Hierdie artikel is geskryf deur Marisa Haasbroek.
1. Matriek vir tuisskolers: Gebruik ’n kurrikulumverskaffer
Talle, talle tuisskoolgesinne het al suksesvol matriek geskryf deur ‘n formele kurrikulumverskaffer te gebruik. Hulle berig dat hulle kinders goed gevaar het en maklik deur universiteite aanvaar word. Hierdie is beslis ‘n manier van matriek vir tuisskolers wat kan werk.
Om vir hulle kliënte toelating tot die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te kan gee, moet hierdie verskaffers leerders formeel toets en gradeer vir graad 10, 11 en 12. Dit beteken jou kinders sal vir minstens die laaste drie jaar van tuisonderrig “skool by die huis” moet doen, met toetse en take en eksamens soos enige skoolkind. Om te verseker dat jou kind gereed is vir die kurrikulumverskaffer se graad-10-werk kan hulle selfs van jou verwag dat jou kind al vroeër formeel hulle leerplan begin volg.
Jy kan hierdie manier op jou eie by die huis doen en jou kind aanlyn toetse laat skryf en take laat indien. Jou kind sal dan net die eksamens by die kurrikulumverskaffer se eksamensentrum gaan skryf. Maar jy kan ook kies om deur ‘n studiesentrum te werk, waar jy jou kind formeel inskryf en laat skoolgaan. Gewoonlik in kleiner klasse en met meer aandag deur die onderwyser. Van die kurrikulumverskaffers doen ook ondersteuning met onder meer Whatsapp-groepe, telefoonoproepe en so meer.
Hier is ‘n paar van die bekendste kurrikulumverskaffers:
MOS-Wêreldwyd aanlynskool. (Skryf IEB matriekeskamen)
Breinlyn (Skryf die matriekeksamen wat privaatskole skryf)
Nukleus (skryf SACAI se matriek, Gr R – 12)
Impaq (Skryf SACAI se matriek)
Volkskool Orania se Afstandleer (Skryf SACAI se matriek)
Moria (Lê die Cambridge eksamen vir matriek af)
Die grootste voordele van kurrikulumverskaffers vir matriek
Jou kind volg ‘n hoofstroommanier van doen. Musiek in die ore van die skeptiese oupa en ouma. En makliker by die universiteit, wat jou kind se sertifikaat as net nog een van die bondel sien en nie as ‘n uitsondering nie.
Alles is vir jou uitgewerk en voorgeskryf. Jy hoef nie te wonder watter studiemateriaal om te kies of handboeke om aan te koop nie. Dit beteken ook jou kind kan taamlik selfstandig deur die hele proses werk.
Buiten vir die tegniese matriek is dit tans die enigste manier waarop jou kind as tuisskoler matriek in Afrikaans kan skryf.
Die grootste nadele van kurrikulumverskaffers vir matriek
Dit kan taamlik duur uitwerk en vergelyk prysgewys omtrent met privaatskooltariewe, veral omdat jy dit vir minstens drie jaar só moet doen.
Jy is uitgelewer aan iemand anders se skedules, sperdatums en voorkeure. Die hele proses kan nogal uitputtend en baie harde werk wees.
Wat leerinhoud betref, volg jou kinders dieselfde CAPS leerplan as skoolkinders.
Lees ook hierdie artikel oor ‘n ma wat verkies om SONDER kurrikulum te tuisskool.
2. Matriek vir tuisskolers: doen dit deur Cambridge
Die Cambridge eksamen is ʼn groot, internasionale eksamen wat vanuit Brittanje bestuur word. Dis die amptelike matriekeksamen van een van ons buurlande — Namibië. In Botswana en Zimbabwe is die eksamen ook baie gewild. Afrikaans is een van die keusevakke wat jy met Cambridge kan skryf, maar die res van die eksamen word in Engels afgelê.
Daar is ʼn magdom vakke en vraestelle, handboeke en eksamensentrums om uit te kies. Daarom, so sê tuisskolers wat al hierdie roete gevolg het, is dit die beste om by ʼn ondersteuningsgroep aan te sluit.
Cambridge sonder tutors is moeilik
Die gebruik van tutors word ook aanbeveel. Ervare tutors kan vir jou kind die tegnieke, slaggate en vaardighede van Cambridge uitwys en leer ken. Jou tutor kan jou ook help om te besluit watter handboeke om aan te koop, omdat ʼn spesifieke tutor gewoonlik deur ʼn spesifieke handboek werk.
Cambridge is akademies uitdagend wat inhoud en volume betref. Dié eksamen is meer gerat vir die kind wat beslis universiteit toe wil gaan. Vir die kind wat keuring wil kry in een van kursusse wat moeilik is om plek te kry, soos medies, veeartsenykunde en fisioterapie, is Cambridge waarskynlik die beste keuse.
