Praktiese Wenke vir Tuisskolers met ADHD

Ek het onlangs 'n konsultasie gehad met 'n tuisskool mamma wat nogals moeg en moedeloos voel.

Sy stoei elke dag met haar 9-jarige seun om enige werk uit hom uit te kry. Hy is baie slim en baie oulik met sy hande! Hy bou graag dinge en het onlangs sy eie motorboot gebou! Wat regtig op water kan motor! Maar as dit kom by stilsit en boekwerk doen, dan is dit 'n reuse gesukkel!

Ek het eerstens vir die mamma gesê dat sy nie alleen is nie. Baie mammas vertel die selfde storie. Huiswerk was altyd 'n nagmerrie van stry en raas, mooi praat en paai. Maar toe kies die mamma tuisskool, maar dit voel vir haar steeds soos die selfde groot gesukkel!

My boodskap is, ons as tuisskolers kan dit anderste doen!

Hier is my praktiese wenke vir julle:

1. Kies 'n tyd wat die beste werk! Laat besige seuns en dogters eers energie verbrand met fietsry of hardloop/rolskaats om die blok. Julle hoef nie 8uur te begin met skool nie. Julle mag eers 10 uur of eers 11uur of eers die middag by die boekwerk uitkom. Laat jou ADHD kind eers buite gaan en iets doen!

2.Speel Brain Games (Breinspeletjies) om die brein te help fokus, en ma en kind se konneksie te verbeter voor julle begin met skoolwerk. Ek beplan om breinspeletjie video's op te neem met my tweeling. Sal hier en op sosiale media plaas. :)

3. Kies elke dag 'n ander vertrek om in te werk! ADHD kinders geniet verandering en novelty. So laat jou kind besluit, vandag werk sy in haar kamer, more die sitkamer, oormore, buite. Jy sal baie beter samewerking kry met so maklike verandering!

4. Kies 'n kurrikulum wat julle nie oorlaai met te veel werk nie! Daar is kurrikulums soos Neuro Me wat ontwerp is vir tuisskolers met leer uitdagings. Wat meer tyd en minder werk gee. Eklektiese tuisskool benadering is wanneer jy jou kind se kurrikulum self bou. Julle kies die boeke en vakke en versamel dit van verskillende bronne. Moenie langer ploeg met oorweldige hoeveelheid werk nie. Daar is maniere meer gepas vir kinders met ADHD.

5. Doen jou kind se gunsteling vak eerste. Bou sy selfbeeld deur om sy beste vak uit te wys en baie geleentheod te gee dat hy daarin floreer! Moenie fokus op sy swakhede nie. As hy sukkel met lees en skryf, maar goed doen met wiskunde, laat hy vorder met sy wiskunde en gee kans dat lees en skryf mettertyd verbeter.

6. Gebruik baie speletjies, baie konkreet voorwerpe, alfabetkaarte, bordkryt en witbordmerkers. Gebruik buite-die-boks benaderinge om lees te verbeter. Nie net potlood op papier nie.

Idees hiervoor is: 

  • bordkryt op die trampolien. 

  • witbordmerker op die glasvenster of op teëls.

  • Flitskaarte en woorde op papiere sodat jou kind sinne kan bou daarmee.

  • Masking tape op Lego of Duplo blokkies met letters. Bou hulle saam om woorde te bou.

  • Skryf met beet of ander eetbare goed op papier! Of skryf met jou vinger in rys of versiersuiker!

  • Verf met kwas en verf of water en 'skryf' woorde so op die muur.

  • Skiet met watergeweer bo oor bordkryt woorde.

  • Skryf teen die muur terwyl die kind staan.

7. Mammas, herhinner jouself van die goed waarmee jou kind oulik is. Hulle redeneer vermoë, memorisering of dinge bou. Gee vir hulle soveel moontlik take en werk in daardie sterk area. Pas die werkstukke aan sodat dit gebruik maak van hulle beste vaardighede. Moenie jy hiperfokus op dit wat nog werk kort nie. Dit sal verbeter soos hulle ouer word en besef dis nodig vir hulle lewe.

8. Lag baie! Gebruik humor om bqnde te bou wat raas en skel gebreek het. Kyk lawwe video's saam. Spring in die swembad met klere aan, dans in die reën!

By jou kind se troudag, gaan mense nie vra hoe oud was hy toe hy kon lees nie. Hulle gaan nie vra vir sy eerste opstel nie. Hulle gaan julle dophou op die dansvloer! So belê meer in julle verhouding en hart-toestand as die akademie!

HI, EK IS JANET KIESWETTER…

Janet Kieswetter is ’n gekwalifiseerde onderwyser, mamma van vyf en die hart agter Kieswetter Klaskamer — ’n opvoedkundige platform wat Suid-Afrikaanse mammas help om tuisskool eenvoudig, lekker en haalbaar te maak.

Met meer as 11 jaar se tuisskool-ervaring bring sy ’n unieke kombinasie van onderwys, spelterapie en kinderontwikkeling saam om gesinne te help leer met vreugde en selfvertroue.

Deur haar kursusse, hulpbronne en gemeenskap, bemagtig sy mammas om met rustigheid te begin en leer weer ’n genotvolle deel van die gesinslewe te maak. 📚

SLUIT AAN BY MY NUUSBRIEF

Oor hierdie blog

By Kieswetter Klaskamer deel Janet praktiese wenke, stories en idees om tuisskool makliker en lekkerder te maak. 🌻

Nuusbrief

💌 Wil jy nie ’n wenk of nuwe hulpbron misloop nie?
Sluit aan by die Kieswetter Klaskamer Nuusbrief en kry inspirasie, praktiese idees en tuisskoolhulpbronne direk in jou inkassie!