Soms is daar groot troebeltye soos die afsterwe van 'n geliefde of groot finansiele swaarkry. Lang chroniese siekte is ook 'n reuse uitdaging vir tuisskool gesinne.
Ek verwys vandag, in die artikel, na die klein sukkeldinge wat tuisskool kom ondrebreek en uitdagend maak. Dinge soos tandarts afsprake en 'n siek troeteldier. 'n Geyser wat bars of 'n pap wiel. Die klein sukkelgoed wat opduik soos dit vir almal maar doen. Maar nou is ons werk by die huis en mammas se aandag is nou meer verdeel as wat dit alreeds is met baie kindertjies van verskillende ouderdomme. Hoe maak mens dan?
Hierdie artikel gaan oor die sukkel van die lewe en wat tuisskolers kan maak ‘when life happens’.
Hierdie was ‘n tawwe week vir my. Ek voel dankbaar, om nou rustig op ‘n Sondagoggend, hierdie in my bed te kan tik.

Maandag het ek my gym oefening kort geknip om na ‘n munisipaliteitkantoor toe te gaan en ons watermeter se lek te rapporteer. Dit moet gedoen word. Ons verloor water en geld by die sekond. En natuurlik gebeur dit dat ek in die verkeerde ry staan en wag en dan gestuur word na ander venster toe en dan weer na derde ry toe, net om voor te kom en hoor ‘our system is offline’. Ek is baie lief vir Suid-Afrika.
Ek kan gewoonlik lag vir die patetiese diens maar toe die dame vir my sê, “please be patient ma’am”, voel ek so onsteld. Ek sê toe: “The thing is, I homeschool my children and they are waiting at home for me. If I’m not there, they don’t work. So how long am I going to have to wait, is it 5 min, 15 min, or should I come back another day?”
Ek voel hoe groei ‘n knop in my keel. Ek voel skielik so emosioneel. En ek besef, dis waaroor ek die sterkste voel in my lewe: my passie om by my kinders te wees en hulle te onderrig.
Hierdie admin neem my weg van wat ek graag wil doen. En dis waaroor ek wil gesels. Die dinge wat in ons pad kom staan, en keer dat ons lekker kan tuisskool. Ek moes Donderdag teruggaan na daardie gebou en ry toe en hulle was weer offline! Toe bel ek weer die nommer waar ek laas 30min gewag her sonder antwoord, en die keer antwoord iemand op die tweede lui. Die lek is uiteindelik gerapporteer, maar ons watermeter is nog nie reggemaak nie.
‘n Ander tuisskool mamma deel dat hulle getrek het.
“Ons het getrêk.. die laste 3 weke was chaos.. ek het probeer skool inwerk, maar in die 2de week toe pak ek maar ons klaskamer op- dit het mamma net uitgebrand.”
In my twaalf jaar van tuissonderrig, was daar baie onderbrekings gewees. Ek dink dadelik aan Takealot wat 3 keer vir ons ‘n yskas kom aflaai het, en elke keer dit beskadig het! Hulle het so gesukkel met die aflaai, en ek probeer afrig en raadgee van die kantlyn. Dit sou snaaks wees as dit nie so uiters frustrerend was nie. Elke keer wat ons die reuse boks oopmaak en die yskas met moeite uithaal, is daar 'n duik in die splinternuwe toestel. Ons moes Takealot bel en vra dat hulle die beskadigde een kom haal en weer nuwe een bring. Die hoeveelheid tyd wat opgeneem was deur huishoudelike dinge!
Daar is elke paar maande ‘n loodgieter of eletrisien of albei by ons. Een jaar het ons die kombuis en badkamer oorgedoen. Oh my word! Julle weet as bouers jou konstant nodig het vir iets.
Wat gebeur met tuisskool dan? Werk my kindertjies soet as ek uit is? Nee! Hulle gaan speel. Ek weet eintlik nie wat hulle doen nie, want ek is nie daar nie! Maar as ek terugkom klaskamer toe, is die jonger kinders skoonveld en die ouer kinders sit vas met skoolwerk. Ek sal dan sê julle moes aanhou met iets anders, moenie net wag vir my nie. Maar daar is altyd verskonings en redes hoekom dit nie gebeur het nie.
So die groot stres van al hierdie gemorsde tyd is dat ons werk mis. Dat kinders by die skool besig is om te leer en werk, terwyl ek my kinders ‘afskeep’.
Dis waar skuldgevoelens en vrese inkom. "Ek is te veel weg, te besig met ander goed. My kinders raak agter." Die negatiewe 'self-talk' kan mens baie onder kry.
Die keer toe ons die yskas laat regmaak het (voor ons nuwe een gekoop het) en ek roep die kinders om met Andy te kom gesels. Hy verduidelik vir ons hoe werk ‘n yskas en wys ons die binnekant.

