Ons ontdek nou dat ons 14-jarige disleksie, dysgrafie en dyscalculie het!
2025-02-09 · Janet Kieswetter
Soos ek tik, is ek nog in skok. Ons het Vrydag die uitslae ontvang van die opvoedkunidge sielkundige. (Super oulike vrou in Pretoria, Marietha van der Berg.)
Ilani het self vermoed dat sy met disleksie sit. Sy het vir my die simptome wat sy geGoogle het kom wys. Sy het vir my laas jaar gesê dat dit groot inspanning vir haar neem om te lees. Ek het gehoor en gedink ons moet haar seker laat toets.
Maar dit was eers nou, die jaar, waar sy Saintsburg toe gaan en die Britse kurrikulum begin leer, dat die erns van haar uitdagings tot vore gekom het.
Ilani was nog altyd getuisskool. Sy was vir die eerste keer in haar lewe skool toe, nou in 2025. Sy het geleer lees en skryf hier by ons huis met Tippie boekies en my Yummy Alfabet idees. Dadelik kon ons sien dat sy ‘n slim kind is. Baie leergierig! Sy het my laat goed lyk as iemand uitvind ons tuisskool, want sy het slim goed gesê en mense nog altyd beïndruk.
So, ek het nie opgetel dat sy sukkel met enige leerprobleme nie. Ek het gesien dat sy stadig werk en skryf. Selfs geplaas oor dit op Facebook: https://www.facebook.com/share/p/1AqUP6ARHT/ In die artikel, het ek gesê dat ek sien sy werk stadig, maar omdat ons tuisskool is daar geen haas nie. Sy kan haar tyd neem en haar werk geniet. Daar is geen klok wat lui nie, so sy kan twee of drie ure spandeer aan een vak.
Maar omdat dit so lank geneem het, het ek minder skryftake vir haar gegee om te doen. Sy het eerder werkkaarte ingevul as lang opstelle skryf. Sy was ook nie lief vir baie leeswerk nie, alhoewel sy kon lees! Sy het baie maande geneem om ‘n storieboek te lees maar sy het deur dit gekom. Ek besef nou dat ek ‘n wanpersepsie oor disleksie gehad het. Ek dog disleksie beteken mens kan amper glad nie lees nie. Omdat ouer sussie, Janéy, eers op tien jaar oud begin lees het, het ek gedink SY het disleksie. Nou kan ek sien dat sy dit nie het nie. Sy LIEF lees en vind dit ontspannend. Dis nie nou vir haar moeite om te lees nie. Met die nuwe inligting dat Ilani disleksie het, besef ons nou dat Janéy net laat lees vermoë ontwikkel het. Terwyl Ilani op algemene ouderdom leer lees het en dit nie voorgekom het dat sy sukkel met lees nie.
Ilani het geleer deur wetenskaplike video’s te kyk. Die visuele uitbeelding van kennis het so goed vir haar gewerk! Sy het so ‘n breë algemene kennis, as gevolg van YouTube channels soos Crash Course Science en History en Minute Earth. (Daarom glo ek in die voordele van skermtyd vir sekere kinders. Nie alle kinders baat by dit nie. Dit is gevaarlik vir som, maar vir my kind, wat kennis deur prentjies, diagramme en stories opslurp, is YouTube die wonderlikste ding!
Wat is dysgrafie en dyscalculie? Wel, toe my Ilani uitvind dis wat die opvoedkundige sielkundige haar mee diagnoseer, toe gaan soek sy dit dadelik op, want sy wil ook verstaan wat dit is. Ja, ek het haar neergesit en sagkens die nuus met haar gedeel. Haar IK is bogemiddeld maar sy het lae prossesering spoed asook lae werkende geheue.
Liewe ouers, moenie diagnose weerhou van jou kind nie! Bespreek dit met hulle. Antwoord hulle vrae. Ilani het gehuil, maar nie omdat dit haar hartseer gemaak het nie. Sy het gehuil met verligting! Sy lees deur die lysie van uitdagings wat mense met die leerprobleme het, en sy voel bekragtig! Dit IS PRESIES waarmee sy worstel! Sy is nie dom of stadig nie. Sy het ‘n baie algemene, bekende probleem wat die moeilikheid veroorsaak. Daar is ‘n biologiese rede hoekom sy stadig afskryf van die bord; hoekom haar hand moeg raak en kramp na paar minute se skryf; hoekom sy nie maaltafels kan onthou nie. As jou kind hoor dat hulle breine anderste ge’wire’ is en dit verduidelik hulle gedrag, kan dit groot verligting bring!
Dit beteken hulle is nie net stout nie. Hulle is nie sleg nie. Hulle is nie aspris nie. Dis nie dat hulle nie hard genoeg probeer nie! Intendeel, hulle probeer reeds hulle heel beste! Hulle kan letterlik nie anderste nie. Hier is wat Ilani op die Internet gevind het, (sy navors mos als).

Toe Ilani hierdie lees, toe loop die trane want: “Mamma, ek sukkel met elke liewe ding op die lysie!” Sy kon nie verstaan hoekom die ander kinders in die klas vinniger as sy werk nie. Hulle is klaar met die werkkaart en sy is op die vierde vraag.