Ouers met meer as een kind, wat verskillende matriekopsies gebruik het, sê verder Cambridge is meer geskik vir die kind wat natuurwetenskaplik en wiskundig aangelê is.
Lees hier hoe ’n Afrikaanse tuisskoolma haar kinders vir Cambridge voorberei het.
Voordele van Cambridge vir matriek
Cambridge bied uitstekende voorbereiding vir die uitdagings van universiteit. Ouers wat dit al gebruik het, sê hulle kinders seil veral deur hulle eerste jaar in vakke soos Wiskunde, Fisika en Chemie. Sulke kinders het dan meer tyd om gewoond te raak aan al die ander nuwe dinge van universiteit en kwel hulle nie oor akademie nie.
Omdat Cambridge sulke hoë standaarde het, het die eksamen aansien en kan ’n beursgewer dalk net oortuig dat jou kind die beurs eerder verdien.
Nadele van Cambridge vir matriek
Dit kan duur uitwerk met die dat mens verkieslik tutors moet gebruik en vergelyk omtrent met ‘n privaatskool se pryse.
Dis geweldig intensief en in die maande kort voor die finale eksamen, is daar min tyd vir enige ander stokperdjies en belangstellings.
Afrikaanse kinders lê nie matriek in hulle moedertaal af nie. Wat meer is, hulle lê matriek af in ‘n baie hoë-standaard-Engels.
3. Verwerf ’n Amerikaanse Hoërskooldiploma as ’n matrieksertifikaat
In plaas daarvan om die Britse model van Cambridge te volg, is daar vir SA tuisskolers ook die moontlikheid om eerder ʼn Amerikaanse model vir matriek te volg. Mens kan deesdae ʼn Amerikaanse Hoërskooldiploma in Suid-Afrika verwerf wat deur Universities South Africa (USAf) aanvaar sal word.
Volgens mense wat dit reeds doen, bied so ʼn Amerikaanse Hoërskooldiploma ʼn wye verskeidenheid vakke aan, wat mens die geleentheid bied om jou kind voor te berei vir meer gespesialiseerde beroepsrigtings soos geneeskunde en ingenieurswese.
Dié model is ook baie meer aanpasbaar en plaas nie so geweldig baie klem op eksaminering soos Cambridge nie. Vir die verwerwing van so ʼn Diploma val die klem op bemeestering van kennis en nie op die slaag van nog ʼn eksamen nie.
Onthou, Amerikaners verkies ’n breëbasisonderwysmodel
In die Amerikaanse onderwysmodel word vereis dat studente kennis van ʼn wye verskeidenheid vakke moet bemeester en enige Amerikaanse Hoërskooldiploma gaan hierdie feit weerspieël. In die Britse en selfs Europese modelle spesialiseer kinders vroeër.
Mens kan met ʼn Amerikaanse Hoërskooldiploma met soveel vryheid of struktuur werk as wat jou pas. Jy kan julle studies ook beter plooi rondom jou gesin se lewensbeskouing en studievoorkeure. Daar is heelwat gehalte studiemateriaal beskikbaar, sommige gratis, ander teen ʼn intekenfooi.
As jou kind op pad universiteit toe is, is dit waarskynlik gewens om ʼn geakkrediteerde Diploma te verwerf. Talle Amerikaanse en selfs plaaslike diensverskaffers bied formele kreditasie aan, wat sal verseker dat jou kind se kwalifikasie aan die vereistes van universiteit sal voldoen.
Vir hierdie kwalifikasie moet jou kind vrystelling van USAf verkry. Dis die heel beste om vroeg reeds met die universiteit van jou keuse hieroor te begin onderhandel. Verskeie ouers het reeds uitgevind of SA universiteite so ʼn geakkrediteerde Amerikaanse Hoërskooldiploma sal aanvaar en het bevestiging daarvoor gekry.
Alle werk word uiteraard in Engels aangebied en toetse en eksamens word ook in Engels afgelê. Sommige verskaffers bied die moontlikheid om Afrikaans as ʼn keusevak te neem.
Lees hier hoe ʼn SA ma die Amerikaanse Hoërskooldiploma gebruik om haar kind voor te berei vir universiteit.
Voordele van ’n Amerikaanse Hoërskooldiploma
Meer vryheid oor keuse van vakke en vakinhoud
Minder klem op eksamens as Cambridge
Mens kan al op hoërskoolvlak met universiteitsvlakkursusse begin
Nadele van ’n Amerikaanse hoërskooldiploma
Die diploma is nog nie so bekend soos Cambridge nie en jy sal by die universiteit van jou keuse, asook USAf moet seker maak van vrystelling
Jou kind skryf nie matriek in sy of haar moedertaal nie
4. Graad-12-alternatief vir tuisskolers: GED®
Die GED® is ‘n Amerikaanse skoolverlaterseksamen, wat internasionaal, en net in Engels, afgelê kan word. Ouers berig dat veral kinders met beter taalaanleg baie goed vaar met die GED®.
