← Terug na Janet se skryftafel
Uit Janet se argief

Lewensoriëntering – doen dit self!

2025-01-19 · Janet Kieswetter

Ek is nou meer bewus dat almal voel hulle MOET Lewensoriëntering (LO) doen, omdat ons moet registreer vir tuisskool en almal wil seker maak dat hulle voldoen aan die staat se vereistes.

Ons het nog nooit formele LO gedoen nie. En tog, dek ons als wat in LO geleer word. Hoe weet ek dit? Wel, ons skryf elke jaar Conquesta Olimpiade. Dit behels vraestelle van al die vakke en die inhoud is die CAPS kurrikulum. So, ons het dikwels nie dieselfde CAPS handboeke gehad as wat die skole gehad het nie, maar my kinders kon steeds die Conquesta toetse skryf. 

So, loer ek na die die Lewensoriëntering vraestel en sien maar dit gaan oor kuns en emotionele intelligensie en algemene veilige gewoontes. Ek het gewonder “Neem kinders regtig hierdie as ‘n vak op skool?”

Ek voel dat ons te veel ons kinders se opvoeding oorgehandig het aan die regering. Ek sou so sê, die hoekom ek tuisskool. Maar nou, neem baie van ons die handboeke en vakke wat die staat voorskryf, en leer dit steeds vir ons kinders!

Nou maak baie ouers ‘n bohaai oor die seksvoorligting wat in die LO Caps boeke is. Hulle weier volstrek om dit vir hulle kinders te leer! Dis als goed en wel, maar waarmee verplaas hulle dit? Ek hoop hulle leer wel vir hulle kinders darem iets oor die teenoorgestelde liggaamsdele en hoe prokreasie werk.

So ek noem hierdie om uit te wys, as dit oor sekere taboe onderwerpe gaan, sal die ouer weier om die sillabus vir die kind te leer. Ek stel voor dat ouers die hele LO sillabus in hulle hande neem.

Die drie bene van Lewensoriëntering is:

1. Skeppende Kuns

2. Persoonlike en Sosiale Gesondheid

3. Liggamlike Opvoeding

Kom ons kyk na wat ons as ouers kan bied vir ons kinders in hierdie velde.

Skeppende Kunste

Dis maklik met die Grondslagfase. Kinders van Graad R tot Graad 3 kan baie pret hê met kuns projekte. Daar is geen einde aan die idees vir kinders beskikbaar op die Internet. Klei is baie skeppend. Baie goed vir die verbeelding en kreatiwiteit. Verf het ons altyd in ons huis. Maar dis ook lekker om met bordkryt op swart papier te teken. Of om te verf op materiaal, klippe en bakstene plaas van papier. Knip prentjies uit tydskrifte en kollages plak, is ook ‘n nodige aktiwiteit vir iewers in die fondasiefase. Seuntjies sal moontlik die skeur aksie geniet om gekleurde papier te skeur en plak. Hulle moet vrye teuls gegee word om hulle prentjie te maak nes hul wil!

Ouer kinders sal al dieselfde goed geniet ej nuwe goed kan probeer. Dinge soos weef , brei en hekel. Wol is ‘n lieflike medium vir allerhande projekte. Dit herhinner my dat herwinning bespreek word wanneer ons leë toiletrolle en vrugtehouers versamel om vir iets kunstigs te gebruik. Hoe lekker het my kinders al met bokse gespeel en nuwe goed daarvan gemaak!

Soos my dogters ouer geword het, het hulle op YouTube gesoek vir kuns leermeesters. Ilani het by klomp deskundiges geleer van waterverf en olieverf en nou hoor ek ‘n nuwe woord: gauche! Sy verf ongelooflike prente daarmee. Ek wil haar graag stuur vir formele kunslesse nou dat sy in die hoërskool is.