Ouers, jou kinders kom agter dat hulle anders is as die kinders in hulle klas. Dit help nie jy probeer aangaan asof alles normaal is nie, of afmaak dat daar geen probleem is nie. Hulle sien elke dag dat hulle besiger is, of sleg konsentreer of nie goed kan lees of praat nie. Moet dit nie vermy nie, praat met hulle daaroor! Help hulle om die reuse uitdaging ‘n naam te gee. Normaliseer dit deur om te sê, dit is iets wat pappa of mamma ook op skool mee gesukkel het.
Toe ek Ilani vra of ek mag skryf oor haar diagnose, sê sy dat sy nie skaam voel daaroor nie. Sy verstaan dat dit geneties oorerflik is. Dis nie haar skuld nie.
Alhoewel ek en my man Timothy, nou eers uitvind oor Ilani se leeruitdagings, het die Here nog altyd daarvan geweet. Hy het ons gelei om ons kinders te tuisskool. Tuisskool was die heel beste opsie vir Ilani!
Hoekom? Het tuisskool nie gekeer dat ek haar leeruitdagings vinniger optel nie? Jy mag maar vra. Ek het myself die vraag gevra.
Wel die uitdagings is nou met die bekende drie R’e: Reading wRiting and aRithmatic. (Ons weet hulle begin nie almal met r nie, maar hulle word steeds die drie R’e genoem.) Skool hammer op die drie vaardighede. So ja, skool sou vinniger opgetel het dat Ilani daarmee sukkel, want dit is amper omtrent al waarop skool fokus. Wanneer kinders nie kan lees, skryf of wiskunde doen nie, word ouers ingeroep en terapeute, (en medikasie in baie gevalle), voorgestel. Die fokus word met ‘n vergrootglas geplaas om juis daardie uitdagings te verbeter.
My tuisskool benadering was baie eklekties. Dit beteken dat ek baie ruimte vir Ilani (en al my kinders) gegee het om ander vaardighede te ontdek en geniet! Ek het gefokus om hulle sterkpunte en talente te ontwikkel. Gekweek wat natuurlik verskyn in hulle lewens en nie hulle druk om dinge reg te kry wat moeilik kom nie.
Ilani het al jare ‘n belangstelling in plante en tuinmaak. Sy het nie-fiksie boeke gelees oor groente en kruie groei. Haar belangstelling het haar so gedryf, dat sy graag deur daai boeke stadig gelees het. Sy sê daar was meer prentjies as leesstukke op elke bladsy, so dit het nie haar moed gebreek nie.
Ilani het resepte gevolg en wonderlike disse vir ons gemaak. Weereens, prentjies en kort leesstukkies.
Sy het graag tale geleer op Doulingo. Haar ouditiewe vaardighede is weer sterk. Waar ek verkies om in ‘n boek te lees, luister sy ‘n oudioboek eerder. So om ‘n taal te hoor en dit te herhaal, is vir haar lekker. Sy leer ook graag gebaretaal. Dis heeltemal visuele gesprekke. Simbolies en dramaties. Hoe mooi vir my dat my kind ‘n dowe maatjie het met wie sy graag wil kommunikeer. Sy stuur soms ‘n gebaretaal video om vir haar maatjie iets te sê en so die taal te oefen.
Sy is baie kunstig en so het ek haar baie tyd gegee om waterverf, olieverf en kunstegnieke met potlood en houtskool te leer en beoefen. Weereens, het YouTube haar baie geleer! Daar is deskundiges wat pragtige video’s maak waar mens gratis kan leer! As jy erg teen YouTube is, wil ek jou uitdaag om dit self te ondersoek. Soek enige iets waaroor jy wonder, en besef hoe waardevolle platform dit is! Saintsburg gebruik dit as deel van hulle leermetodologie. En dit werk soos ‘n bom vir Ilani!
Sy het met YouTube video’s geleer hoe om suurdeeg brood te bak. Sy het oor en oor probeer en deur foute gestruikel, en suksesvol aan die ander kant uitgekom. Dit het haar ongelooflike uithouevermoë en veerkragtigheid gegee!
So, ten slotte, die diagnose het ons verras, maar nie die Here nie. Ilani kry nog die heeltyd die beste leer benadering vir haar uitdagings, sodat haar selfbeeld gegroei het in plaas van skade gekry het.
Sy het gekies om na Saintsburg toe te gaan om haar doelwit van studies by ‘n universiteit na te jaag. Die tydsbereking is perfek want sy gaan meer werk en sperdatums moet hanteer oor so paar jaar. Maar Saintsburg het baie kennis en ervaring met leeruitdagings. Hulle is juis ingerig om kinders daarmee te help. Hulle verstaan dat kinders anders leer. Hulle laat toe dat kinders met disleksie eerder luister as lees, so daar is opsies vir tik of verbaal antwoorde gee. Ek is opgewonde om die kreatiewe maniere wat die skool ken en reeds gebruik, te sien. Hulle staan gereed om my kind nie net die beste opvoeding te gee nie, maar ook haar te help dit kry op die maniere wat beste vir haar werk!
Eksamens gaan nie ‘n probleem wees nie want daar is nou konsessies. Die verslag van die opvoedkundige sielkundige (sjoe dis lank om te tik) vereis dat Ilani ‘n ‘Reader’ en ‘n skriba kry. Dis dan nie ‘n voordeel wat sy bo ander kinders het nie, dis ‘n oplossing vir haar handicap. Soos brille vir mense wie sukkel om te sien.
Die diagnose is nie die einde van die wêreld nie, dis die begin van ‘n nuwe een vir Ilani!