Verskeie tuisskolers het al die GED® afgelê en studeer nou suksesvol aan ‘n universiteit of kollege. Universities South Africa (USAf) het egter onlangs sy regulasies rakende die uitreiking van buitelandse voorwaardelike vrystelling strenger gemaak. USAf het kennis gegee dat hy nie meer aansoeke vir Buitelandse Voorwaardelike Vrystelling van Suid-Afrikaanse GED®-gegradueerdes sal oorweeg nie.
Baie buitelandse universiteite, wat hoogaangeskrewe graadprogramme aanbied, aanvaar egter steeds die GED® vir toelatingsdoeleindes. Suid-Afrikaanse GED®-gegradueerdes wat vir graadstudie wil inskryf, het die opsie om oorsese aanlyn universiteite te oorweeg. Meer inligting hier: Online University Degrees
Lees solank hier hoe Shirley Erwee by ‘n vorige geleentheid die GED® bespreek het.
Vir die GED® word mens net in vier vakke getoets:
Mathematical Reasoning
Science
Reasoning Through Language Arts
Social Studies
Nog vereistes van die GED®
Jou kind moet minstens 17 jaar oud wees om die GED® te kan skryf. Daar is geen voorgeskrewe handboeke of sillabus nie. Die eksamen toets algemene vaardighede om seker te maak jou kind is gereed vir werk of verdere studie.
Mense wat hierdie roete kies, redeneer dat as hulle kinders ‘n buskaartjie nodig het om op die bus na hoëronderwys te klim, hulle die een verkies met die minste pyn en lyding. Die GED® pas skoollosse tuisskolers goed, want dit toets die soort vaardighede wat sulke kinders in elk geval deur ‘n breë, vrye soort onderwys opdoen.
Die voordele van die GED® vir matriek
Omdat dit nie so intensief is soos byvoorbeeld Cambridge se eksamen nie, kan studente steeds fokus op ander belangstellings soos sport, kuns en stokperdjies. Hulle gee dus nie jare van hulle lewens prys net om ‘n “diploma” te kan kry nie.
Interessant genoeg verkies sommige Engelssprekende tuisskolers juis hierdie eksamen omdat die Afrikaans in Cambridge en by kurrikulumverskaffers hulle kinders pootjie.
Dis uiters bekostigbaar.
Baie buitelandse universiteite, wat hoogaangeskrewe graadprogramme aanbied, aanvaar steeds die GED® vir toelatingsdoeleindes. Suid-Afrikaanse GED®-gegradueerdes wat vir graadstudie wil inskryf, het die opsie om oorsese aanlyn universiteite te oorweeg.
Die nadele van die GED® vir matriekopsie
Die USAf het onlangs sy regulasies rakende die uitreiking van buitelandse voorwaardelike vrystelling strenger gemaak. USAf het kennis gegee dat hy nie meer aansoeke vir Buitelandse Voorwaardelike Vrystelling van Suid-Afrikaanse GED®-gegradueerdes sal oorweeg nie.
Afrikaanse tuisskolers skryf matriek in hulle tweede taal, wat beslis nie optimaal is nie.
Dis nie die regte soort matriek as jou kind belangstel in ‘n studierigting met baie streng keuringsvereistes nie.
5. ’n Tegniese opleiding vir tuisskolers
Vir tegniese opleiding moet jou kind die nodige N-kursusse deurkom. Mens kan elke N-vlak in sowat tien weke afhandel. Elkeen van hierdie N-vlakke het minstens vier vakke. Hier is die voorbeelde van die tipiese vakke wat in so ‘n N-vlak aangebied word:
Wiskunde, Ingenieurswetenskap, Motorwerktuigkunde se vakteorie en Metaalwerk se vakteorie.
Die N-kursusse vorm ook die basis van vakman-opleiding
Hierdie N-vlakke wat deurgekom word, vorm ook die basis van vakman-opleiding, wat volledig in Afrikaans deur instansies soos Sol-Tech aangebied word. Vir ambagsopleiding is indiensopleiding en dan ook ‘n finale vaktoets ook nodig. ‘n Kandidaat moet minstens 22 jaar oud wees voordat hy of sy die vaktoets kan aflê.
Van 2021 af is dit nie meer moontlik om ʼn volwaardige matrieksertifikaat met hierdie roete te verwerf nie.
Jou kind kan die N-kursusse grootliks deur selfstudie afhandel deur ‘n aanlynkollege soos Ntek.