Persoonlike en Sosiale Gesondheid

Ek sien dat die LO boeke kinders eers leer van die voedselsirkel en wat alles in gebalanseerde etes moet wees. Hierdie is baie belangrik en moet vir seker vir kinders geleer word. Maar eerder as om ‘n toets daaroor te skryf, sal ek my kinders vra om my help om die piekniek kos uit te kies. Ons bespreek die protiën porsie – gekookte eiers of kouevleis op ons toebroodjies of neute – asook die vrugte en groente. Ons praat oor suiwel en hoe ditdit dikwels bydra tot slym as hulle verkoue is. So hulle weet om roomys, kaas en uogurt te vermy tot hulle beter word.

My punt is, ons leef dit! Gesprekke oor kos, wat te veel suiker aan hulle doen en wat kalorië is algemeen. Ons kinders verstaan hoe brand ons energie as ons lang staproetes doen. Hulle lief om te gesels oor die voordele van buite wees, Vit D van die son en die noodsaaklikheid van organiese, hormoon-vrye kos.

Baie van julle kinders wat op plase grootword, ken die goed soos die agterkant van hulle hand. Hulle word daarmee groot.

In Sosiale gesondheid word die kinders van boelies geleer. Ek dink hulle het baie ondervinding met daardie onderwerp. Maar die raad is dikwels, gaan vertel die juffrou of ‘n verantwoordelike persoon. Dit het hulle gesien help nie altyd nie. Ek hoop dat ek my kinders toegerus het om konflik te hanteer. Ek het opsetlik gekyk hoe ek hulle self-vertroue kan gee, (dit sal ‘n blog op sy eie moet wees). Ek het boeke voorgelees oor hoe foute maak ‘n goeie ding is (kyk na Mistakes That Worked: 40 Familiar Inventions & How They Came to Be by Charlotte Foltz Jones).

Ons het die boek oor persoonlikhede, (Surrounded by Idiots by Thomas Erikson) in diepte bespreek. Die boek gee vier kleure vir die mees algemene persoonlikhede en verduidelik hoekom mense se gedrag is soos dit is.  Elke kind weet watse kleur hulle is en het meer lankmoedigheid vir hulle sussies se nukke en skete. 

Hierdie vorm als deel van Persoonlike kennis. Emosionele intelligensie kan van kleins af geleer word, wanneer ‘n maatjie hartseer is, en jou kind gaan oor en sit by haar, of vra wat fout is. Om ander se emosies te verstaan en dit in ag te neem is hoogs emosioneel intelligent! Meskien ia die antwoord om direk met die boelie te praat en vra hoekom is hy so kwaad? Is hy eintlik hartseer oor iets? Wat het gebeur in sy lewe dat hy besluit het om gemeen te wees met ander?

Liggaamlike Opvoeding

Dit verwys na sport. Dit was op ‘n tyd deel van skool. Nou, word dit met tye in skooltyd aangebied as deel van LO. Ek weet omdat toe ek geproef het by ‘n skool, moes ek vir die kinders gewigstoot leer in die LO periode. Hulle was Graad 6 en meeste het vir die eerste keer gewig gestoot. Dit kan ek nog verstaan maar toe ek vir hulle bofbal moes verduidelik, was ek nogals verbaas. Ek het self die soortgelyke kinderspeletjie rounders as kind by my skool gespeel.

In elk geval, leer jou kinders hoe werk sportsoorte wat hulle nie speel nie. Wimbeldon se finale is altyd opwindend! Vrae oor sport in die Conquesta LO toets het my laat besef dat my kinders nie weet hoe werk rugby of krieket nie. Hulle was nog nooit skool toe nie en het nie broers met balle nie. Toe maak ons werk daarvan sodat hulle die sporte nou ken.

Ten slotte

Daar is baie wat mens vir jou kinders kan leer as deel van LO. Ek het nie by godsdiens of kookkuns uitgekom nie. Maar dit vorm ook deel van LO. My raad is om met jou kinders te gesels soos groot mense. Nooi hulle in sekere gesprekke en vra hulle opinie oor goed. Verwag meer van hulle en hulle sal jou verbaas!

So, wanneer ek vir die DVO skryf dat my kinders 6 ure per week LO doen, is dit ‘n skatting van die minste wat ons doen vir LO. Ek reken met al die kosmaak, kuns, daaglikse gesprekke en sport wat my kinders aan deelneem, dek hulle die vak ordentlik!

Sien die oorspronklike artikel ↗