Ons kinders weet ook hoe lyk ‘n geyser en waar in die dak ons s’n lê. Ek het gewys oor waar gaan die water nadat ons dit by die toilet afspoel. Baie oulike prentjie van die drein sisteem onder ons huise en strate en waarheen gaan die riool.
My kinders sien ook hoe ek met werkers praat en die respek wat ek hulle toon. Ek bied koeldrank met ys aan op warm dae en koppie tee of koffie in die winter. Dis ‘n waarde wat ek trots is om vir hulle te wys: alle mense is geregtig op respek, maak nie saak wie hulle is nie.
Ek het ‘n goeie gesprek met my tieners gehad oor derdewêreld probleme na die “offline” episodes. Ek het my frustrasie met hulle gedeel en hulle het gesimpateer met my stryd. En so sien ek, dat ons ‘kurrikulum’ meer uitgebrei is as gevolg van die lewe.

Toe my tweeling gebore was, het tuisskool tot ‘n stilstand gekom. Ek het geweet om vir myself genade te hê. Ek sou nie my kinders skielik skool toe stuur omdat ons nou twee babas in die huis gehad het nie. Hulle moes eenvoudig ander dinge leer. My 3-jarige was forseer om onselfsugtig te wees en te kyk hoe kan sy mamma help. Sy het geleer om haar eie sap te kry en broodjie te smeer. Dis bitter jonk maar my arms was vol. Ouer sussas het so vinnig gegroei in verantwoordelikheid en emosionele intelligensie. Hulle het gesien hoe maak babas en my gehelp soveel hulle kon.
As ek enigsins ‘n tydjie kon afknyp om vir hulle te lees of hulle lees te luister, was ek so bly gewees! Hulle het geleer om hulself besig te hou. Om inisiatief te neem en kyk wat kan hulle doen. So nou kan hulle pragtig teken en skilder. Hulle het kaartspeletjies met mekaar gespeel. Hulle het buite gespeel. Ek hoef nie idees te gee om besig te bly nie. Hulle het jare terug geleer om iets waardevol te vind om te doen. Hulle het ook beste maats geword, omdat hulle net mekaar gehad het.

As mens net op akademie fokus, gaan tuisskolers stres oor verlore tyd. Want dis waar dat die lewe se gebeurtenisse ons dikwels onderbreek en wegneem van ons werkboeke af.
Maar as ons kyk na ons lewens as ‘n holistiese leerskool waar als wat gebeur ‘n geleentheid is om iets te leer, dan verloor ons niks!


HI, EK IS JANET KIESWETTER…
Janet Kieswetter is ’n gekwalifiseerde onderwyser, mamma van vyf en die hart agter Kieswetter Klaskamer — ’n opvoedkundige platform wat Suid-Afrikaanse mammas help om tuisskool eenvoudig, lekker en haalbaar te maak.
Met meer as 11 jaar se tuisskool-ervaring bring sy ’n unieke kombinasie van onderwys, spelterapie en kinderontwikkeling saam om gesinne te help leer met vreugde en selfvertroue.
Deur haar kursusse, hulpbronne en gemeenskap, bemagtig sy mammas om met rustigheid te begin en leer weer ’n genotvolle deel van die gesinslewe te maak. 📚
SLUIT AAN BY MY NUUSBRIEF

Oor hierdie blog
By Kieswetter Klaskamer deel Janet praktiese wenke, stories en idees om tuisskool makliker en lekkerder te maak. 🌻
Nuusbrief
💌 Wil jy nie ’n wenk of nuwe hulpbron misloop nie?
Sluit aan by die Kieswetter Klaskamer Nuusbrief en kry inspirasie, praktiese idees en tuisskoolhulpbronne direk in jou inkassie!