Hierdie opsie is uiters geskik vir kinders wat tegnies aangelê is.
Voordele van tegniese opleiding
Dit kan grotendeels in Afrikaans afgelê word
Dis bekostigbaar en kan stuk vir stuk afgehandel word
Nadele van tegniese opleiding
Dis nie meer moontlik om ‘n matrieksertifikaat deur N-kursusse te verwerf nie.
Hierdie roete word nog nie so baie deur tuisskolers benut nie en inligting en ondersteuning daaroor is skaars.
Klik hier as jy meer wil lees oor die moontlikheid van ‘n tegniese matriek. Ook mense wat dit reeds doen en hoe hulle dit aangepak het.
6. Volwasse matriek
Nog op moontlike matriek vir tuisskolers is die volwasse matriek. Dit is nou moontlik dat enige iemand in Suid-Afrika wat 21 jaar en ouer is ʼn volwasse matriek heeltemal gratis deur die Departement of Basic Education (DBE) kan verwerf.
Mits jy aan die vereistes van USAf voldoen, kan hierdie volwasse matriek jou selfs toelating tot ʼn universiteit bied.
Dit klink of hierdie opsie ook ʼn goeie keuse is vir iemand wat net sekere vakke kortkom. Daar is ook opsies om erkenning te kry vir vakke wat vantevore geslaag is.
Die vereistes
Jy moet ouer as 21 jaar wees.
Enige een van die volgende drie kwalifikasies sal jou toelating tot hierdie eksamen gee:
ʼn Graad 9 rapport
ʼn sogenaamde GETC kwalifikasie. Dis ʼn gestandaardiseerde eksamen wat leerlinge aan die einde van graad 9 aflê. Dit word tipies gedoen deur kinders wat op daardie ouderdom die skool wil verlaat.
Enige ander gelykwaardige en erkende kwalifikasie wat minstens twee amptelike tale ingesluit het.
Nie ‘n graad 9 rapport of sertifikaat nie?
Ek het navraag gedoen by die eienaars van Kenweb en hulle sê mens kan net graad 9 deur hulle doen as jy wil. Die enigste vereistes wat hulle het, is dat leerders al die nodige produkte moet aankoop wat hulle vakkeuse dek. Hierdie produkte is die rekenaarprogram, handboeke, eksamens en die sertifikaat.
Hoe jy te werk moet gaan om die volwasse matriek te skryf
Jy kan aanlyn of by enige distrikskantoor van DBE registreer vir die eksamen. Dit word in Junie en Julie afgelê. Registrasie open teen die middel van Oktober en sluit op 31 Januarie.
Wat jy moet deurkom
Jy moet ses vakke slaag, waarvan twee amptelike tale moet wees. Hier is die minimum wat jy moet kry:
Drie vakke teen ten minste 40%, een van hulle moet een van die amptelike tale wees en jy moet dit op huistaalvlak neem
Twee vakke teen ten minste 30%, een van hulle moet nog ʼn amptelike taal wees, wat jy op tweedetaalvlak moet neem
Kry ten minste 20% in die sesde vak
Hoe berei jy vir hierdie eksamen voor?
Die lys van 35 vakke waaruit jy kan kies verskyn op die webwerf van die DBE. Jy sal CAPS handboeke moet gebruik om voor te berei van die eksamen. Die departement stel voor dat jy betyds begin en herinner mens dat dit eintlik ʼn jaarkursus is.
Studente wat dit al gedoen het, het sommer handboeke by hulle plaaslike hoërskool gaan leen om koste te spaar.
Dit is ook ’n goeie idee om deur ou vraestelle te werk om voor te berei. Hierdie vraestelle is beskikbaar op die Departement se webwerf.
Waar skryf jy hierdie eksamens?
Die eksamens word afgelê by sekere eksamineringsentrums van die Provinsiale Onderwysdepartemente. Daar is glo ook sekere onafhanklike assesseringliggame wat geakkrediteer is deur Umalusi wat dit kan afneem.
Kry hier meer inligting oor die volwasse matriek.
7. Kaalvoet-matriek vir tuisskolers: maak die lewe self jou universiteit
Hierdie laaste opsie van ‘n matriek vir tuisskolers is net bedoel vir die heel dapperes. Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipisicing elit. Autem dolore, alias, numquam enim ab voluptate id quam harum ducimus cupiditate similique quisquam et deserunt, recusandae.
Lorem ipsum dolor sit amet consectetuer adipiscing elit sed diam nonummy nibh euismod tincidunt ut laoreet dolores cannon adipiscing magna aliquam erat volutpat.



Created with © systeme.io
Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipisicing elit. Autem dolore, alias, numquam enim ab voluptate id quam harum ducimus cupiditate similique quisquam et deserunt, recusandae.