Ek ken die vrees. Ek het ook vir jare gestres en bekommer of ons genoeg doen. Sodat ons nie agter raak nie.
Nou, na 11 jaar se tuisskool, is my oudste in graad 12. Ek het nou ‘n breë perspektief van die skooljare en die inhoud van die werk wat ons CAPS kurrikulum van kinders vra. Ek kan nou met ondervinding praat.
Ek wil graag oor hierdie vrees vir agter raak praat. So paar dinge:
1. Agter wie wil ons nie raak nie?
2. Watse werk kan ons agter raak?
3. En wat gebeur as mens werklik agter raak?
Kom ons gesels oor wie ons graag wil by bly.

Wanneer ons tuisskool mammas bekommer oor agter raak, is dit die skool kurrikulum en die portuurgroep waarin ons kinders val, wie ons nie wil agter raak nie. Ek verstaan dit. Maar dis interessant dat ons ons kinders vergelyk met ‘n kind wat goed slaag op skool. Ons neem nie altyd ons omstandighede in ag nie.
Ek hoor van baie ouers wie begin tuisskool het. En elke gesin het unieke omstandighede. Party kinders was prematuur gebore. Is dit regverdig om te verwag dat hulle leermylpale dieselfde tyd as ‘n voltermyn kind slat?
Of ‘n kind wat in November of Desember gebore is te vergelyk met ‘n kind wat Januarie gebore was? Hulle is werklik amper ‘n jaar jonger!
Om jou kind met enige ander kind te vergelyk, is eintlik nie van waarde nie. Jou kind het unieke talente en uitdagings. Hulle gehoor en sig verskil. Hulle spraak en lees vermoë verskil. Elke kind se samestelling is anders. So met wie presies probeer jy by bly? Die gemiddelde kind in ‘n graad? Of die kurrikulum wat iemand saamgestel het?
Ek geniet om te dink aan klomp slim opvoedkundige dosente om ‘n besigheidstafel wat beplan wat moet als in die sillabus kom. Hulle ken nie jou kind nie. Hulle gee nie om oor die skool of tuisskool padjie wat julle stap nie. Hulle besluit op die inhoud van ‘n kurrikulum. En JY tuisskool mamma, besluit wat beste is vir jou kind.
2. Watse werk kan ons kinders agter raak?
Elke jaar wat ek my kinders tuisskool, sien ek dat ons baie van die werk herhaal van die vorige jaar. Die handboek neem dit net een stappie verder. Mens noem dit die Spiraalmetode van onderwys.
Kyk na wiskunde. Kinders leer oor tyd elke jaar in die laerskool. Eers net die ure van die klok. Dan die half en kwart oor en voor. Dan digitale tyd en sommetjies met tyd. Woordsomme van soveel tyd later. Als is klokwerk. As jy besef dat jou seun in graad 4, nog geen benul het van hoe om ‘n horlosie te lees nie, kan jy vir hom binne ‘n week als leer van ure, minute, dag en nag, tyd minus en plus. En hy sou weer saam ander graad 4’s kennis hê oor tyd.
Óf jy kan vir sy 7de verjaarsdag vir hom ‘n mooi horlosie gee as geskenk en dan soos julle gereed maak vir watookal aktiwiteit, praat julle oor tyd. Soms kom dit van self. En ander kere, gaan kinders se breine net nie tyd verstaan nie. Dan kom hulle steeds laat vir als as grootmense.
Ek het gesien met wetenskap, die selfde hoofopsrifte is elke jaar daar. Kyk gerus op Thunderbolt Kids http://www.thunderboltkids.co.za/Grade4/01-life-and-living/chapter1.html
Die lysie onderwerpe in graad 4, is presies dieselfde lysie onderwerpe in graad 6. Graad 5 is ook dieselfde. So elke jaar word dieselfde onderwerpe bespreek.
Byvoorbeeld fotosintese. O my gooiste, het ons nou fotosintese elke jaar, in elke vorm moontlik behandel. Met diagramme, konkrete voorwerpe en modelle asook video’s self gemaak om die proses te verduidelik. Weereens, as julle eerder eers in graad 6 die hele konsep van fotosintese wil behandel, dan was jou kind dalk ‘agter’ in graad 4 en 5, want hy het nog nie van daarvan geweet nie, maar in graad 6, leer hy dit in soveel diepte, neem tyd daarmee en ken hy dit so mooi, hy kan die les aanbied vir enige iemand.

