Bote en Skepe
Ons Saam-Leer groep kom elke tweede Woensdag bymekaar. Die afgelope Woensdag was dit my beurt om aan te bied. Ek het mos onderwys geswot en geniet dit vreeslik om voor ‘n klomp blink gesiggies te staan en hulle iets te leer. Ek was so opgewonde om weer die voorreg te hê om ‘n les aan te bied!
Ek het begin om te vertel van die eerste soort bote – gemaak van riet en ander gemaak van hout. Toe wys ek vir hulle ‘n swaar stuk hout. “Wat dink julle? Gaan hierdie sink of dryf?” Meeste het gedink dit gaan verseker sink. Tot hulle verbasing, dryf die swaar stuk hout.
Dit was die begin van hope pret met goed wat sink en dryf. Tot hul verbasing, het ‘n appel en ‘n lemoen ook gedryf. So, kon ons bespreek hoe lug binne ‘n houer dit laat dryf. Toe die kinders opverdeel in ouderdoms groepies, het hulle nog sink en dryf eksperimente gedoen.
Ons was die Maandag biblioteek toe sodat ons boeke oor bote kon uitneem. (Dink net vir ‘n oomblik aan die tweeling wat klim en klouter, babbel en skree in die biblioteek.) Al het die Internet navorsing soveel makliker gemaak, ek dink naslaan boeke met hul gekonsentreerde prente en fotos sal nog waarde dra vir jare om te kom.
Die rede hoekom ‘n swaar vragskip op die water kan dryf is Archimedes se prinsiep van water verplasing. Ons kon dit demonstreer deur ‘n liniaal in water te laat val. As dit op die klein kant in die water gegooi word, dan sink dit dadelik tot die bodem. Maar as jy die liniaal versigtig plat op die water neerlê, dan dryf dit!Ons het gesels oor die verskillende tipe bote en opgestaan om aksies saam met elkeen te doen. Ons roei ‘n roeiboot met ‘n roeispaan. Ons vang die wind en ‘n seilboot. Ons duik onder die water met ‘n duikboot en sleep en skip met ‘n sleepboot.
Die 6-7 jariges moes toe die woorde by die bote pas vir hulle oefen aktiwiteit. Die 3-5 jariges het ‘n selbootjie geplak. En die oudste groep, 8+9 jariges moet die dele van ‘n skip neerskryf.
Toe was daar geleentheid om ‘n seilbootjie te maak vir die groter kinders wat wou. Ek sit verskeidenheid materiale op die tafel neer met ‘n paar voorbeelde van wat ons vroer in die week gemaak het en hulle kon kies hoe om hulle bootjie te bou.
Mens kan plastiek of polistereen gebruik vir die bootjie, ‘n sosatie stok vir die mas en felt materiaal vir die seil. Om die mas in die boot te anker kan mens ‘n stuk klei gebruik, wondergom of selfs helfde van ‘n appel!
Gepraat van appels, ons het oulike bootjie eetgoed voorgesit.
Ons is ook gelukkig om self ‘n kayak te hê sodat die kinders ‘n reddingsbaadjie kon aantrek en maak asof hulle bootjie roei.
En soos dit dikwels met my gebeur met ‘n tema, het die kinders periskope gemaak by hulle wetenskap klas!