woordjies afsonderlik van die storie. Sit jou vinger op die woord in die middel van die sin en laat hy dit lees. Sodoende, kan hy nie die rympie of storie onthou nie. Dit gaan nie daaroor om jou kind uit te vang nie, dit gaan oor seker maak dat hy/sy kan lees.
Ek is bewus daarvan dat klankies op mekaar geleer word. Soms twee of meer in een week. As jou kind afwesig was toe hulle die letter R geleer het, is dit moontlik dat hy glad nie R ken nie en daarom kan hy nie woorde met daardie klank in lees nie.
Meskien verwar jou kind net twee klankies. Wat baie algemeen is! Meeste kinders onthou nie dadelik al die klankies nie! Hulle kort tyd en oefening met elke klank afsonderlik om dit behoorlik onder die knie te kry. As Jannie nie die verskil tussen b en d onthou nie, lees hy dalk bom as dom en dit raak net erger daarna. Dit is nie genoeg om slegs die alfabet te kan sing nie. Die kind moet verstaan dat die E letter se klank e vir emmer is. F is f vir fiets. ‘n Mens kan nie lees met die hoofletter name van woorde nie.
Ek sal raai dat daar niks groots fout is met jou kind nie. Hulle het net ‘n stappie hier of daar gemis en nou kan hulle nie maklik klim tot bo nie. Nadat kinders elke klank van die alfabet goed ken en onthou en van mekaar af kan onderskei, moet hul diftonge leer. Dis die aa, ee, oo, oe, ie, ui, uu, eu, ou, ei, aai, ooi, eeu, oei. As hy sukkel om klankies bymekaar te sit en nie bv, s-l-eu-t-e-l kan uitspel nie, kan dit wees omdat hy nie die ‘eu’ klankie ken of onthou nie. Of, hy sukkel met sintesis (die klankies bymekaar voeg).
Liewe ouer, haal diep asem. Ek raai julle vloek en skel die onnies nou uit in julle kop. Of jy verwyt jouself. Ek dink dis meer CAPS en die sisteem se skuld. Daars net baie werk en baie kinders. Ons almal moet saamtrek eerder as vingerwys. Sodra jy klaar kwaad gevoel het, kom ons kyk na strategieë vorentoe.
- As jou kind Graad R of 1 is, oefen gereeld saam met jou kind al die klankies. Oefen ook sigwoorde soos die, ‘n, ek, dit, wie, wat, jy en jou ens.
- Maak of koop flitskaartjies sodat julle saam al die letters van die alfabet weer oefen. Om dit interessant te maak, oefen met skuim letters in die bad, en magnete op die yskas.
- Vra anders om ook: waarmee begin ‘boom’? Watse klank hoor jy in die middel van ‘kat’? Waarmee eindig ‘sit’?
- Sit 2 klankies langs mekaar en laat jou kind dit lees al maak dit nie sin nie. Byvoorbeeld: la, le, li, lo, lu, at, et, it, ot, ut. Hulle oefen dan elke klinker saam met ‘n medeklinker sodat. Hierdie is onsettend belangrike oefeningtjies. ‘n Bou blokkie van lees wat te veel kinders skip.
- Eers nadat julle 2 letters saam geoefen tot vervelens toe, kan jy begin met 3-letter woordjies bou.
- Oefen diftonge en medeklinker kombinasies: sk, tr, bl, dr, kl, st, gr,
As jy al hierdie gedoen het, maar besef jou kind sukkel nog steeds, neem hom/haar asseblief vir hulp en asseseering. Opvoedkundige sielkundiges is opgelei om tot die wortel van leesprobleme te kom. Hulle sal jou kan help op die regte pad.
Ek wens elke ouer baie sterkte toe. Of jy nou tuisonderrig of die ‘school run’ doen. Albei het hulle uitdagings en is dikwels moeilik! Maar, JY kan jou kind tree vir tree leer lees!
: Janet Kieswetter het ‘n BPsig in Sielkunde en het haar Na-graadse Sertifikaat in Onderwys verwerf deur die Universiteit van Pretoria in 2006. Sy is getroud aan Timothy Kieswetter en tuisskool hulle 5 dogters in Pretoria.