As gevolg van Spiraalmetode van leer, kan mens besluit om een jaar aan wetenskap te fokus, ‘n ander jaar op geskiedenis en ‘n derde jaar op aardrykskunde. Eerder dieper leer en meer tyd spandeer aan een vak, as om baie vakke te neem en gelyktydig baie inligting by kinders se ore en breine probeer in te forseer.
En daar was tye in ons tuisskool reis, waar ons kuier by familie en my kind sien iets raak in haar niggie se handboek wat sy nog nie geleer het nie. Sy het paniekerig vir my gekyk en gesê, sy ken nie dit nie! Toe sê ek kalm, “ek leer dit vir jou volgende week dan”. Jinne, was sy gemotiveer om daardie klein stuk werk te leer! So dit gebeur.
Ook in ‘n toets aan die einde van die jaar, sal daar ‘n vragie wees wat my kind nie ken nie. “Wat is belydende en bedrywende vorm Mamma?” O sorry, raai maar daai een, ek sal nota maak dat ek daardie vir jou moet leer.
Is dit die einde van die wêreld dat ek gemis het om iets vir hulle te leer? Nee. Mis of vergeet skoolkinders ook werk op skool? Ja. Kan hulle dit op ‘n latere stadium steeds leer? Natuurlik ja!
3. Wat gebeur as mens werklik agter raak?
Dit het so gebeur met my oudste dogter. Lees gerus my joernaalplasing van 2019 ‘Agter haar Portuurgroep, maar voor in die lewe’ . Dit was toe my dogter twaalf jaar oud was en twee jaar agter met skoolwerk was. Ek was bietjie benoud oor haar skoolwerk en soek toe vir ander dinge om op te fokus. Soos haar gawe hart, haar mooi gesindheid, haar sprankel gelukkige menswees. En dit is werklik ‘n prestasie vir ‘n kind wat eintlik baie sou gesukkel het op skool, moontlik geboelie en gebrandmerk word, om dan dolgelukkig te wees! Want hier by ons huis, kon sy net wees. Ons het op haar pas gewerk en sy het ‘n liefde vir skryf en toe later lees ontdek. Sonder druk. En toe die leesgogga eers byt, toe styg sy op en niks kon haar keer nie! Maar dit was totaal in ‘n ander tydlyn as die gewone skoolstelsel s’n.
As jy lees geniet, sal ek die outobiografie ‘Educated’ deur Tara Westover sterk aanbveel. Haar ongelooflike storie van hoe sy groot gemaak was by hulle huis in Idaho, Amerika. Haar ouers het nie die regering vertrou nie en het geweier om haar skool toe of dokter toe te stuur. Sy moes werk vir haar pa in sy skrootwerf tot sy op ‘n dag besluit het, sy wil by ‘n kollege gaan studeer. Sy was 17 toe en moes ALS leer wat nodig was vir die eksamens. Haar ouer broer het haar gehelp. Die storie is skokkend maar ook inspirerend. Dit wys die verskil wat opvoeding kan maak vir ‘n gesin. Sommige van haar familie het besluit om te gaan studeer, ander het nie. Die ‘education’ het nie te laat gekom vir Tara nie.
Haar storie het my gewys dat as jou kind ‘n inner dryf het om te leer, sal hulle als leer wat hulle wil en moet vir hulle toekoms. Dat as ‘n onkundige, paranoiese ouer nie hulle kind kon keer van kollege nie, sal ‘n toegewyde tuisskool ouer nie meer skade doen as dit nie.
En wat ookal jou kind nog nie weet nie, kan hulle vir Google vra. Soos wat ons almal nou, in elk geval, elke dag doen: leer saam ons kinders!
En Janéy? Waar is ons laat ontwikkelaar nou? Sy maak die jaar klaar met skool! Sy lief steeds skryf en werk aan haar eie boek. Sy geniet sielkunde en is gekwalifiseerd as ‘n ‘Teen Life Coach’. Sy is ook mal oor boogskiet en het onlangs van ‘n perd af geboogskiet om berede boogskiet te beoefen! Sy en haar vriendinne wil graag volgende jaar die wêreld gaan beken, verkieslik ‘n Spaanse land want Janéy neem Spaans al vyf jaar lank en wil dit tussen Spanjaarde uittoets.
Sy wil graag ander tieners help om die beste weergawe van hulself te wees!


HI, EK IS JANET KIESWETTER…
Janet Kieswetter is ’n gekwalifiseerde onderwyser, mamma van vyf en die hart agter Kieswetter Klaskamer — ’n opvoedkundige platform wat Suid-Afrikaanse mammas help om tuisskool eenvoudig, lekker en haalbaar te maak.
Met meer as 11 jaar se tuisskool-ervaring bring sy ’n unieke kombinasie van onderwys, spelterapie en kinderontwikkeling saam om gesinne te help leer met vreugde en selfvertroue.
Deur haar kursusse, hulpbronne en gemeenskap, bemagtig sy mammas om met rustigheid te begin en leer weer ’n genotvolle deel van die gesinslewe te maak. 📚
SLUIT AAN BY MY NUUSBRIEF

Oor hierdie blog
By Kieswetter Klaskamer deel Janet praktiese wenke, stories en idees om tuisskool makliker en lekkerder te maak. 🌻
Nuusbrief
💌 Wil jy nie ’n wenk of nuwe hulpbron misloop nie?
Sluit aan by die Kieswetter Klaskamer Nuusbrief en kry inspirasie, praktiese idees en tuisskoolhulpbronne direk in jou inkassie!