← Terug na Janet se skryftafel
Uit Janet se argief

Onderhoud met Ilani oor haar eerste kwartaal van skool

2025-04-21 · Janet Kieswetter

…nadat sy nog altyd getuisskool was.

Ek het met my dogter Ilani (14) gesit en gevra hoe was haar eersre kwartaal in ‘n skool? Ek gaan die opsomming van ons onderhoud vir julle en myself neerpen.

Mense het aangeneem dat sy skool gekies het vir maats en sosiale redes. Dis nie die rede nie. Intendeel, die sosiale aspek was die grootste uitdaging van haar kwartaal gewees.

Sy het goeie maats wat ook tuisskool. Ons as ouers doen moeite sodat hulle by mekaar kan uitkom en saam kuier. Hulle deel ons waardes en Ilani voel gestig na ‘n kuier met hulle. Positiewe kinders wat mekaar aanspoor om die beste weergawe van hulself te wees. Wat ‘n seën!

Wanneer Ilani skool begin het, word sy in ‘n klas geplaas met kinders van alle soorte agtergronde, geloofsoortuigings en emosionele volwassenheid. Hulle elkeen kom uit skole wat nie vir hulle gewerk het nie. Waar hulle geboelie was of misverstaan was. Hulle dra daai letsels en dit beïnvloed hoe hulle nou optree.

Ons leer Ilani om genade te hê vir haar klasmaats. Om vriendelik te wees met almal. Sy het dadelik ‘n vriendekring gevorm wie saam die nuwe skool kon uit’figure’ en op mekaar steun. Dit het eers baie goed gegaan. Maar soos die kwartaal aangegaan het en die studente mekaar se werk vermoë gesien het, was daar ‘n skuif in vriendskappe en hoe Ilani aanskou was.

Ek dink dat die punte en uitslae wat kinders kry en dan in die klas verband bekendgestel word, onwilkeurig boelies produseer. Ilani her baie vrae beantwoord. Gou kon mense sien dat sy baie kennis het. Tog, as sy werk, was sy die stadigste en laaste om klaar te maak. Deur om net haarself te wees, maak sy vyande. Ek dink die gebeur met baie kinders die wêreld oor. As jy uitstaan vir enige rede, of dit nou rooi hare en sproete is, of goeie punte of brille dra of slegte spelling, dit veroorsaak dat ander kinders jou raaksien en dan besluit of hulle jou gaan omhels of wegstoot.

Ons almal weet, boelies voel minderwaardig en onseker. Hulle twyfel in hulself en daarom boelie hulle ander. Om hulself op te hef deur om ander neer te druk. Ek het nie die oplossing vir boelies nie. Ek weet net hoe om my eie kind te ondersteun en bemoedig na ‘n moeilike dag.

Ilani het verwag dat tieners meer volwasse sou wees. Sy sê tieners tree soms op soos kleuters: baie raserig en stout en emosioneel. Dit was vir haar ‘n groot aanpassing na die stilte en rustigheid van ons huis se ‘klaskamer’. (En ek dog dit was so chaoties en deurmekaar!)

Ilani sê sy het nie besef sy gaan so baie angs en stres beleef op skool nie. Sy het ‘n paar paniekaanvalle gehad wat sy moes deurwerk. Dit was die werklaaiding saam met haar diagnose van disleksie, disgrafie en dyscalculia wat splinternuut was, saam met die gedrag van kinders in die klas wat hierdie stres veroorsaak het. Angsaanvalle maak heeltemal sin as mens al hierdie uitdagings in ag neem!

Gawe juffrouens by die skool het hulle ontferm oor Ilani. Sy was genooi om te kom sit en af te pak gedurende pouse deur een gawe Juffie. Ilani was baie mooi ondersteun en kon drukkies kry of ‘n sweetie en gebedjie in die tye wat sy swaar gemoed gehad het. Sy het die Here se hand gesien in die tye en ek is SO dankbaar aan die onnies by Saintsburg daarvoor!

En al die nuwe dys-woorde wat Ilani mee moes deel? (Om my plasing te lees oor Ilani se Dylexia, dyscalcula, dysgraphia diagnose, volg die skakel: https://kieswetterklaskamer.wordpress.com/2025/02/09/ons-ontdek-nou-dat-ons-14-jarige-disleksie-dysgrafie-en-discalculie-het/ ) Ilani het nuwe toeps (apps) gevind om haar te help met haar leer uitdagings. Speechify wat text-to-speech is. Maar sy het gevind dat sy Google meestal net kan gebruik om vir haar te lees of tik.

So sy het fluks geword en meer gewerk as wat sy in haar lewe gewerk het. Sy het geleer om vinniger te skryf en haar juffies het liefs haar spelling ignoreer en nie dit teen haar laat tel nie. Ek het soms vir haar as skriba opgetree en haar huiswerk neergeskryf soos sy vir my sê wat om te skryf. Dit was vir MY ook moeilik om na ‘n lang dag, nog te help met huiswerk. Ek haal my hoed af vir al die mammas wat help met huiswerk so laat in die dag. Dis nie vir sissies nie!

Sy het besef dat sy tot meer in staat was as wat sy gedink het! Sy het dapper opgestaan, (partykeer was dit nodig om Rescue pilletjies te sluk) en die dag aangedurf. Eers het ek baie oproepe en whatsapps gekry deur die loop van die dag, maar dit het minder geword soos sy haar voete gevind het.

Sy het gedink dat sy 100% vir al haar take moet kry. Dit het haar so laat stres en bekommer as sy nie klaar kon maak met iets nie. Toe besef sy dat daar so baie take en werkstukke is, dat hulle uitbalanseer en haar gemiddeld is toe baie goed gewees!

Omdat punte vir mense saak maak, het ek Ilani se toestemming om haar punte van die einde van die eerste kwartaal te wys. Onthou, Saintsburg is baie anders as staatskole. Daar was nie toetse gewees nie. Daar was klaswerk en huiswerk en breinkaarte gewees. Die skool help kinders voorberei vir hulle IGSCE eksamens wat Ilani eers einde volgende jaar gaan skryf.

Tog, ten spyte van die reuse aanpassing wat skooltoe gaan vir die eerste keer in haar lewe was, het Ilani baie goed gevaar! En dis hoekom ek spog met haar punte!

Ons video het na 18min gestop, my foon se battery was seker te pap. So, toe neem ons weer die laaste 9 min vandag op. En Ilani sê baie positiewe goed in daardie tweede gedeelte.

Ek vra haar die miljoen dollar vraag: is sy spyt dat sy skool toe gegaan het?

Haar antwoord is nee. Sy is nie spyt nie want haar rede om te gaan het nie verander nie. Sy wil ‘n wetenskaplike word en Saintsburg met die Britse kurrikulum is haar weg na haar doelwit toe!

Met haar visie voor haar, kan sy hierdie berg klim! Al is dit kaalvoet met ‘n swaar rugsak van dinge wat met ‘dys’ begin.

Tuisskool het baie goeie goed in Ilani gedeponeer: Veerkragtigheid en deursettingsvermoë.  ‘n Gesonde selfbeeld sodat sy nie deur ander beïnvloed kan word nie. Kennis oor wat sy geniet en graag meer oor wil leer. Genoeg speel en rustyd sodat sy nou hard kan werk.  Sterk familiebande wat haar onderhou deur tawwe tye. Haar geloof in God wat sy nou aan vasklou. En ‘n liefde vir leer wat haar so opgewonde en ywerig maak om elke dag nog te leer!

Ilani besef sy groei deur om skool te gaan en groei is goed!

Sien die oorspronklike artikel ↗